Engels in die Kerskous

Read the article in English here.
Vandag vertel ek jou van tien Engelse romans wat vanjaar my hart verbly het.
Mother Mary Comes to Me deur Arundhati Roy
Soos almal is ek ’n vurige aanhanger van Arundhati Roy ná The god of small things.
Mother Mary comes to me met sy treffende titel is ’n soort-van-outobiografie. Roy vertel haar lewensverhaal chronologies en sonder foefies, maar haar stem is oorrompelend. ’n Mens besef by die lees hiervan hoeveel outobiografiese elemente Small Things bevat het. Dis egter geskryf toe haar ma nog geleef het, en daarom het sy die ma-figuur in daardie roman, Amma, versag. Haar ma was byvoorbeeld trots op die karakter en het vir almal vertel dat dit sy is. Nou is haar ma oorlede en sy kan uit die heup skiet.
Die Mother Mary van die titel verwys na haar ma, Mary Roy – ’n absolute natuurkrag. Ongelooflik onderhoudend.
Confessions deur Catherine Airy
Dis ’n onweerstaanbare debuut. Aan die kern van hierdie digterlike roman is 9/11 2001, daardie voorval wat Amerika se hart uitgeruk het. Cora Brady se ma het selfdood begaan en haar pa maak haar in New York groot. Tot hy in die Twin Towers sterf op daardie noodlottige dag. Nou is sy ankerloos. Sy ontvang ’n brief van haar ma se vervreemde en eksentrieke suster wat nog in Ierland woon, waar haar ouers opgegroei het.
Sy gaan bly by die tante en gaandeweg vou haar ouers se jeug voor haar oop en begin soveel dinge sin maak. Dis liries en aangrypend.
Three Wild Dogs And the Truth deur Markus Zusak
Zusak is ’n gebore storieverteller soos John Irving, met ’n deernisvolle stem. Hy plaas homself in die storie, maar nooit as held nie. Dit gaan oor drie honde (en twee katte) wat deel van sy gesin se lewe was.
Soos mense met sagte harte is hy aangetrokke tot probleemdiere waarvoor niemand anders kans sien nie. Die drie honde waaroor hy skryf, was wild en onvoorspelbaar en boonop so groot soos perde, van ondefinieerbare afkoms.
Zusak beskryf een hond as “at least eight different dogs, I reckon – all of them cranky.” Dis 'n boek wat hondeliefhebbers se harte vinniger sal laat klop.
Tilt deur Emma Pattee
Annie is in die laaste termyn van haar swangerskap. Sy gaan uiteindelik Ikea toe om 'n babawiegie te koop. Toe sy in die winkel is, is daar 'n massiewe aardbewing. Dit is nie uitsonderlik in Portland, waar die boek afspeel nie. Haar handsak is begrawe onder die rommel en sy is sonder haar selfoon en motorsleutels.
Hoogswanger durf sy die pad te voet aan na die restaurant waar haar man werk; gelukkig nie in die deel van die stad wat onder puin lê nie. Haar man is 'n sukkelende akteur wat genooi is om vir 'n oudisie te gaan op die dag van die aardbewing, maar gelukkig het Annie hom oortuig om eerder te gaan werk omdat hulle die geld nodig het. Of het sy? Die leser beleef haar ontbering; sandale wat skaaf, 'n reusemaag, kommer en liefde. Dis ’n lieflike roman.
The Homemade God deur Rachel Joyce
Hierdie skrywer het beïndruk met Mrs Benson’s Beetle, een van daardie romans wat my bybly. Sy is ’n lewende skat.
The Homemade God handel oor die ingewikkelde dinamika tussen sibbe en kinders en ouers. Die vier Kemp-kinders het dit nie alte gelukkig getref nie. Hulle ma is dood kort ná die geboorte van die jongste sussie, Iris. Hulle pa,Vic, ’n flambojante kunstenaar wat die bottel hard slaan, was finansieel suksesvol maar emosioneel afsydig. Die kinders was op mekaar aangewese. Hulle pa raak in sy laat sewentigs op Bella-Mae verlief en trou halsoorkop met haar. Sy is 27, 50 jaar jonger as hy en selfs jonger as Iris. Sy is glo ’n kunstenaar en sy brou kruietees wat Vic teen ’n onstellende tempo laat gewig afskud. Hy hou op drink. Die kinders is nie genooi na die troue in Italië nie. Nou sterf hy op sy wittebrood en sy kinders daag op vir die begrafnis. Ou griewe broei en geraamtes tuimel uit die kas.
Dis 'n boek vir herlees.

The Emperor of Gladness deur Ocean Vuon
Die hoofkarakter, Hai, ’n Amerikanerseun van Viëtnamese afkoms, sukkel om ’n helse lot pyn te verwerk. Sy eerste boyfriend en tweelingsiel is dood aan ’n oordosis. Soos Hai by homself dink: Hy wou meer as een gevoel op ’n slag ervaar. Soos hulle in country-musiek sing: It’s gonna take a whole lot of whiskey to make this heartbreak go away. In Hai se geval is dit pille.
Wanneer hy op ’n brug in die reën op die punt staan om te spring, roep iemand na hom. Dis ’n bejaarde vrou van Litause afkoms, Grazina, wat teen die heuwel aan die rand van die water woon. Sy roep hom nader. Grazina is ’n heerlike karakter: verkeerdeveer, aweregs, half-dement met helder oomblikke en ’n donker humorsin.
Dit handel oor herinneringe, en mense wat steier daaronder.
What We Can Know deur Ian McEwan
Dis ’n literêre speurtog, met heelwat vleis aan die been. Thomas Metcalfe (Tom) is ’n akademikus in die jaar 2119. Hy woon in Brittanje, wat nou uit ’n paar eilande bestaan, heel geïsoleerd – daar was wêreldwye oorstromings en groot stede lê nou onder die see. Post-apokalipties voel Engeland, of wat daarvan oor is, nie distopies nie, eerder geborge, soos in ’n borrel.
Tom het 'n obsessie met ’n digter uit die vorige eeu, ’n fiktiewe skrywer, Francis Bundy. Maar eintlik met Bundy se vrou, Vivien. Hy droom en fantaseer oor haar, tot so 'n mate dat dit sy verhouding en latere huwelik met sy kollega, Rose, bedreig. Vivien was self ’n skrywer, maar het die briljante Bundy se sekretaresse en huishouer geword ten koste van haar eie werk.
Hierdie diggeweefde roman is louter leesgenot en laat my weer besef waarom geen medium my kan aangryp soos die geskrewe woord nie; op ’n lyflike vlak.
The Impossible Thing deur Belinda Bauer
Dis ’n buitengewone raaiselroman. Die misdaad wat ter sprake is, is die diefstal van voëleiers. ’n Mens kry 'n blik op ’n wêreld wat ek glad nie geken het nie. In die berg trek voëleierstelers jaarliks saam om op die kranse die besonderse eiers onder die arme voëls uit te steel. Die eiers is veelkleurig, sommige het patrone op en versamelaars betaal goeie geld daarvoor.
Dit begin in die 1920’s in Yorkshire, Engeland. Die Sheppards huur ’n onherbergsame plaas en bly net-net aan die lewe. Die jongste, Celie, is ’n onvergeetlike karakter wat ruk aan die hartsnare. Almal verstoot haar. Sy is klein en tingerig en werk van kleins af soos ’n arbeider. Daar is een mens wat na haar omsien: Robert, die idioot, soos hulle hom noem omdat hy nooit praat nie. Hy is ’n weeskind en min of meer die gesin se slaaf. Dis menslik, vol deernis en humor.
The Nicotine Gospel – Sven Axelrad
Axelrad se derde roman, The Nicotine Gospel, speel in Durban in die 1980’s af. Nathan, die verteller, en sy broer Danny se ma word op Nuwejaarsdag deur weerlig doodgeslaan, voor hulle oë. Hulle pa is ’n eksentrieke, intense skrywer en kettingroker van, ironies genoeg, Lucky Strike. Na sy vrou se dood onttrek hy toenemend van die wêreld, sit tot laatnag op die stoep, gehul in ’n walm rook en ’n swerm motte, soos chaotiese gedagtes. Hy begin die Nikotien-evangelie versin en begin dit vir sy seuns, ses en vier jaar oud, preek.
Die roman vervul jou met nostalgie vir die slegte ou dae en laat jou weer besef hoe gekompliseerd gesinsverhoudings is. Dis snaaks, raak en onthoubaar.
When the Cranes Fly South deur Lisa Ridzén
Dis uit Sweeds vertaal en volgens die voorblad 'n internasionale topverkoper. Dis een van daardie stil, wonderbaarlike boeke wat jou aan die hart gryp, soos The Book Thief. Dis vol deernis en menslikheid, en die droefheid van verganklikheid.
Bo Andersson in 89. Hy woon in die huis waarin hy grootgeword het en wat hy later van sy ouers geërf het, saam met sy geliefde hond, Sixten – 'n Sweedse elkhond. Hulle is mooi diere wat 'n bietjie soos 'n husky lyk.
Bo se seun Hans is in sy vyftigs en ongelukkig. Hy is geskei, eensaam en uitgestres weens sy werk. Hulle verhouding was nooit optimaal nie en nou is hy die baas. Hy voel Bo is te oud om na Sixten te kyk en soek vir hom 'n ander huis. 'n Mens wil Hans as die vyand sien wat Bo se geluk bedreig, maar telkens gebeur iets wat hom reg bewys. Die einde is onafwendbaar soos die dood, soos verval.

Legkaart
’n Houtkissie met fyn inleg is al die jare
agter in haar hangkas gebêre, duidelik
die handewerk van Oupa se vlyt
uit St Helena, gevul met Ma se koestergoed,
waarvan net sý die geskiedenis ken:
’n hoedespeld, perlemoenknope en ’n kwartskristal,
drie tiekies en ’n seëlring met PB daarop gegraveer,
’n lapel- en skouerruiker deur tyd en boorders
verweer en heel onder, verbleikte lanferbande.
Die PB was duidelik Pa se ring en Ma, as kranige
tuinier, het die ruikers straks self aanmekaar
gestring, maar eers op haar sterfbed sou die lanfer
nuwe lewe kry toe sy van haar drie babas vertel.
Eunice Basson