Die X-faktor

Die X-faktor
Foto deur Fons Heijnsbroek / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Elon Musk het die letter X 'n slegte naam gegee. Amper almal van ons het 'n X-chromosoom, party, soos ek, het twee. X is cool en misterieus, Y lyk soos 'n onderbroek. Toe ons jonk was het my vriendin Marisa altyd gepraat van die X-faktor. Daardie ondefinieerbare iets wat sommige mense besit. Sterkwaliteit. Kunswerke kan ook 'n X-faktor hê, of nie.

Prentjiemooi landskappe en stillewes wat lyk soos foto's op koekblikke het dit nie. Skoonheid kan verdag wees, holrug gery, nageboots, die maklike uitweg, die laaghangende vrug. Ek sien wat Ingrid Winterbach doen wanneer sy skilder. Sy wil die cliché vryspring, die fascistiese ideaal van skoonheid systap. Sy wil iets wild en primordiaal skep, iets lelik, met vuil kleure, iets wat 'n kreet word. Mense soos Picasso en Walter Battis, wat, soos Ingrid, besonder goed kon teken, het inspirasie geput uit kinder- en Afrika-kuns in 'n soeke na die primitiewe, ongebonde intuïtiewe.

Skildery deur Ingrid Winterbach

Dieselfde beginsel geld vir alle kunsvorme. Jy moet die medium bemeester – jy moet kan teken en elke verftegniek so goed baasraak dat jy 'n Ou Meester kan vervals, en dan moet jy jou bolla losmaak en jou onderbewuste loslaat op die doek. As jy wil skryf, moet jy 'n koker vol woorde hê, 'n aanvoeling vir ritme en klank, 'n verwysingsraamwerk so wyd soos die Heer se genade, en dan moet jy jou linkerbrein se suurstoftoevoer afsny. 'n Kennis whatsapp my: "Ja, my hart en siel is beslis 'n skrywer, maar my kop wil te veel beheer, dit maak my skryfwerk te styf. Toe ek kunsklasse geneem het, het die kunstenaar kwaad vir my geword en geskree, kom los!"

Hoe kom ons los? Ek praat nie van outsider art soos Helen Martins s'n nie, dis iets anders. 'n Mens moet (op 'n mooi manier) in die bol gepik wees om dit voort te bring. Ek kan, by tye. Ek het een jaar in 'n waan van ongebreidelde skepdrif ons hele agterplaas met mosaïek bedek. Daelank het ek sonsteek opgedoen en saans was ek so styf dat ek nie my arms kon lig nie. Daar was geen plan of struktuur nie. Ek het my laat lei deur kleur en beweging.

Ek is op 'n paneel wat die voortreflikste Afrikaanse fiksie bekroon. Dis opvallend dat al die romans 'n sekere peil handhaaf – hulle is immers goedgekeur, die uitgewer was bereid om die risiko aan te gaan – geslyp en geredigeer. Maar wat sekere boeke laat uitstaan, is die X-faktor. 'n Waansin, as jy wil. Wanneer jy agterkom die skrywer is vertroud met al die reëls en verbreek hulle een vir een.

Ek het weer begin skryf aan 'n roman, soos genoem. Ek het sorgvuldig 'n storielyn uitgedink en 'n paar eksentrieke karakters geskep, die soort oor wie ek graag lees. Na 'n paar hoofstukke besluit ek, nee! Ek wil nie nog so 'n boek skryf nie.

Ek wil my gedagtes en vae vermoedens vlerke gee, soos wanneer ek hier skryf. Ek wil met my lyf skryf, uit my maag. Wanneer dit gebeur, wanneer my vingers oor die klawers galop en woorde mekaar uit die pad stamp, word my maag los en moet ek eers badkamer toe. Dan weet ek: Nou vlot die skrywery. Gepraat van skatologie: Antjie Krog skryf uit haar derms.

Hoe kom 'n mens los? A, dis die vraag. Hoe raak jy ontslae van die ouer en onderwyser op jou skouer, met 'n liniaal en sarkastiese kommetaar wat jou woorde opeens laat verwelk? Daar is allerlei tegnieke. Skrywers wend hulle tot drank en dagga. Maar, hoor my lied, jy moet jou varkies op hok hê om waansinnig te skryf. Mense soos Julia Cameron sê jy moet in die oggend al jou gedagtes neerskryf, alles wat in jou kop kom, sodat al die oppervlakkige rommel kan uitkom. Daar is oefeninge om alfastaat te bereik en jou regterbrein by te kom.

Ek weet nog steeds nie wat die antwoord is nie en niemand kan die resep boekstaaf nie. Dis iets wat gebeur. Of nie. Haruki Murakami het vir die New York Times gesê: “I don’t have any plan, I’m just writing, and while I’m writing, strange things happen very naturally, very automatically.” Haruki, seën sy hart, is 'n natural. Hy met die naam wat klink soos 'n gedig. Hy het sy onderbewuste op speed dial. So iemand is meestal nie geskik vir die alledaagse lewe nie. Hulle deug nie in korporasies nie, behalwe as dit kom by sleurtake waar die brein kan afskakel en die onderbewussyn kan droom.

Haruki Murakami

Sleurtake: Dis een van die maniere waarmee ek die ouer op my skouer verban. Miskien moet ek weer begin stryk. Wanneer ek kar bestuur, of 'n muur verf, klop karakters en idees by my aan. Tussen slaap en wakker sien ek die struktuur en ritme van die boek wat ek moet skryf.

Daar is, glo ek, 'n kollektiewe onderbewuste, 'n bewussynstroom wat deur alles vloei. Wanneer 'n mens nie probeer mooi skryf of slim wees nie, wanneer jy nie gorrel om die word count op te jaag nie, wanneer jy die stem van die hoofprefek in jou stilmaak en jy jou oopstel vir die asemhaling van die kosmos, vloei daardie stroom deur jou. Miskien. Almiskie sing jy in vrye vers. Dis jou beloning vir 10 000 uur se vingeroefeninge, of die geskenk wat jy teruggee aan die onsienlike.

Ek het dié week 'n roman gelees wat uit die lyf geskryf is soos 'n droom – Einde en begin deur Michèle Meyer. Ek skryf vir LitNet daaroor.

Kom los, vriend. As jy wil.

Ballerina deur Mary Sibande

Liefde
Deborah

A dream within a dream

Take this kiss upon the brow!
And, in parting from you now,
Thus much let me avow —
You are not wrong, who deem
That my days have been a dream;
Yet if hope has flown away
In a night, or in a day,
In a vision, or in none,
Is it therefore the less gone
All that we see or seem
Is but a dream within a dream.

I stand amid the roar
Of a surf-tormented shore,
And I hold within my hand
Grains of the golden sand —
How few! yet how they creep
Through my fingers to the deep,
While I weep — while I weep!
O God! Can I not grasp
Them with a tighter clasp?
O God! can I not save
One from the pitiless wave?
Is all that we see or seem
But a dream within a dream?

Edgar Allen Poe


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe