Donkermaan

Donkermaan
Foto deur Bhautik Patel / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the article in English here.

Exit Strategy deur Lee Child

Lee Child woon in Engeland se Lake District. Daar word glo elke nege sekondes een van sy Jack Reacher-romans verkoop, regoor die wêreld. Hy het reeds meer as honderd miljoen boeke verkoop en baie toekennings ingeoes. Hy is deur die koningin tot ridder geslaan.

Deesdae skryf hy die Jack Reacher-romans saam met sy jonger broer, Andrew. Ek weet nie of die boeke om daardie rede effens stoom verloor het nie. Miskien is hy maar net moeg. Ek het die vakansie toevallig die eerste Jack Reacher-roman ooit gelees, en dit was nogal polsend en dinamies. En onlangs die jongste en dertigste een, Exit Strategy. Jy kan die twee nie vergelyk nie. Jack Reacher is nog steeds ses voet vyf en weeg 250 pond, hy is steeds sonder huis of besittings, spring op Greyhound-busse en ry waar die roete hom neem. Maar het daar iets resepagtig ingesluip, 'n voorspelbaarheid?

In die jongste boek klim Reacher in Baltimore van die bus af. Hy wil die aand 'n show daar kyk en dan verder reis. Maar ons weet reeds hy raak keer op keer verstrengel in die probleme van klein dorpies. Hy is mos 'n soort Superman wat skurke opfoeter en misdaad oplos waar hy kom.

In Baltimore gaan sit hy in 'n koffiewinkel, met sy rug na die muur en gesig na die ingang, soos altyd. Hy merk op hoe 'n egpaar deur twee swendelaars bedrieg word uit hulle spaargeld. Omdat hy Reacher is, volg hy die skurke, slaan hulle bewusteloos en vat die tas geld af om dit terug te besorg aan die teikens. Natuurlik het hy nou op die verkeerde stert getrap. By dieselfde koffiewinkel stop 'n man in die verbygaan 'n briefie in sy sak. 'n Noodkreet.

Die man, Gilmour, werk by die hawe en is betrokke by 'n skelmstreek. 'n Kollega is onlangs by die werk vermoor en hy weet hy was die eintlike teiken.

Natuurlik bly Reacher nie net vir die musiekvertoning waarvoor hy gekom het nie. Hy stamp koppe, breek neuse en maak konkelwerk ongedaan. Soos altyd. Hy sal seker altyd aanhangers hê, maar ek dink ek het vir eers genoeg gehad van sy heldedade.

Exit Strategy deur Lee Child en Andrew Child is deur Penguin Random House uitgegee en kos R356 by Graffiti.

The Other Tenant deur Lesley Kara

Lesley Kara het haar gevestig as skrywer van huishoudelike noirs wat soos soetkoek verkoop. Die genre van haar jongste aanbieding, The Other Tenant, kan onmiddellik uitgeken word aan die voorblad: swart, blou en geel. 'n Verligte venster in 'n onheilspellend donker gebou.

Marlow is 'n property guardian. Dit beteken sy het nie 'n huis nie, maar woon gratis in geboue wat leegstaan, met die toestemming van die eienaars, om vandalisme en verval te voorkom. Sy moet 'n ogie hou. Dis nie 'n standvastige bestaan nie en sy moet telkens verhuis, of sy wil of nie.

Dan word sy gevra om in 'n ou skoolgebou te gaan woon. Die nuwe eienaar wil dit omskep in luukse woonstelle. Toevallig is dit haar ou skool, 'n Victoriaanse gebou vol spoke en hartseer herinneringe. Haar beste vriendin is daar dood in 'n brand waarvoor sy haarself verantwoordelik hou. Oral is eggo's en voorbodes.

Dis dan ook gou duidelik dat alles nie pluis is in die skoolgebou nie. Sy woon daar saam met nege ander mense, voor die voet eksentriek en raaiselagtig. Die hoofbewaarder van die eiendom is Rob, 'n bleeksiel wat ver op die spektrum is en net kits-noodles eet. Hy steek beslis iets weg. Boonop het die meisie wat voor haar daar gewoon het, verdwyn. Spoorloos.

Sy kom op aantekeninge van haar voorganger af wat daarop dui dat daar misdadige aktiwiteite aan die gang is. Sy hou self haar lyf speurder en word 'n teiken van die boosdoeners. Maar wie kan sy vertrou? Sy voel deurgaans dat sy 'n reusefout begaan het deur daar te gaan woon.

Dis spannend, maar as jy my vra te besig. Raaisels hoop op en die leser kan van absoluut niks seker wees nie. Marlow se verlede vou oop en so ook die rede waarom sy van haar ouers vervreem is. Miskien vind sy wel berusting op die toneel waar haar grootste nagmerrie afgespeel het.

The Other Tenant deur Lesley Kara is deur Transworld Publishers uitgegee en kos R285 by Exclusive Books.

Where the Missing Go deur Emma Rowley

Ek het nog 'n noir gelees, die soort wat my meer geval. Dis minder histeries en besig. Where the Missing Go is 'n ouer boek (2018) wat ek in 'n tweedehandseboekwinkel opgetel het. Die voorblad is ook swart, blou en geel en dit handel ook oor 'n meisie wat vermis word.

Die verteller, Kate Harlow, is die ma van 'n tienerdogter wat verdwyn het. Sy het net 'n briefie agtergelaat waarin sy vra dat hulle haar sal los. Sy het 'n paar poskaarte gestuur en daarna niks weer nie. Haar ma is seker dat sy nog lewe. Die ma werk by 'n hulplyn vir kinders wat van die huis weggeloop het en boodskappe aan hulle familie wil stuur, Message in a Bottle. Een aand bel 'n vrou: Dis Sophie, haar dogter.

Jare gelede het daar ook 'n meisie in hulle omgewing verdwyn. Sy het baie na Sophie gelyk, ook 'n briefie gelos en is nooit gevind nie. Nou werp Kate alles in die stryd om haar dogter op te spoor. Sy maak kontak met die ander meisie se familie.

Natuurlik doen die polisie skynbaar min. Die saak is al oud. Almal het moed opgegee, behalwe Kate. Sophie se dagboek word gevind en daar is nuwe leidrade. Sy het skynbaar 'n verhouding met 'n ouer man gehad.

Natuurlik is daar red herrings, rook en spieëls, maar dis 'n onneersitbare riller.

Where the Missing Go deur Emma Rowley is deur Orion Books uitgegee en kos R475 by Exclusive Books.

Winternag

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!’

Eugene Marais


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe