Die mooiste tye is verby

Liewe vriende
Soms voel ek ons het soveel ingeboet aan onskuld, nuuskierigheid en leesgierigheid met dié dat die internet vir ons alles op 'n skinkbord aanbied. Oral steek bots hand op om namens jou te dink.
Ek is 'n romantikus wat masjiene as die vyand beskou. Ons lewens makliker maak se voet. Dit gaan alles om geld. Blikbreine is nie breine nie. Hulle is databasisse wat geleer is om te reageer, hulle is wat hulle gevoer word: rommel in, rommel uit. Hulle enkodeerders is mense. Mense is onvolmaak en vol foute, maar hopelik, goeie hemel, beskik die meeste van ons nog oor 'n snarsie moraliteit en die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Kunsmatige intelligensie beskik nie daaroor nie.

Alles wat vir my lieflik en wonderbaarlik is, is eenvoudig en gratis en het te doen met die natuur. Ek bly vasklou aan die mooi herinnering van 'n era toe mense nog gesit en dink het. 'n Probleem is bepeins en van alle kante beskou. Jy het kreatief bly tob tot 'n oplossing oopval soos 'n gelukspakkie. Selfs vertaling was 'n avontuur: Jy dink en oordink tot die frase wat die heel naaste aan die gevoelswaarde van die oorspronklike is, aan jou deur klop. Eureka.
Toe televisie in ons land opdaag, was ek goddank al op hoërskool en reeds 'n boekwurm. Die eerste programme was ligte snert wat die SAUK goedkoop kon aankoop van lande wat ons nie geboikot het nie. Ons het dit alles opgeslurp, want dit was prentjies. Maar ek het gou besef die prentjies in my kop is mooier.
Ek skop vas teen beelde wat vir my opgedis word. Ek wil self verbeel. Die geweld in rolprente en reekse oorweldig my. Ek knyp my oë toe EN hou my hande voor my gesig. Akteurs praat te hard en onbeskof. Hulle skreeugevegte laat my soos 'n getraumatiseerde kind voel. Daar is omtrent geen reeks wat ons kan kyk nie.
Ek kan lees oor geweld, want my brein filtreer dit sodat ek nie grafiese detail sien nie. Ek kan lees oor enigiets maar ek kan nie eens klein video's soos TED Talks kyk nie. My gedagtes dwaal af. Die besef dat ek bitter min van hierdie inligting gaan onthou en kan oorvertel, frustreer my. As ek dit gelees het, sou ek kon. Dieselfde met podcasts. Ek onthou net wat ek lees. My visuele aandagspan kan geen greep langer as 'n Tik Tok akkommodeer nie, en dan moet dit snaaks wees, hoor.

'n Vriendin het 'n video aangestuur oor hoedat mense nie meer lees nie. Ek wou dink dis ironies, toe besef ek: Dit help nie jy preek vir bekeerdes nie. Mense wat die artikel sou léés eerder as luister, is in elk geval lesers. Ek het dit nie gekyk nie.
Ek is 'n dinosourus wat vasklou aan verbeelding, kreatiwiteit en selfstandige denke. Lees laat loop my kop na lande ver en woes geleë, al is daardie landskap deur iemand anders geskep en bevolk: Ek kan dit steeds self voor die gees roep. Ek hou daarvan om in iemand se kop tyd deur te bring en na die wêreld deur hulle oë te kyk, maar nie visueel nie. Wat ek soek, is net woorde.
Kinders vandag – en dankie tog myne is al grootmense – se volle aandag word in beslag geneem deur hulle selfoonskerms. As 'n jong mens van voor af aangestap kom, beter jy vinnig systap. Gister in my motor druk ek die afstandbeheer om ons kompleks se elektriese hek oop te maak. Twee seuns kom aangestap – een woon in die kompleks en kom die hek vir 'n vriend oopmaak. Toe die hek asof vanself oopgaan, loop hulle bloot deur sonder om op te kyk van hulle skermpies, sodat ek moet wag om weer die afstandbeheer te druk. Ek gee 'n ligte toet om hulle op hulle slegte maniere attent te maak: As iemand die hek oopmaak, wag jy tot hulle deurry voordat jy deurstap, so nie gaan die hek op jou hak toe, reg voor die een wat wil inry. Hulle het skaars opgekyk. By ons motorhuis sien ek die een seun kom teruggestap. Ek wil vir hom verduidelik waarom ek die toeter gedruk het, maar hy kyk glad nie op van sy skerm nie. Dikwels is oorfone ook deel van die optelsom en dan is alle kommunikasie in elk geval onmoontlik.
In Australië is sosiale media nou verbode vir kinders onder 16. Speel 'n sport of lees 'n boek, het die eerste minister gesê. Ek is bevrees dis soos om die staldeur toe te maak as die perd reeds weggehol het. Die horlosie laat hom nie terugdraai nie.
Die volgende geslag grootmense loop vooroorgeboë en sien niks om hulle raak nie. Dit is wat tegnologiese vooruitgang reggekry het. Ek weet ek klink oud. Maar ek onthou mooier dae.
Groete van oog tot oog
Deborah

Epitaph
Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon,
die jaar toe ek laas gelukkig was.
Toe het ek afgekom by die trap & vir my water getap in
die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby.
Anyway & toe het ek gedroom dat ek in ′n jaar so ver as
moontlik van 1998 af gaan woon.
Laasjaar het ek gedroom dat ek weer in my eie mooiste
woorde woon in my mooiste dorp & dat ek weer gesond begin te word.
Toe het ek wakkergeskrik & iets was nie pluis nie,
ek's so lost ek was nie in my eie huis nie.
die mooiste woorde is verby.
Anyway & toe het ek gedroom dat ek in 'n taal so ver as
moontlik van Afrikaans af kan gaan woon.
In my boyhood het ek ′n meisie gehad sy was beautiful,
beyond afrikaans sy kon heelnag my so hartseer dans
& sy was somehow Gert se laatste stance.
En toe het sy gedroom dat sy in een lyf so ver as moonlik
van my lyf af gaan woon
Die mooiste liefde is verby.
Anyway & toe het ek gedroom dat ek by haar lyf so ver as
moontlik van my lyf af gaan woon.
Somewhere het ek gedroom dat ek my eie begrafnis bywoon
& Pa was daar & Ma was daar & al my geliefdes soos in my
gelukkigste jaar.
Maar die mooiste was dit die mooiste was dit dit was dat
ek afgebuk het na die grond & myself gesoen het op my eie mond.
Die mooiste drome is verby.
Anyway en toe het ek gedroom dat ek in 'n droom so ver
as moontlik van hier en nou af kan gaan woon.
Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon,
die jaar toe ek laas gelukkig was.
Toe het ek afgekom by die trap & vir my water getap in
die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby.
Anyway toe het ek gedroom dat ek in 'n land so ver als
moontlik van Suid-Afrika af gaan woon. en toe het ek gedroom
dat ek in ′n land so ver als moontlik van Suid-Afrika af gaan woon.
Gert Vlok Nel