Die verhaal van twee Hannahs

Illustrasie: ANGELA TUCK

Read this story in English here.

Liewe vriende

Dekades gelede het ek iets in ’n roman deur Lorrie Moore gelees waarmee ek sterk identifiseer. In Anagrams sê een van die vertellers sy sukkel met name wat te eenders is, soos Bill Cosby en Bing Crosby, John Lennon en Jack Lemon. Net so. Ek sukkel om John Connoly en Michael Connely uitmekaar te hou in my kop. So was Kristin Hannah en Sophie Hannah een en dieselfde skrywer in my agterkop, een wat mooi, soeterige liefdesverhale skryf.

Hierdie week, met daardie soort toeval eie aan die alledaagse, lees ek twee boeke deur die twee Hannah-outeurs, een na die ander. Eers Sophie Hannah en toe Kristin Hannah. En daar is ’n groot verskil, hoor.

Sophie Hannah is Brits en sy lyk heerlik windverwaaid eksentriek met wilde hare, ’n swartraambril en altyd ’n hond in die arms. Kristin Hannah is baie Amerikaans en lyk eerder na Darryl Hannah as na Sophie.

No One Would Do What The Lamberts Have Done is ’n uitsonderlike boek. Heeltemal aweregs. Een van die vertellers is ’n hond wat lankal dood is en hom nou in Vlak 2 van die hiernamaals bevind, maar eintlik ook oweral. Die roman wentel om Sally Lambert en haar hond Champ. Sally is ’n verstrooide, koddige ma van twee mensekinders en twee hondekinders, een reeds oorlede, maar altyd naby haar. Sy tref geen onderskeid tussen haar kinders nie.

Die Lamberts se aartsvyande is hulle bure, die Gaveys. Die Gaveys is werklik ’n aaklige gesin, so ongekwalifiseerd afgryslik soos Cruella de Ville en ander strokiesprentkarakters. Hulle is hatig, gil op mekaar en saai onmin. Sally se wêreld stort ineen toe die Gavey-dogter, Tess, die Lamberts se hondekind Champ daarvan beskuldig dat hy haar gebyt en haar arm misvorm het. Sy maak ’n saak en plaas foto’s op Instagram.

Ironies genoeg is Champ ’n absolute teddiebeer wat nog nooit iemand gebyt het nie. Die Lamberts se vorige hond, Furbert Herbert Lambert, was ’n senu-agtige byter. Sally sien nie kans om die gereg sy gang te laat gaan nie – haar vrees is dat hulle gedwing gaan word om Champ uit te sit. Daarom slaan sy op die vlug, met haar gesin – sommige van hulle teësinnig – op sleeptou.

Hoe beleef die leser die storie? Deur middel van ’n anonieme manuskrip wat ’n polisieman opgespoor het en wat die gebeure en karakters vanuit verskillende perspektiewe bekyk.

Sophie Hannah is ’n topverkoper en sy kan skryf. Dis snaaks en onverwags, die dialoog oortuig. Sally se tienerkinders loods ’n internetveldtog wat van Champ ’n sensasie maak. Daar is vele intriges en verrassings.

Dit is vroeg al duidelik dat die vete tussen die families op moord uitgeloop het en die leser wil weet wat gebeur het.

Die roman is absoluut hartverwarmend, soos ’n beker warm sjokolade. Dis vol humor, intellek, spanning, fyn insig en oorrompelende liefde vir honde. Ek beveel dit hoog aan.

No One Would Do What The Lamberts Have Done is deur Bedford Square Publishers uitgegee en kos R299 by Amazon SA.


In uitdagende tye is dit soms nodig om ontsnappingslektuur te lees soos Summer Island, ’n teer en komplekse liefdesverhaal wat op ’n eiland afspeel. Kristin se styl is heel anders as Sophie s’n. Kristin is lief vir perserige natuurbeskrywings en baie byvoeglike naamwoorde. Haar karakters word deur haas onoorkombare dilemmas in die gesig gestaar, maar die leser weet die liefde gaan alles oorwin. Dit herinner in hierdie opsig aan Nora Roberts se romans. Die mense is mooi, talentvol en wroegend. Ou liefde roes nooit nie. Hartstog brand soos ’n warm kerrieaartappel.

Nora Bridge is ’n troostante op die radio en in koerantrubrieke. Haar raad kom altyd uit die hart en maak perfek sin – anders as haar eie lewe. Sy het elf jaar gelede haar man en twee tienerdogters verlaat. Aanvanklik dink die leser dit was om roem en rykdom na te jaag, maar so eenvoudig is dit natuurlik nie en elke saak het vele kante. Haar oudste dogter het ’n perfekte lewe en handhaaf ’n klein bietjie kontak met haar. Haar jongste, Ruby, is dwalend en woedend en hulle het geen kontak nie. Ruby is ’n aspirant-komediant wat nie regtig hond haaraf maak in Hollywood nie. Teenoor haar karige bestaan staan haar ma se rykdom, waarvan sy niks wil weet nie. Nadat haar ma weg is, het sy haar jeugliefde se hart gebreek en sedertdien niemand naby haar toegelaat nie.

Dan breek ’n skandaal: kaalfoto’s van Nora word gepubliseer. Die pers rakel sommer ook haar hele verlede op en lesers en luisteraars wil woedend weet hoe iemand wat haar gesin versaak het, huweliksraad kan gee.

Sy drink, ry in ’n boom vas en is tydelik in ’n rolstoel. Ruby van alle mense word haar versorger op die eiland waar hulle somers as gesin deurgebring het. Bitter woorde word verwissel. Ruby het ’n verskuilde agenda. Sy is besig om ’n expose oor haar ma vir ’n vername tydskrif te skryf, teen uitstekende betaling. Gaan hulle mekaar vind in die ou vakansiehuis? Kan jare se misverstand uit die weg geruim word? Waarom is Nora regtig weg? Tergende vrae.

Soos die toeval dit wil hê, is Ruby se jeugliefde wat haar nooit kon vergeet nie, ook in die nabyheid. Hy versorg sy broer wat sterwend aan kanker is.

Sal liefde deur Ruby se skanse kan breek? Sal hierdie liefdesverhaal soos gebruiklik voor die kansel eindig? Lees dit self, as dit jou soort ding is.

Summer Island deur Kristin Hannah is deur Macmillan uitgegee en kos R395 by Amazon SA.

Liefde
Deborah


Die allegorie van die liefde

Pablo Neruda wyd vertaal en bepraat
dig oor die liefde tussen die skadu
en die siel se donker geheimenisse.

Soos 'n plant wat nie uitspruit
nie? Of dalk 'n herberg-in-die-sneeu
met 'n vuurherd stadig aan die uitbrand?

By Pablo is daar immer liefdesvreugde,
sonder kompleksiteite oënskynlik.
Hier op 'n ander kontinent, my komvanweg:

'n sidderende uurwerk met jou af-
wesigheid ná soveel jare en seisoene,
'n terugkyk ek had jou dalk nie lief?

Joan Hambidge

Uit: Merang


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe