Die rivier is vol, die trane rol

Die rivier is vol, die trane rol
Foto deur Damien Dufour / Unsplash
ANGELA TUCK

Waarom lees ons? Om te ontspan en van die werklikheid te ontsnap. Ook om ander se lewens aan te pas soos kledingstukke, om vreemde situasies en omstandighede tweedehands te beleef. Party lesers identifiseer sterkter met karakters as ander. Ek probeer 'n objektiwiteit handhaaf, maar as ek my weer kom kry, is ek pens en pootjies in karakters se skoene. Soms is dit 'n ongemaklike ervaring. Dit hang ook af van hoe jou lewe op 'n gegewe tydstip lyk; as alles rooskleurig is, trek jy jou die karakter se smarte en katastrofes minder aan. As jou lewe, soos myne vanjaar, uitdagend is, is jy 'n spons vir ander se droefheid.

Ek het dié week twee boeke gelees wat my gemoed beswaar het. Laat laasnag het ek klaargelees aan The River is Waiting van Wally Lamb en my gemoed was bekák. Ek is al heeldag skuinsbemoerd en ongedurig, en onderliggend droefgeestig.

0:00
/0:16

Kunstenaar: Yuval Robicheck

Die eerste boek wat ek van Lamb gelees het was She's Come Undone. Ek sê nou die dag vir 'n vriendin ek kan presies onthou waar ek was toe ek dit gelees het: My koshuiskamer op unversiteit. Dit was 'n vals herinnering. Ek sien nou dit het in 1992 verskyn, toe ek lankal klaar geswot het. Maar die boek het my teruggeneem na my koshuiskamer, dit was asof ek daar was terwyl ek dit gelees het. So kragtig is boeke.

The River is Waiting is 'n treurmare van bykans Shakespeareiaanse omvang. Moet dit nie opneem as jy nie sterk voel nie. Lamb skryf graag oor onvolmaakte mense, mense met tragiese foute, blindekolle en swakhede. Corby Ledbetter is so 'n mens. Hy is baie aantreklik en 'n regverdige, goeie mens. Maar hy verloor sy werk as grafiese kunstenaar weens afskaling, kuier op pad huis toe in 'n kroeg en word in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

Sy vrou werk en hy pas hulle tweelingbabas op terwyl hy (met al hoe minder entoesiasme) werk soek. Hy is 'n uitstekende pa, maar hy raak verslaaf aan Ativan wat vir sy depressie voorgeskryf is, en begin bedags skelm drink. Hy is dronk en hoog toe hy een oggend in die oprit oor sy kleuterseun ry. Die kind sterf op pad hospitaal toe. Sy vrou is buite haarself, soos hy.

Die polisie ondervra hom genadeloos en vat hom hospitaal toe om bloed te trek. Hy is ver oor die limiet.

Sy vervreemde pa betaal vir 'n wenner-advokaat wat hom subtiel aanmoedig om te sê hy is ná die ongeluk die huis in om sy vrou te gaan bel en het eers toe, van skok, pille en drank gedrink. Hy besluit om sy seun se dood nie minder te maak met leuens nie, en erken alles. Hy word gevonnis tot gevangenisstraf: vyf jaar, opgeskort vir drie.

Soos almal teen dié tyd weet, is die tronk 'n hel en vagevuur. Hy word boonop geteiken deur sadistiese bewaarders. Sy vrou sien nie kans om vir hom te kom kuier nie en weier om sy dogtertjie tronk toe te bring. Brutale dinge gebeur met hom.

Meer gaan ek nie weggee nie. Dis 'n dik boek wat, so voel dit, amper elke dag in die tronk dokumenteer. Moenie asem ophou vir 'n gelukkige einde nie.

Ek beveel dit met voorbehoud aan.

The River is Wating deur Wally Lamb is deur Simon & Schuster uitgegee en kos R360 by Graffiti.


Die tweede boek is ook nie kinderspeletjies nie, maar darem skreeusnaaks. Eers was ek skepties: Kan 'n misdaadroman tegelyk spannend en snaaks wees? Verbreek die humor nie die spanning nie? Toe nie, hoor.

Adam Kay se eerste boek was niefiksie: This is Going to Hurt, oor jong interns en hospitale. Dit was 'n wêreldwye topverkoper. A Particularly Nasty Case is sy debuutroman. Eitan Rose is 'n gay Joodse dokter wat in Brittanje vir NHS werk - dis harde werk en die betaling is nie waffers nie. Hy het rillerkollegas, soos die selfvoldane en onbekwame boelie van 'n mediese direkteur, Douglas Moran. Rose is bipolêr en beskadig deur sy sussie se dood. Moran was aan diens toe sy opgeneem is en Rose is seker hy was nalatig.

Rose kom pas terug van gedwonge verlof: Hy is dikwels laat vir werk en hoewel hy uitstekend met sy pasiënte oor die weg kom - hy is 'n grapkas - het kollegas allerlei klagtes teen hom ingedien. Sy humorsin is nie altyd vanpas nie.

Dan gaan Douglas Moran dood, oënskynlik aan 'n hartaanval, maar Eitan Rose ruik 'n rot. Vervolgingswaan is een van sy simptome en hy ontwikkel 'n obsessie om Moran se moord (volgens hom) op te los. Ten koste van sy werk.

Daar is darem 'n ligstraal. 'n Dodelik aantreklike jong portier in die hospitaal, wat toevallig hoogs belese is met 'n wye algemene en mediese kennis, gooi flikkers by Eitan en hulle begin 'n verhouding. Cole dink nie hy is onrealisties of paranoïes nie en ondersteun hom in sy speurtog.

Rose het ook twee getroue vriende; sy eks (Mo) en 'n vuurvreter-vriendin. Hulle is besorg oor sy geestesgesondheid en krap dikwels vir hom kastaiings uit die vuur.

Nog 'n dokter gaan dood en Rose se lewe spiraal buite beheer. Hy is verslaaf aan kokaïene wat hy in 'n asmapomp versteek en kort-kort in die hospitaal snuif. Hy begin almal op aarde verdink. Hy beland in verregaande situasies soos Kingsley Amis se Lucky Jim, waar hy nie 'n rafel waardigheid behou nie. Hy word weer geskors.

Dis soos om 'n treinramp te aanskou. Met heelwat lagbuie tussenin. Dis nie 'n oomblik vervelig nie. En die moordenaar? Ek wonder of jy dit sal sien kom. Ek het êrens my bedenkings begin kry, so dit was nie onrealisties of heeltemal uit die bloute nie.

'n Baie onderhoudende, snaakse, hoogs spannende roman met 'n hoofkarakter wat jou dikwels vervreem omdat hy net daardie paar treë te ver gaan, hand uitruk en voor jou oë heeltemal uitrafel. Tog bly jy hoop dat hy orraait sal wees, want hy het 'n goeie hart en miskien moet hy net terug op sy medikasie. Dis voorwaar iets anders - oorspronklik en skitterend.

A Particularly Nasty Case deur Adam Kay is deur Orion Publishing Co uitgegee en kos R440 by Exclusive Books.

Illustrasie: Charlie Clift

Musée des Beaux Arts

About suffering they were never wrong,
The Old Masters: how well they understood
Its human position; how it takes place
While someone else is eating or opening a window or just walking dully along

How, when the aged are reverently, passionately waiting
For the miraculous birth, there always must be
Children who did not specially want it to happen, skating
On a pond at the edge of the wood:
They never forgot
That even the dreadful martyrdom must run its course
Anyhow in a corner, some untidy spot
Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse
Scratches its innocent behind on a tree.

In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away
Quite leisurely from the disaster; the ploughman may
Have heard the splash, the forsaken cry, 
But for him it was not an important failure; the sun shone
As it had to on the white legs disappearing into the green
Water; and the expensive delicate ship that must have seen
Something amazing, a boy falling out of the sky,
Had somewhere to get to and sailed calmly on.

W.H. Auden


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe