Gesig in 'n fles

Liewe vriende
2025 is in sy doodsnikke. Ons is oor die hond se stert. 'n Stert is gemaak om te swaai. Maar o, die vrolikheid, o, die saligheid is vir sommige mense heeltemal te veel gevra. Flonkerende ligte, blêrende Boney M en skaterende samesyn is in té felle kontras met die landskap in hulle binneste. Te midde van glinsterende feestelikhede voel hulle eensamer as ooit. Alleen soos 'n alien.

Toe ek jonk was, het vriende een aand gesit en woorde en musiek skryf. Ek onthou net die eerste reëls van 'n roerende song wat gebore is: November is 'n hartseer maand / met Kersfees om die draai / Skeel Hetta sit weer aand vir aand / deur die sterre voorspel en blaai ...
Vandag hoef Hetta (ons praat nie meer van skeel nie) nie meer deur die sterre voorspel te blaai nie. Sy kan haar hart uitstort teenoor haar KI-metgesel. Hopelik is haar bot mooi geprogrammeer en moedig hy haar nie aan om 'n einde aan alles te maak nie.
Mense is aanmekaargesit om te konnekteer, te behoort, nie alleen te wees nie. John Steinbeck het die volgende gesê en dis ook waarom ek lees en skryf:
We are lonesome animals. We spend our life trying to be less lonesome. One of our ancient methods is to tell a story begging the listener to say – and to feel – "Yes, that's the way it is, or at least that's the way I feel it. You're not as alone as you thought."

Alles en almal smag na verbinding. Soms, as ek nie kyk nie, bel my foon iemand. Jy sal my dalk nie glo nie, maar nou die dag staan ek met iemand en gesels toe haar foon lui. "Jy bel my," sê sy. Ek kyk in my sak maar nee, ek het my foon in die kar vergeet. Ons stap daarheen en daar lê my foon en bel.
Iemand wat ek ken wat aan depressie ly, vertel my in grendeltyd was sy minder hartseer, want soveel mense was depressief. Sy was soos almal geïsoleer, maar sy was nie meer alleen in daardie boot nie. Sy het altyd gereken die wêreld is gevaarlik en ongasvry en nou was sy reg bewys.
Ek het eers onlangs Alexandra Fuller se fabelagtige Scribbling the Cat gelees. Ek wil 'n paragraaf aanhaal:
I went through to the kitchen – exiled by who I was – and made some tea and sat on the sofa with a blanket over my knees. It was the time of night that precedes dawn and is without perspective or reason. It was the hour when regret and fear overwhelm hope and courage and when all that is ugly in us is magnified and when we are most panic-stricken by what we have lost, and what we have almost lost, and what we fear we might lose.
Ek ken daardie uur.
Een van my gunstelingliedjies van die Beatles is "All the Lonely People" oor Eleanor Rigby wat die rys optel in die kerk waar die troue gehou is. Wearing the face that she keeps in a jar by the door. Who is it for?
Jy is nie alleen nie. Die wêreld wemel van damn sad songs vol eensame mense, soos die mense wat alleen huis toe drentel in "Streets of London" van Ralph McTell. Soos kroeggangers in Billy Joel se "Piano Man": "Sharing a drink they call loneliness, but it's better than drinkin' alone".
Kom ons beur blymoedig voort deur die feesseisoen, vermy die landmyne in familiesamesyn en gee iets van onsself. Soms is 'n wuif of 'n glimlag genoeg. 'n Opbouende woord, 'n hand op die skouer.
Ek deel 'n stokou grappie: Wat noem jy 'n Honda met net een sitplek? Ballade vir 'n enkeling.
Geknersde Senuwees vir almal. Skakel af die nuusbulletins en kom sit aan ons tafel: Hetta met die dwaaloog, Het van Verlangekraal, die swart pelgrim, die ongewenste vreemdeling, die ou man buite die seaman's mission, die ou girl met vuilgoed in haar hare en haar klere in flarde, Eleanor met haar gesig in die fles, almal se pel in die Royal Hotel, Tronelle van Die katartiese metode. Almal is welkom. Laat ons skyn vir Jesus. Maar as jy soos die tortel jou water troebel drink en in jou klein hoekie wil sit en huil, dan mag jy. Ek sal vir jou 'n stukkie Kerskoek hou.
Liefde
Deborah

Eensaamheid
My vuurtjie en ek is op wag –
my vuurtjie en ek alleen;
die awendster
wink al van ver
en die velde slaap omheen.
En stadigies sterwe die dag,
soos een in sy armoed verlaat,
ongesien, ongeag,
sonder suggie of lag,
waar niemand van weet of van praat.
Nou bly die lug alom
in stil aanbidding staan –
geen tampende bel
wat die ure tel:
net die sterre wat kom en gaan.
Die osse, met koppe gebuie,
herkoue nog stil in die nag,
tot één vir één buk
en gaan lê by sy juk,
met 'n sug, na die trek van die dag.
My vuurtjie is al wat nog leef
in die eindeloos ruim met my,
en sy stemmetjie dwaal
soos 'n deuntjie wat draal
om dae lank verby.
Om jonkheids blye môre
en laggies lank verlewe,
Dan voel ek 'n traan
in my oë staan
en ek fluister; “Heer, vergewe!”
Die slapende velde lê wyd,
en wyer die donker see,
wat my vuurtjie en my
vanawend skei
van die wêreld se vreug en wee;
ek weet daar’s fees vanaand
in menig verligte saal,
maar geeneen wat my mis
by die dans en die dis –
'n balling vergeet en verdwaal.
Maar al is ek, ver van die skaar,
in eensaamheidswoning getrede,
ek voel my soos een
met die Heer alleen –
'n kind aan sy boesem tevrede.
Jan F.E. Cilliers