Die beste en die slegste van tye

Die beste en die slegste van tye
Foto deur eowynring / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

2025, die jaar van die slang, was listig en lastig. Vuisvoos loer ons tussen ons vingers deur na beelde van die fragiele vredesooreenkoms tussen Israel en Gaza, na die polisiekommissaris van KZN, generaal Mkhwanazi, se uitwys van vrot kolle in misdaadbestryding, en ons wens die jaar wil nou klaarkry. Goeie mense verlaat die gebou, soos Jane Goodall.

Die goedheid vanself. Een van die aarde se eregaste. Foto: Craig Abraham

'n Hongaar wie se naam ons nie kan uitspreek nie – László Krasznahorkai – wen die Nobelprys vir Letterkunde. Selfs my twee mees belese vriende het nog nie van sy boeke gelees nie. Ek wil nou Satantango aanpak.

László met die sagte oë.

Ons steier onder die gewig van hierdie jaar se maande. Nou wonder ek: Wat laat jou soggens uit die bed opstaan? Wat laat my opstaan?

Wat sê Maslow?

Fisiologies:

Kos laat my opstaan. Steeds deur newels van slaap begin ek beplan wat ons vandag gaan eet. Dit bring belofte en struktuur. Ek het 'n sagte bed. Ek het voortgeplant en my kinders floreer op die planeet.

Veiligheid:

Ek voel meestal veilig en ek is gesond. Ek het 'n dak oor my kop. Werkies kom na my hand.

Liefde:

Iemand het my lief. Ek het fabelagtige vriende en my kinders praat met my. My kat is vet en gelukkig. Ek behoort.

Agting:

Ek is 'n vry fokken vrou en dikwels kry ek positiewe terugvoer. Ek voel beter oor myself as in enige ander stadium van my lewe.

Selfverwesenliking:

Daar is soveel wat ek nog wil sê. Ek het 'n dringende behoefte om mense se harte aan te raak en die wêreld sagter te maak.

Soos potplante het ons nie regtig soveel nodig om te oorleef of selfs gelukkig te wees nie. 'n Neef van my was in 'n liefdelose huwelik en vertel hy het op 'n dag besluit daar is niks oor om voor te lewe nie. Laat die pyn net ophou. Daardie dag glimlag 'n kollega mooi vir hom en hy besluit om aan te gaan.

Waarna mense smag, soos 'n plant na water, son en grond, is om te behoort. Verbinding. Gekonnekteerdheid. Om te deel in ander se vreugde of smart maak die lewe betekenisvol. Dit het ek Woensdag gesien.

Foto: Mercy Kannemeyer

Ons was by die Universiteit van Johannesburg vir 'n gradeplegtigheid. Ons het gegaan vir Antjie Krog, wat 'n eredoktorsgraad ontvang. Toe moes ons min of meer drie ure sit deur 'n prosessie van studente wat oor die verhoog trippel, balanseer en waggel op spykerhakke, in aandrokke met splete en blinkers. Maar die blinkste was hulle oë. Die vreugde op die gesigte van die gradiandi was grandioos. En hulle ouers se ongebreidelde trots wat luidkeels uiting kry in ululering, stamp van voete en knopkieries, fluit en blaas op fluitjies. Iemand het geskree: "That's my wife!" Dit was so anders as die stywehol plegtighede van my verlede.

Toe 'n redelike groot damestudent op die hoogste, dunste stiletto-sandale voor die kansellier moet kniel, val sy plat op die mat en kan nie opstaan nie. Een van die konvokasie het by haar gekniel, haar sandale se bandjies losgemaak, dit uitgetrek en haar opgetrek.

Ons was in die middel van 'n moerse makietie en meelewing het ons laat huil.

Een van die ouer studente wat 'n doktorsgraad sou ontvang, is in die township dood in 'n tref-en-trap-ongeluk. Haar graad is postuum toegeken, doktor Oliphant s'n, en die kansellier het sag gepraat met haar bedroefde familie. Ons het saamgetraan, oor ons sussie wat vanjaar dood is en wie se verjaarsdag dit juis Woensdag was. Ons was daar.

Daar is mense op aarde wat 'n mens trots maak om 'n mens te wees. Antjie is so 'n iemand. Sy het saam met die kansellier en fakulteit gejive en twee van haar gedigte voorgelees. Met 'n vers wat hoofaaaklik oor klank en ritme gaan, het sy die studentekorps en hulle ouers opgerui tot rumoerige pandemonium.

Hertzogpryswenners en stoutgatte agter die fietsloods.

Iets wat my laat lag het dié week: My mens het 'n kiestand laat trek en moes tussen die gradeplegtigheid en die ete gou haar mond gaan spoel om ontsteking te voorkom. In die damesbadkamer voor die spieël wil sy die plastieksakkie koeksoda en sout wat sy tuis gemeng het, by die water in haar botteltjie gooi toe iemand by die deur inkom. Op heterdaad betrap gryp sy die sakkie dat jy net wit stof sien waai. Sy verdwyn toe maar met haar waterbottel by die toilethokkie in, soos iemand met 'n snuifgewoonte, maar darem halaal.

Een ding wat my langer in die bed hou is woordspeletjies. Wanneer my oë oopgaan, speel ek op my foon Wordle, Obsessie, Blossom en Waffle. En my jongste verslawing is my vriend Willem se webwerf, Kriptiek, met Dilemma, Blitstiek en Slimstiek.

Nog 'n rede om uit die bed op te staan: POTUS met flatus het nie die Nobelprys vir Vrede gewen waarna hy gemik het nie.

Maats, ons gaan blymoedig voort.

Liefde,
Deborah

dit rammel sag

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.
vanuit die binnevlerk van wolke veer
die donderweer al met die stil verhemeltes
van berge langs. 'n tiptol stip die mees 

intieme plek aan in die esdoringboom –
die plek waar die stam die stilste boomwees hou.
o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom
uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse 

vel oopsnou na die geur van dragte vol
geloftes. in haar hare bloei die rose.
haar laaste koelte damp vanuit haar oksels 

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy
so karig, so alleen, of het sy so
gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

Antjie Krog

0:00
/0:21

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe