Gode, lyke en kantore
Read the article in English here.
Wanneer die lewensstorme woedend om jou slaan en jy in ’n emosionele krisis gedompel is, is jou kop te besig en jou gemoed te vol om te lees. Jy fokus op oorlewing, elke sel in jou liggaam is ywerig besig om hoop te versamel, om te glo in ’n goeie uitkoms. So is dit met my in hierdie dae. Ek lees min.
’n Boek wat wel, in sarsies, my aandag behou het, is The Homemade God deur Rachel Joyce. Hierdie skrywer het beïndruk met Mrs Benson’s Beetle, een van daardie romans wat my bybly. Sy is ’n lewende skat.
The Homemade God handel oor die ingewikkelde dinamika in families, tussen sibbe en kinders en ouers. Die vier Kemp-kinders het dit nie alte gelukkig getref nie. Hulle ma is dood kort na die geboorte van die jongste sussie, Iris. Hulle pa, ’n flambojante kunstenaar wat die bottel hard slaan, was finansieel daar vir hulle – sy effe soetsappige erotiese skilderye het soos soetkoek verkoop – maar emosioneel was hy of distant of het te veel intense, maniese fokus op hulle gevestig. Hulle was op mekaar aangewese en tot vandag toe heg en innig verbind. Tot hulle pa, Vic, in sy laat sewentigs op Bella-Mae verlief raak en halsoorkop met haar trou. Sy is 27, 50 jaar jonger as hy en selfs jonger as Iris. Sy is glo ’n kunstenaar en sy brou kruietees wat Vic teen ’n onstellende tempo laat gewig afskud. Hy hou op drink. Die kinders het haar nie ontmoet nie en is nie genooi na die impulsiewe troue in Italië nie.
Hulle ontmoet haar eers nadat hulle pa op sy wittebrood misterieus in die meer verdrink by hulle vakansiehuis in Italië. Net Bella-Mae en haar geheimsinnige neef was in die omtrek. Vic was ’n sterk swemmer. Alles lyk verdag, veral omdat sy jong bruid die hooferfgenaam is en die villa in Italië, die geliefde vakansiehuis van hulle kinderjare, nou aan haar behoort.
Hulle problematiese, onweerstaanbare pa was die spil waarom die kinders se lewe gedraai het, waarop hulle identiteit geskoei is. Ons verwyl tyd in elk se kop. Die oudste, Netta, is ’n hoofmeisie, die leier, ’n suksesvolle advokaat met ’n eksie-perfeksie lewe, hoewel die liefde van haar lewe haar gelos het vir ’n man. Hy is intussen aan vigs dood en sy minnaar is nou haar beste vriend en getroue metgesel. Die broer, Goose (of Gustav soos hy homself nie kon noem toe hy klein was nie) is soos sy pa, groot van postuur, maar anders as Vic is hy teruggetrokke en sonder selfvertroue. Hy is gay. Die tweede suster, Susan, was nog altyd in Netta se skadu. Sy het met ’n veel ouer man getrou en nooit kinders gehad nie. Iris, die jongste, is effens verlore op aarde, ’n vry gees. Behalwe vir Netta, was die kinders se pa hulle finansiële stabiliteit.
Nou vlieg al drie kinders na Italië.
Bella-Mae is anders as wat hulle hul voorgestel het. Volgens haar was dit haar pa wat haar van hulle weggehou het. Sy is beeldskoon en uitgesproke. ’n Moeilikheidmaker. Gou-gou bring sy verwydering tussen die kinders. Hulle is op soek na hulle pa se testament en wantrou haar, hoewel sy sommige van hulle se guns wen. Sy is besonder hipnoties en sjarmant.
’n Mens lees om agter die kap van die byltjie te kom en jou as koekeloerder te verdiep in die komplekse gesinsdinamika. Dis ’n roman vol insig, intelligensie en humor. Ek beveel dit hoog aan.
The Homemade God deur Rachel Joyce is deur Doubleday gepubliseer en kos R390 by Exclusive Books.

Behalwe vir sielkundige rillers oor familiedinamika kan misdaad ook altyd ’n mens se aandag behou in uitdagende tye. Ek het Michael Connelly, daardie meesterstoriewewer, se Nightshade ook gelees.
Speurder Stilwell van Los Angeles se moord- en roofeeenheid word gepos na Santa Catalina-eiland om uit die moeilikheid te bly. Die eilandpos is redelik uitsigloos, met geen hoop op bevordering nie. Daar gebeur nie veel in hierdie idilliese vakansiebestemming nie, tot duikers op ’n vrou se lyk afkom, verstrengel in ankerkettings. Dis nie Stilwell se saak nie – sy voormalige kollegas van LA word ingeroep. Hulle is twee bombastiese, lui lummels. Hy weier om bes te gee, soos al ons gunstelingspeurders, en stel in sy privaat hoedanigheid ondersoek in. Hy word natuurlik self ’n teiken van die plaaslike mafia en skop heelwat byneste oop.
Sy ekskollegas arresteer sommer gou iemand vir die moord, maar hy besef dat hulle die kat aan die stert beet het. Sal hy bly leef om hulle verkeerd te bewys? Dis ’n resies teen tyd, dis hoogs spannend en die karakters is skerp geteken. Die leser is in die hande van ’n meester in die genre.
Dit het my wakker gehou en ek beveel dit hoog aan as jy ’n misdaadvraat is.
Nightshade deur Michael Connelly is deur Orion Publishing Co uitgegee en kos R465 by Exclusive Books.

Nog ’n boek wat my gefassineer en van my probleme laat vergeet het, was Counter-attacks at thirty deur die Koreaanse skrywer Won-Pyung Sohn. Die verteller, Jihye, is dertig en heeltemal gemiddeld. Daar is niks besonders omtrent haar nie. Sy het so-so gevaar op skool en nie toelating tot die beste universiteite gekry nie. Sy het gesukkel om werk te kry en is tydelike wernemer by ’n kollege, as administratiewe beampte wat merendeels lesingnotas moes fotostateer. Dis ’n verkenning van kantoorpolitiek en die dodelike Koreaanse burokrasie. Sy blink nie juis uit in haar werk nie, maar begaan ook nie katastrofale flaters nie. Sy rol maar haar oë en dra koffie aan.
Alles verander wanneer ’n nuwe intern aangestel word: Gyuok Lee, ’n beer van ’n man met min ambisie en anargistiese neigings. Hy en Jihye neem saam ’n ukelele-kursus (interns mag ’n gratis kursus per jaar neem, maar eintlik word dit van hulle karige salaris afgetrek). Hoor hoe besin sy oor die ukelele:
We held our instruments up to our ears as we competed against the noise. And then one day while doing this, a thought occurred to me. Perhaps that’s life: plucking away at a four-stringed instrument by yourself and making soft yet crude sounds while competing against others doing the exact same thing, all in a vain attempt to hear just a whisper of your own voice.
Om alles te kroon het sy ukelele begin leer omdat sy soos Audrey Hepburn in Breakfast at Tiffany’s daarop wou speel. Net om uit te vind dit was nie ’n ukelele nie, maar ’n mini-kitaar waarop Hepburn in die fliek gespeel het. Die boek is deurspek met hierdie soort ondermynende humor.
Jihye, Gyuok Lee en ’n paar kantoortrawante begin klein en simboliese dade van verset en vergelding uitvoer – counter-attacks teen diegene in posisies van mag. In die proses ontdek hulle die vreugde van vriendskap. Dis ’n heerlike boek wat ek hoog aanbeveel.
Counter-attacks at thirty deur Wong Pyung Sohn is deur HarperVia uitgegee en kos R579 by Amazon SA.


Dat alle liefde
Dat alle liefde moet verlore gaan
en wegwaai in die wye lug,
waar hierdie dooie ster sy norse vlug
neem deur die stiltes van sy baan-
dit is die vrees, dit is die eensaamheid
wat my, geboë, met die hande krom
rondom die kersie van ons liefde, stom
laat skuil in kleinlike verlatenheid.
N.P. Van Wyk Louw