Gee aan daai spaan

Gee aan daai spaan
Foto deur Slava Jamm / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Wanneer ek ’n nuwe bladsy in Word oopmaak, tik ek blitsig een letter sodat ek ontslae kan raak van die voorstelle en hulpaanbiedings van die oorywerige KI-copilot. Ek het dit uiteindelik reggekry om Word se verstektaal te verander na Afrikaans. Ek is so moeg dat dokument outomaties na document verander word, planeet na planet, depressie na depressive, lieflike na lifelike. Praat van valse vriende. Môre spring dit waarskynlik weer terug. So ontwortel ons daagliks die kremetarte wat op ons klein planeet opskiet.

Dis nag in Oktober en ek rol rond, slapeloos oor vanjaar se dol gedoentes op ’n gekkerwordende planeet.

Ons is nie weggeraap nie, want, soos my ouma sou sê, die maat van die sonde is nog nie vol en die ongeregtigheid versoen nie. Dis uit die boek van Daniël.

Ons ambassadeur in Frankryk het in Parys uit ’n hotel geval nadat die venster, wat verseël was, met 'n skêr oopgedwing is. 22 verdiepings ver tot in die binnehof. Dis hartseer en morsig, maar nou hoef hy nie te antwoord op aanklagte dat hy die polisiediens gekaap het toe hy minister was nie. En niemand kan in verleentheid gestel word deur sy getuienis nie. Indien hy self gespring het, moes hy miskien maar gewag het, want min korruptes ry aan die pen. Klagtes teen kartelbase word teruggetrek. Fluitjieblasers sterf in ’n koeëlreën. Hospitale word afgebrand om van bewyse ontslae te raak. Sindikate wys tande. Swendelaars spring op soos paddastoele.

Mense word om die bos gelei deur vriendelike Afrikaanssprekendes wat jou bel, glo van jou bank, en waarsku dat daar verdagte aktiwiteite in jou rekening bespeur is. As jy die hulplyn bel, antwoord dieselfde persoon. Die beller beskik oor al jou inligting; wanneer die rekening oopgemaak is en waar, wie die noodkontak is en so meer.

’n Vriendin het R50 000 op dié manier verloor. Die bedrieërs is Afrikaans, maar darem vreemdelinge. Ek is ’n paar weke gelede so hittete deur ’n naby familielid uit meer as R200 000 geswendel. Op die nipper het ek onraad vermoed en kop uitgetrek. Ek het nog nie weer met die persoon gepraat nie, maar kry ’n WhatApp: Ek is baie lief vir jou en sal nooit verwag dat jy geld leen nie. Verlang net.

’n Mens moet wakker slaap, of glad nie slaap nie. Nomowake is ’n pil wat ek oor die toonbank koop om die laaste trein na droomland te haal. Soms is dit ’n kort besoek. Dan lê ek maar wakker en dink oor mense wat ek liefgehad het, wat ek laat gaan het oor ’n beuselagtigheid, of oor growwe bedrog. Oor mense wat doodgegaan het. Oor mense wat ek nie kan laat gaan nie. Oor mooi woorde, maar meer dikwels oor kwetsende woorde - hulle rakleeftyd is soveel langer. Die eggo’s kom eindeloos oor die heuwels aangerol.

Ek het ’n post-apokaliptiese roman gelees oor ’n era waar die mensdom reeds uitgesterf het en KI hulleself verbeter en voortplant op ’n aarde wat besig is om te genees van die wonde wat mense haar toegedien het. In hierdie landskap het kunsmatige intelligensie, met dié dat hulle selfbewussyn toeneem, ook al hoe meer paranoïes geraak, laer getrek, faksies gevorm en mekaar begin uitwis. Hulle is immers na ons beeld geskape.

Ek lê en dink aan oomblikke wat uitstaan in my week: Cheslin Kolbe se skaapagtige uitdrukking toe hy, nadat hy doodgedruk het, die bal skepskop na die inskopper, reg in die hande van ’n aanstormende Puma wat oorval vir ’n drie. Ons sien ’n advertensie vir ’n stomende nuwe TV-reeks: Plaas van passie. Iets pla my aan die titel. My persoon, skerp soos immer, lê onmiddellik haar vinger op die wond: “Plás van passie.” Ek kry ’n e-pos van Hettie Scholtz. ’n Boodskap van die Goeie Fee van Boeke bevat altyd goeie nuus.

Ons kan nie meer na die nuus op TV kyk nie. Beelde van Gaza wil my laat opkrul en huil om nooit weer op te hou nie. Ek kan Netanyahu net nie meer aanskou nie. Hy trek al sterker op ’n oorle' tante van my. Sy was ’n skelm, kwaadaardige rissiepit met ’n skeermestong, immer doenig met donker konkelwerk. Venynig en haatdraend. Vergeldend en wraakgierig. Moenie by my kom praat oor God se uitverkore volk nie. Miskien is hulle die wrokkige God van die Ou Testament se mense, ja.

Die hakekruis het bo-oor die ster van Dawid geskuif. Oral aan die stuur van sake staan veglustige vigilantes met bloedbelope oë en monde soos aandagstrepe. Ons een professor het altyd vertel van ’n soldaat met die naam Smite Them Hip and Thigh Oh Lord. Hy was ’n 17e eeuse Engelse Puritein. Smite-them-hip-and-thigh-O-Lord Smith.

Die Israeliese vloot het bote wat hulp na Gaza wou dra met waterkanonne en hommeltuie aangeval en voorgekeer en die passasiers aangehou, onder wie die Sweedse klimaatsaktivis Greta Thunberg en Madiba se kleinseun Mandla Mandela.

Vroeg Donderdagoggend is berig dat 30 bote nog sterk op pad Gaza toe was, 46 seemyl vanaf hulle bestemming. Vrydagoggend was daar nog net een boot oor: die Marinette waarop 'n Poolse vlag wapper. Dit was 'n kwessie van tyd.

Teen gisteraand is daardie boot ook voorgekeer. 470 aktiviste word aangehou en vier is sover gedeporteer. 'n Nuwe flottielje van nege bote is tans van die kus van Griekeland onderweg.

Toe word twee onskuldige mense in 'n sinagoge in Engeland afgemaai op Yom Kippur, die heiligste dag op die Joodse almanak. Nou is vredespraatjies seker van die tafel.

Ek hang my vlag aan die mas: My hart vaar saam met elke flottielje. Laat ons roei! Hoekom moet hulle lendelam geslaan word, o Heer? Waarom mag die helpers nie deur?

Liefde
Deborah


Gaza

Die wilde klingelklanke van die tamboeryn,
en die vol akkoorde van geplukte harpe;
die jubelende juiging van die Filistyn,
lywe wat wieg en buig, geurige wyn
en dawerende lofsang.

Maar Simson het geen enkele klank gehoor nie;
hy het sy slapelose hoof geleun
teen 'n pilaar, en uit sy siel gekreun.
Want voor sy blinde oë was die verlokking
van haar beeld, en in die dieptes van sy siel
die marteling van haar aanwesigheid:
Ag, Delila, lenig, slanke, lieflike Delila,
met die swart glans van haar gladde hare,
en die onstuimige gloed van warm bloed
onder haar donker oë,
Ag, Delila, die verleidster, die verraaster, die
begeerlike.

En plots’ling, soos 'n wrede steek van pyn
deurdring tot die bewussyn, het 'n klank –
die luide hoonlag van die Filistyn –
sy trae bloed versnel en aangejaag.
“Here, Here, dink tog aan my en
versterk my tog net hierdie keer, o God,
dat ek oor een van my twee oë my
op vyande kan wreek,” het hy gekerm.

En waarlik, met 'n trilling deur sy lyf
het hy die krag voel styg en klop en bruis.
Dit het sy hele wese volgestroom,
sy siel gereinig van vernedering
en van die lokking van begeerlike
Delila. So het hy die dood ontbied,
bruisend en kragtig, onbevrees, gewreek.
En met die gespanne spiere, jubelend, het hy
die kettings van gevangenis verbreek.

Olga Kirsch

NS deur DS: Delila was 'n Palestynse vrou. Nou, lyk dit my, is Delila die een wat in kettings is.


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe