Ek kan jou 'n brief gee

Liewe virtuele vriende
In Engels is die Afrikaanse woorde letter en brief dieselfde woord: Letter.
Ek sien hierdie meem en dit sit my aan die dink:

Ek is nie so wys en cool soos Susan nie. Ek skryf nie meer vir myself nie. Vandat my ma, boeties en sussie my dagboek op laerskool gelees en my daaroor gespot het, was ek nog nooit weer 'n diaris nie.
Op skool en vir jare daarna het ek bokse vol papiere saamgesleep van blyplek tot blyplek. Bokse met blaaie vol gedigte en stories, met die hand en 'n outydse tikmasjien verewig. Nee, nie vir ewig nie - ek het hulle laat gaan, laat wegwaai soos blare in die wind. Dit was vingeroefeninge.
Dit was, dank die hemele, voor die dae van die wêreldwye web, waar elke brokkie juvenalia gedeel en bewaar word. Ek kyk na die Insta van vriende se kinders wat ek sien grootword het, tieners met probleemvelle, brekende stemme en hoopvolle oë wat sing, hulle gedigte voordra en in aller erns hulle lewensfilosofie deel, en my hart wil breek. Ek was ook so. Ek het my verse vir almal wat wou kyk, gewys. Mense het dit gegryp, ja, die oorspronklike, enigste, handgeskrewe bladsye, en dit getoonset. Op die kitaar gevroetel na drukke om dit te vergesel. Ek het myself gesien as 'n soort Eva Luna van Isabel Allende wat woorde weggee en verkoop. 'n Bertolt Brecht, 'n volksanger, 'n kroegdigter. Onthou, 'n mens se selfbeeld is optimaal wanneer jy bloedjonk is. In my geval het ek die woorde meestal weggegee, soms verruil. Ek het eenkeer 'n lêer vol verse geruil vir 'n bottel goeie rooiwyn. Dit was 'n gunstiger transaksie as 'n eersgeboortereg vir 'n pot lensiesop.
'n Ou vriendin stuur nou die dag vir my jpegs van 'n boek vol gedigte wat ek ongeveer veertig jaar gelede vir haar gegee het. Wat my opval, benewens hoe swak die verse is, is die feit dat ek 'n handskrif gehad het. Nou het ek net 'n toetsbord.

Nou bly ons woorde in die web draal. Maar hoe betroubaar is die wolk en die wêreldwye argief? Bra onbetroubaar, as jy my vra. In die afgelope dekades het ek derduisende woorde geskryf, vir Insig, Huisgenoot, Rooi Rose, Die Burger, Rapport, Beeld, LitNet en Vrye Weekblad. Die argiewe is motgevreet of afwesig. Bitter min kan ek nog bykom en dalk is dit beter so. Dalk skryf ons ons paragrawe in seesand wat wegspoel wanneer die gety inkom. Skryf ons woorde met die wysvinger in vensterruitwasem. Voorletters en 'n skewe hart. Efemeries, kort van duur, roos van my hof.
Boeke gaan uit druk of vergaan deur mot en roes - 'n honger rot het eenkeer in my ma se stoorkamer gesmul aan 'n boks Afrikaanse boeke, meestal getekende eksemplare. Dit was 'n onderskeidende, kritiese knaagdier. Sommige skrywers het meer in sy smaak geval as ander. Party boeke kon ek hou, met slegs 'n hoekie weggevreet. Ander was confetti. Hy was stout vir Etienne van Heerden, of miskien was die dikte 'n uitdaging. 'n Sesgangmaal.
Woorde los op. Soms is ek hartseer dat ek nie ure se dialoog uit 'n kuier met besonderse vriende kon opneem en bewaar nie. Maar daarin lê die skoonheid van woorde: in hulle kortstondige, verbygaande aard. Soos seepbelle wat wêrelde weerkaats en geluidloos bars.
Woorde is wisselkoers, geskenke. Sommige mense is vrygewiger as ander. My persoon het hierdie week 'n nag in die hospitaal deurgebring. Nee, dis nie 'n gruwelverhaal van ontbering en verval nie. ZAR is 'n statige ou gebou, skoon en blink, die personeel vriendelik en hulpvaardig. Wat my opval, is die verskil in ons twee se persoonlikhede. As ek in 'n saal vol vreemdelinge moet lê, maak ek met niemand oogkontak nie. Ek slaan 'n boek oop en lees sonder om op te kyk. Sy smee vriendskappe en laat pasiënte so hard lag dat hulle steke dreig om los te trek. En hulle hartsgeheime deel. Só het die vrou in die bed langsaan vir haar vertel dat sy nou uiteindelik besluit het om haar man te los. Die laaste strooi: Haar pa het hom saam met 'n agtienjarige in die bed betrap. Haar pa het gaan kyk wat aangaan toe haar man in flagrante so hard nies dat sy valstande uitval. Hy dra glo ook 'n pruik. Wie kan dit uitdink? Toe ek haar gaan haal, gaan fluister sy nog eers in die vrou se oor: "Lós nou die bliksem."
Liewe Susan Sontag, ek skryf graag briewe, meer en meer. En as julle vername joernaalhouers wil eerlik wees, sou julle erken julle skryf in elk geval vir 'n gehoor, vir die vergetelheid, vir latere publikasie, vir ander se oë.
Ek skryf hier en nou vir ander mense en hoop (meestal vergeefs) dat hulle sal reageer, dat dit nie net die eggo van my eie stem is wat oor die heuwels teruggerol kom nie.
Liewe vriende, daar is al amper 'n duisend van julle. Ek voel nie meer alleen nie. Ek kyk op van my boek en maak oogkontak.
Liefde
Deborah

Brief vir Simone
Ver onder my druis die stadsgeluide
die hart van Hillbrow wat flink aanstap
die straatpredikante
en die Hare Krishna-profete
Groot rooi bus snork verby
Die laataand koerantverkopertjie skree
in die meganiese
grammadoela-oerwoud
Hysbakke gly op en af
Blitspatrollie skeur deur die nag
En ek sit op die Hillbrowtoring en wag
vir sonop en skryf 'n brief vir Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê
Simone
Die meisies van die aand wink
'n Straatmusikant se hoed lê honger en wag
om silwer munte van die verbygangers
op te vang
'n Blinde met 'n wit stok strompel
en die kunsgalery se gaste sien hom nie
hul oë volg die art nouveau
van die Artes
Later dra 'n digter voor
T.S. Eliot en hy versmoor die kuns
Maar ek sit op die Hillbrowtoring en wag
vir sonop en skryf 'n brief vir Simone
Jou glimlag was vol deernis
Jy't my oneindige argumente beluister
met die pseudoleiers
van die kultuur
Hul redenasies oor reïnkarnasie
sosialisme, sport en oor die digkuns
en of die hele wêreld
dalk verkeerd is?
Jy soen my toe ons huis toe ry
en die gaste smoorkwaad agterbly
En nou ek sit op die Hillbrowtoring en wag
vir sonop en skryf 'n brief vir Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê
Simone
Onthou jy St Markus in Venesië?
Die duiwe wat my jas toesak
jy't gelag en gesê ek lyk vir jou
soos Johannes Die Doper
Ek't gesê kuns het mos geen grense
jy't my reggehelp en gesê
as gevolg van die samelewing
is die kuns mos gebonde
Maar ons was jonk verliefdes toe
jou skip het om die punt geseil
En ek sit op die Hillbrowtoring, ek wag
vir sonop en skryf 'n brief vir Simone
Jou handskoen in die stormwater
Die noordwind, ysig deur ons hare
Herinnering's soms net
Freudiaanse insekuriteit
Want Katryn, Katryntjie, my wintervrou
al my liedjies was net vir jou
my verse naïef
maar hart oppie mou
Nou weet ek die donkietjie
se hart verlang na jou
want hy sit op die Hillbrowtoring, wag vir sonop
en skryf 'n brief vir Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê, Simone
Ek wil jou hê
Simone
Anton Goosen