Hoe om ’n slordige bolla te klits

Liewe vriende
In my sestigs het ek weer lang hare. Dis heelwat veelsydiger as kort hare. Jy kan jou wend tot daardie tydlose staatmaker, die poniestert.
Nou die dag op pad êrens heen is my dogter se lang hare onverskillig bymekaargemaak en ek vra: “Sal jy my wys hoe om so ’n slordige bolla te maak?”
“Nee, hierdie is net tydelik. Ek moet nog my hare doen,” sê sy. “Jy bedoel die messy bun? Jy kry dit net reg as jy nie probeer nie.” En sy vertel van ’n clip waar ’n vrou in haar kamerjas voor die spieël staan en sê: “A quick shower, then I’m off to bed.” Sy maak haar hare bymekaar en steek dit vinnig vas. En siedaar, ’n perfekte messy bun. Waarop sy haar kamerjas ooppluk – daaronder het sy uitgaanklere aan. “Ha, fooled ya!” roep sy.
Want vandag streef ons nie meer na netjiese bollas soos Miss Havisham of Juffrou Rottenmeier nie. Of Miss Grundy in die Archie comics. Ons wil tog net nie anaal, perfeksionisties en rigied oorkom nie.

Ek dink heelwat dinge in die lewe is soos die slordige bolla. Jy moenie te hard probeer nie, dit moet net gebeur. In die oomblik.
Ek predik nie luiheid nie. Hoor my lied; jy moet jou beiteltjie slyp. Jy moet 10 000 uur insit om jou ambag te vervolmaak, jy moet eindelose vingeroefeninge doen. Maar wanneer jy gaan staan om 'n gholfhou te slaan, wanneer jy voor die klavier plaasneem, of toetsbord, moet jy ontspan. Alles moet wit en stil word. Spiergeheue moet inskop. Suiwer refleks. Jy moet ruimte laat vir intuïsie en toeval.
Die brein is ’n wonderlike orgaan, maar uiters beterweterig. Soms moet jy hom systap, of fnuik. Span hom in, maar skelm. Wanneer jy skryf moet die verbinding tussen brein, vingers en sleutelbord so vaartbelyn wees dat aanvoeling kan oorneem. Niks moet in die pad van die muse staan nie, veral nie ’n hoofseun van ’n brein wat te hard probeer om die trom te slaan nie. Die brein is ’n strewer, ’n oorpresteerder, daardie kind in die klas wie se hand altyd in die lug is. Sinapse moet jou vingers help om flink oor die toetse te dans en dan moet hulle uit die pad bly.
Die geheim is dat alles wat harde werk verg, moeiteloos moet lyk. Terloops. Terloops is cool. Dis soos bed hair. Dit kom ook nie vanself nie. Regte bedhare het ’n bleskol agter waar jy die gô uit die kussing geslaap het. Die bed hair look gaan gepaard met haarprodukte, klits en rangskik. Dissipline en vaardigheid.
Ek het gelees 75% van alle mense het nie ’n innerlike dialoog wat dag en nag aankarring nie, omdat hulle nie in woorde dink nie, maar in beelde, gevoelens. Is dit wollerige denke, in prentjies, soos ’n hond wat droom? Nee. Prentjiedenkers kan visuele kunstenaars word en die beelde agter hulle retina verewig sonder dat woorde in die pad staan. Dis nie ondergeskik nie, dis net anders.
Ek dink die slordige bolla-beginsel geld veral vir visuele kuns. Ek weet van ’n kunsklasoefening waar jy met jou linkerhand teken, of toe-oë, of onderstebo, om jou brein te systap. Dan pluk jy daai kamerjas oop en sê: Fooled ya! Die ideaal is om argeloos en ongeïnhibeerd te teken en verf soos ’n kind, met 'n ingeoefende vaardigheid.
Terug by skryf. Mooiskrywery stuit my teen die bors. Wanneer jy kan sien die skrywer, 'n wandelende tesourus, het die keurigste woorde uitgesoek en vir effek kunstig saamgevoeg, soos ’n formele blommerangskikking. Nou moet ek sê, as jy blomme en takke argeloos saamgooi in ’n vaas, moet jy ook weet wat jy doen, anders lyk dit soos vloedrommel. Jy rangskik met jou maag, nie met jou brein nie. En as 'n stortvloed van die allermooiste woorde soos 'n fontein uit jou vingerpunte tuimel, hou jou in. Sny. Minder is meer.
Hierdie is my mening oor skryf. Ander mense skryf anders.
Waarin ek belangstel, is elegante denke (ja, met die brein) maar wat die smal poort van die onderbewuste deur is en reguit uit die hart of heup opklink. Asof moeiteloos. Dit neem ’n leeftyd se oefening. Skoolopstelle het ons opgefok. Jy moes byvoeglike naamwoorde inspan en ’n aanneemlike prentjie skets, soos ’n outydse plakker van ’n ruiker op ’n bloemlesing. Maar nou, ’n leeftyd later, skud ek daai bolla los.

Terwyl ek nou nadink oor skryf: My jongste dogter se kêrel wat met data werk en neigings analiseer, vertel my hy het altyd gedink sy werk gaan oor kodering. Maar toenemend besef hy dit gaan oor linguistiek. Woorde, taal. KI kan uitstekend en blitsig kodeer. Wat hulle nodig het, is ’n mens om opdragte te gee, en verkieslik in duidelike, ondubbelsinnige taal.
Om jou begeerte te verwoord, dis die ding. Sekuur. As jy dit kan doen, is jy halfpad daar. En taal is die instrument, soos vir ’n skrywer. Dit maak my baie gelukkig; woordvraat wat ek is.
Maak los jou hare en klits ’n slordige bolla, sonder om in die spieël te kyk.
Groete
Deborah

Die grammatika van liefhê
Liefhê is 'n tangkonstruksie
as eenwoord-samestelling 'n abstraksie.
Die eenwoordsin-imperatief
is nypend ongrammaties: ”*Hê-lief!”
(So 'n sterretjie, ontaalkundiges,
lig u toe dat 'n sin ontaalkundig is.)
Lief-hê (s)kort dus 'n onderwerp
en hê is – met onderwerp – onderwerp
soos wees, wat is word, aan deklinasie,
ouderwets, maar glo-nodig vir kombinasie.
Dus: ”Jy/hy/sy het-lief.” Korrek?
Nee, 'n voorwerp ontbreek, naamlik ek.
Maar die eerste persoon word verbuig,
as lydende voorwerp raak ek my.
“Jy het-lief my.”?
Nee: Het en lief word deur my geskei.
Alleen as ek vra: ”Het jy my lief?”
kom jy my naby – byna-byna.
Het jy dit nou? Begryp jy?
En het jy nou my
en het jy my nou
lief, of liefgehad? Of sou jy, wou jy?
Is liefhê 'n te “groot” woord vir jou, te lank?
Kort ons iets korters, met minder klank?
Iets soos min. Min jy my?
Of is jy dalk my aan’t vermy?
Een min een, dag ek, maak twee
of reken jy een min een maak niks?
Iemand minus iemand gee niemand.
Een minus 'n ander
min vinkel en koljander
saam-saam geeneen saam.
J.C. Steyn
Uit Die Groot Verseboek