Het jy die spieël gesien en ken jy jou?

Liewe vriende
Ons leef in weggooi-tye. Alles is verganklik en vervangbaar, met ingeboude veroudering, soos mense – hoewel nie alles organies en vergaanbaar is nie.
Ons neem meer foto’s as vorige geslagte en baie minder van ons foto’s bly behoue, noudat tasbare albums uitgedien is. Ek neem nie meer myself af nie. As jy nie ’n selfie-stok het nie, lyk jy soos ’n goudvis in ’n bak wat bolwang en verwonderd naderswem.
Die prentjie wat ek van myself in my kop het, stem nie met die werklikheid ooreen nie - foto's maak dit duidelik. Is ek mooi en onfotogenies, of onmooi en fotogenies? Videos is nog pynliker om na te kyk. Daardie koponderstebo strompelaar wat so kras skaterlag met dubbelkenne, hande wat flap soos vinne, is dit ek?
Geen wonder nie my selfoon sê amper daagliks vir my: Face doesn’t match. Dit word ’n bestaanskwessie. Soos Sproetjies se vryer vir haar gewens het, wens ek ek kon my deur haar oë sien.
Nou een nag droom ek ek werk vir ’n internasionale maatskappy wat van my verwag om ’n hooggeplaaste Moslem-afgevaardigde op die lughawe te gaan haal – in ’n burka. Ek loop deur stegies in die Bo-Kaap en kom uiteindelik op ’n winkeltjie af wat burkas verkoop. Peperduur, nogal. Ek trek dit aan en betrag die wêreld deur ’n posbusgleuf. Ek ontmoet my ma en (oorlede) pa vir middagete. My ma se eerste woorde: “Jy lyk onmiddellik 90% minder aantreklik.” En ek antwoord lakonies: “Dis die hele idee.”

In drome sien ’n mens jouself soms van buite, soos ’n karakter in ’n fliek. Jy herken jou aan ’n onbenullige detail soos jou geliefkoosde trui, en aan die feit dat die kamera se hoek soms verander, sodat jy vanuit jou kop neerkyk op jou geliefkoosde trui. Jy lyk nooit juis na jouself nie.
Wat my nader bring aan die vraag wat my terg: Kan ’n mens jouself regtig van buite sien, soos mense in ’n skyndood wat van êrens teen die plafon neerkyk op hulle roerlose lywe? Jou gees en liggaam is tog twee verskillende entiteite en moet soms kan skei. Ek lees op die internet ’n lesersvraag daaroor, en die volgende antwoord:
first time I experienced what your really asking.. I was 6 Yrs old.. I was climbing a tree with my friends in their front yard .. my back yard across the street from them was to the woods..I'm in a tree. And the next moment.. I see myself in the tree from someone else's view of me…in the tree.. happens alone throughout my life.. freaked me out so bad.. happens mostly when I'm in danger but happens a lot. Always when negative energy is around.. at least I know where they are!!
Bietjie onsamehangend, maar ek ken die gevoel. Ek het dit ’n paar keer in my lewe ervaar. Twee kere wat ek duidelik onthou, was toe ek (letterlik) buite myself van woede was. Albei kere is my woede soos ’n binneband afgeblaas deur die feit dat ek myself opeens van bo gesien het; skril, hees en piepend aan die skel, skaars daartoe in staat om woorde te vorm. Dit was nie ’n mooi prentjie nie en het my teruggekatrol in my lyf.
Moenie eens vir my sê: Dans asof niemand kyk nie. Ék kyk na myself, met die volle inset van my WitAngloSaksieseProtestantse hoofprefekpersoonlikheid, en ek keur dit nie goed nie. Die beat kan gaan slaap, dit gaan nooit in my murg en been vibreer nie. Ek skuifel soos iemand wat moet kamerverlaat.
Dieselfde het gebeur toe ek dagga probeer. My Uberego, daardie biblioteekprefek, het van bo op my neergekyk waar ek soos ’n hiëna lag vir goed wat glad nie eens snaaks is nie, en haar kille afkeer het die lag laat stol in my keel, naatloos laat oplos in vervolgingswaan.
Ek hou van rooiwyn. Die skerp kante word net effens versag en ek vergeet om myself dop te hou, ek lag sonder inhibisie. Die hoofmeisie op my skouer verloor belangstelling. Miskien vat sy ook fles.
Dis eenmaal so, vriende: Soms voel ’n mens nie heeltemal jouself nie. Soms gaan jy jouself te buite, soms verloor jy kop, soms herken jy nie jouself op die klasfoto nie.
In the glass I saw a strange reflection – was that lonely woman really me?
Gisteraand droom ek ek kyk in ’n ou hangkas se spieël en ek is beeldskoon, van binne belig soos ’n katedraal. Wens ek kon daardie foto vir my selfoon wys. Sproetjies, liefling, jy’s lieflik.
This is not the winter of our disco tent. Dis ’n lang en uitdagende winter van die siel. Dis soos ’n Covid van die gemoed. Ons is ingeperk tussen huis en hospitaal. In grendelstaat. Ons meet ons dae in koffielepels. Ons het soveel verloor.
Ek lees ’n aanhaling van Nick Cave, daardie hoëpriester van melancholie:
As we grow older, loss becomes a primary condition of living. That doesn’t mean you’re in a hopeless, grief-stricken state all the time; it just means that you carry a deeper understanding of what it is to be human.
Hier en daar put ons vreugde uit lukrake goed soos hierdie foto:

Daar is ook genade. Grasie. My persoon se CT-scan en toetsuitslae kom terug: Skoon. En ek ontdek in my (virtuele) galery ’n laaste foto van Bakkes en my en dit maak my bly.

Liefde
Deborah


Uit: Allofrasie
D. Dit denken aan u wil zuiver zijn
Beauty, and love, are like distress.
Dit is geskryf met die diepste eerbied
by die bedwing van ons ergste verdriet.
Distress, like white powder, is noiseless.
Dit is iets wit en stil en allerliefliks
wat weg is. Die liefde bedek niks.
T.T. Cloete