Die laaste boek

Die laaste boek
Foto deur Wolfgang Hasselmann / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the article in English here.

Departure(s) deur Julian Barnes

Op universiteit het ons Great Expectations en Mill on the Floss gelees, maar eers daarna het ek Julian Barnes ontdek. En ander Britse skrywers soos Woolf, Fowles, Mantel, Amis, Zadie Smith. Barnes se Flaubert's Parrot het my mateloos beïndruk; dis een van daardie boeke wat ek weer wil lees.

Nou het hy, op 80, sy laaste boek gepubliseer, volgens hom. Departures is eenvoudig lieflik. Dis soos om tyd te verwyl in die besige kop van 'n belese, nuuskierige mens met 'n uitstekende humorsin. Die hele boek is soos 'n lang nuusbrief, waar hy amper direk met die leser gesels en vertel van sy gedagtes, idees en belewenisse. Op daardie gevatte, intelligente Britse manier, met 'n klaarheid van uitdrukking wat skaars geraak het.

Hy dink na oor artikels en boeke wat hy gelees het. Hy lees graag oor rariteite: "... my interest tends towards the ghoulish and the extreme." Hy sou Huisgenoot geniet het. Hy vertel van die man wie se toonnaels so lank was dat hy nie meer kon loop nie. Vreemde voorwerpe wat gesluk of in die rektum opgedruk word, waarvan die raarste miniatuur borsbeelde van Napoleon was. Die man wat sy tracheotomiebuis uitgetrek en 'n sigaret in die gaatjie ingedruk het.

Hy skryf oor geheue, wat hom fassineer. Hy bespiegel weer oor Proust se Madeleine-oomblik en vertel van IAM (involuntary autobiographical memory) en HASM (highly superior autobiographical memory) – mense wat absoluut alles onthou. Nietzsche het in Also Sprach Zarathrusta woord vir woord 'n insident herhaal uit 'n boek wat 'n halfeeu vantevore gepubliseer is. Sy suster was oortuig dat hy 'n herinnering wat na vore gekom het, verwar het met oorspronklike denke. Daar was in die Afrikaanse letterkunde ook so 'n geval.

Met 'n omweg, en heel omslagtig en immer fassinerend en onderhoudend vertel hy van twee vriende wat hy op Oxford gehad het. Hy het Stephen en Jean aan mekaar voorgestel en hulle het uitgegaan. Aan die einde van hulle studie het hulle besluit hulle moet óf trou óf uitmekaargaan. Die laaste het gebeur en die drie vriende het kontak verloor.

Ongeveer veertig jaar later het hy hulle 'n tweede keer bymekaar gebring en hulle het weer begin uitgaan. Sou dit hou? Hy filosofeer oor verhoudings, tweede kanse en verydelde liefde.

Jy moet self lees hoe dit uitspeel. Tussendeur gesels hy oor ouderdom en aftakeling, afskeide en vertrekke. Ten slotte spreek hy die leser direk aan:

Still, I hope you've enjoyed our relationship over the years. I certainly have. Your presence has delighted me - indeed, I would be nothing without you. So, I'll just rest my hand briefly on your forearm - no, don't stop looking - and then slip away. No, don't stop looking.

Hoe hartseer is dit dat ons mees uitnemende penvriende een vir een van die toneel verdwyn. Dis 'n grootse plesier om te lees.

Departure(s) deur Julian Barnes is deur Vintage Publishing uitgegee en kos R510 by Exclusive Books.

Breach of Honor deur Janice Cantore

Hierdie spannende misdaadverhaal speel in 'n klein dorpie, Table Rock, af. Leah Radcliff is 'n geregsdienaar. Sy is getroud met Brad Draper, die dorpie se held. Hy was voorheen 'n voetbalster en het as polisieman 'n medalje vir dapperheid gewen. Sy pa is skatryk en besit min of meer die hele dorp. Brad is sjarmant en dodelik aantreklik. Wat niemand weet nie is dat hy by die huis sy gevaarlike humeur op Leah uithaal. Sy word pimpel en pers geslaan waar niemand die bloukolle kan sien nie, geïntimideer en verneder. Sy skryf dit toe aan werkspanning en vertel vir niemand daarvan nie.

Een nag agtervolg sy hom – sy het vermoed hy het 'n affair – en is die ooggetuie van 'n verdagte transaksie. Dit wil lyk asof Brad en sy pelle korrupte polisiemanne is. By die huis konfronteer sy hom daarmee en hy word moorddadig kwaad. Terwyl hy besig is om haar te verwurg, gryp haar tastende hand sy dienspistool raak en sy skiet hom dood. Dis nie 'n spoiler nie, dit gebeur aan die begin van die boek.

Nou is Leah die mees gehate vrou in die dorp. Brad se pa huur die beste regslui en sy word skuldig bevind aan moord – hulle storie is dat sy hom in sy slaap geskiet het.

In die tronk bevriend Leah 'n sterk vrou en sy vind die Heer. Op die agtergrond het daar regdeur 'n regverdige man gehuiwer: offisier Clint Tanner wat van jongs af op haar verlief was. Hy is ook gelowig en hou aan bid vir haar.

Meer wil ek nie verklap nie. 'n Leser wil nie graag bepreek word oor die krag van gebed nie, of jy nou saamstem of nie. Tog is dit hoogs spannend en menslik. Ek het al hoe vinniger gelees einde toe, (redelik) seker dat reg en geregtigheid gaan seëvier.

Breach of Honor deur Janice Cantore is deur Tyndale House Publishers uitgegee en kos R381 by Exclusive Books.

Want to Know a Secret deur Freida McFadden

Ja, wat, ek lees maar al die Freidas. Dis soos kitskos: krakelrig bros en verslawend. Hierdie een herinner nogal aan Big Little Lies: Dit handel oor kompeterende, tewerige skoolmammas. April Masterton is 'n smaakmaker; 'n kok op YouTube. Haar brownies smelt in die mond. Sy gebruik altyd hompe botter. Self eet sy amper niks, want sy moet goed lyk op kamera.

April-hulle kry nuwe bure en iemand whatsapp en vra haar of sy weet waar haar kind is. Hy is weg. Gelukkig kom die gawe nuwe buurvrou, Maria, tot haar redding en hulle word vriende. April help Maria om deur die eksklusiewe mammie-kliek aanvaar te word. Tog begin dinge toenemend skeefloop vir April. Wie is besig om haar te ondermyn en per WhatsApp te teister? Is haar man (alweer) ontrou? Wie blaker soveel haatspraak in reaksie op haar video clips uit?

Dis huishoudelike noir. April is die verteller, en onthou: Vertellers is nie betroubaar nie. Dis die natuur van die dier.

Meer kan ek nie verklap nie. Dis hoogs spannend en teen dié tyd weet ek om nie aannames te maak nie.

Want to Know a Secret deur Freida McFadden is deur Poisoned Penn Press uitgegee en kos R266 by Graffiti.

ons het half in die middel

ons het half in die middel van die vry-
staat met mindere demone gebly my hare in
hoofsaak altyd kort gesny die sandklipmure
was van meer wind as weer
gegroef die meeste dae was dit berchtesgaden partymaal
stalag luft. die pad dorp toe besaai met die geeste
van meerderwaardigheid, sodat dit vreemd was dat my pa my
nooit teen 'n ander gewaarsku het nie, daardie
draers van rykdom sonder werk plesier sonder gewete
wetenskap sonder siel kennis sonder karakter politiek sonder beginsel
handel sonder moraliteit aanbidding sonder opoffering.
my maats was egter die een soos die
ander barry en francois en dirk en henkie hatting selfs org,
nou al dood. nie een van hulle het geweet watter soort hond ek het nie
todat die airedale 'n skaap gevang het, en toe was daardie geheimenis ook ontwrig.
dit is moontlik dat hulle ouers hul teen mý gewaarsku het. dink ek,
en kam my hare terug.

Gilbert Gibson


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe