Die groot prentjie

Liewe vriende
Ek het weer begin skryf aan 'n roman, want hunkerend is die dwase hart. Ek vergeet altyd om vir skrywers te vra: As jy besig is met 'n manuskrip, lees jy elke oggend eers alles wat jy reeds geskryf het voor jy weer begin skryf, of gaan jy net aan?
Dis moeilik om jou plek te hou wanneer jy skryf, soos met lees. Soms raak jy verward en verdwaal in die plot. Waar is ek in die storie? Soms wil ek teruggaan en 'n woord verander. Ek soek in die dokument en probeer die cursor voor of ná die woord plaas wat ek wil verander. Maar waar op aarde is die cursor? Waar is ek? Die cursor is skoonveld. Cursor is "wyser" in Afrikaans, maar baie dinge is wysers. Net ek word nie wyser.
Ewenwel, om geen cooking clue te hê waar die cursor is nie, herinner my aan momente in my lewe. Dis soos wanneer jy 'n foto oopmaak op jou rekenaar en dis enorm. Al wat jy sien is pixels. Jy moet uitzoom en uitzoom om kop of stert daarvan uit te maak. Sonder rigtingwyser of sekondewyser, sonder kompasnaald of padkaart dwaal ons doelloos rond in die groot prentjie met 'n kop wat van links na regs swiep. Ons hou die horison dop en wag op die kaptein. Hou my vas, korporaal. Ground Control to Major Tom. Can you hear me, Major Tom?

Ek het nog 'n probleem: My hande huiwer nie in die lug bo die laptop se toetsbord soos dié van 'n sneltikster oor 'n tikmasjien nie, my polse word lam en die kussing van my hand gaan rus op die touchpad. Ek kry "raakpaneel" vir touchpad, maar wie op aarde gaan weet waarvan ek praat? Wanneer die vlesige deel van my hand op die raakpaneel rus, spring die wyser rond. Ek tik "gelukkig", maar dit verskyn nie op die skerm nie. O, gaats, dit het drie rye terug binne-in die woord "sielsalig" gaan wegkruip. Nou staan daar "sielgelukkigsalig".
Om die daaglikse lewe te navigeer is ewe raaiselagtig. Dis vol slaggate en afdraaipaaie. As ons net kan weet presies waar ons is. Het iemand vir my 'n flits?
My jongste dogter bel om my in te lig dat die vloek wat vir tien jaar op Pisces gerus het, dié week gelig is. Nou is ons in kalm vaarwater met die wind van agter. Sy is ook 'n vis. Dit herinner my aan die bose feetjie-peetma wat nie na die doop genooi is nie en toe die Slapende Skone vervloek het. Ek het nog altyd gewonder of die Skone se asem vars was toe die prins haar na so 'n lang slaap wakkersoen. Dit was seker die minste van haar probleme. Wel, medevisse, ons vloek is glo gelig en ek maak sommer 'n bottel borrels oop.
'n Paar goed het my dié week opgeval. Iemand het die volgende aanbeveel: As iemand selfdood wil begaan, moet jy hulle vra: "Hoe laat is dit?" Hulle verkeer in 'n staat van disgekonnekteerdheid; los van die werklikheid, die oomblik, hulle eie lyf. Hierdie eenvoudige vraag wat ons so gewoond is om na die beste van ons vermoë te beantwoord, anker hulle opeens in die oomblik en aan die grond. Dit maak sin. As jy eers geantwoord het: "Elf minute oor vier," gaan jy dalk vergeet dat jy 'n einde aan alles wou maak. Hopelik.
Ek het ook die volgende gelees: In Japan is bevind dat blou geleiligte (LED lights) in treinstasies selfdood drasties laat afneem, met soveel as 84%. Mense is baie uitgestres in Japan, soos oral, en werp hulle dikwels voor treine. Dis traumaties en morsig. Maar blou ligte kalmeer gemoedere en maak harte rustig. Ek weet ek is 'n sucker vir 'n gekleurde lig, veral blou.

Dan het my vriendin Marisa 'n storie vertel. Sy is een van die uitmuntende raconteurs van my prille jeug. Wanneer ons mekaar weer sien, hervat die narratief eenvoudig waar dit opgehou het. Sy het hierdie storie vertel:
Iemand se ouma het een oggend wakkergeword en gesê: Vandag gaan ek dood wees en in 'n kis lê. Hulle het nie die dokter ontbied nie, net haar kinders in alle uithoeke laat weet - selfs oorsee. Almal het in motors en op vliegtuie geklim en na haar gehaas. Toe ontaard dit later in 'n week lange paartie en sy gaan glad nie dood nie. Sy leef vandag nog.
Ek hoop jou week is vol stories en jou planete is mooi belyn en ek hoop die pad vind jou voete.
Liefde
Deborah

slaap jy solank, dan hou ek die fort
vir jaco botha (1972– 2016)
beteuterd soos twee pienk kwitansies
pas ontvang vir twaalf kopieë
van ons ma-verhandelings
dwaal ek en jy na die middel-kampus
van uct platane platane en ʼn flitsblik
van die see ek onthou hoe jy daai aand
in ons gehawende flat digby de waal-park
mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,
sodat jy weer behoorlik kan asemhaal
ek sien jou soms steeds dáár
te hyper om lekker te sit dalk daarom
deurlopend op soek na iets om aan te steek
of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter
of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap
onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die more wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse,
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die more ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar
onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise
oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke
van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld
vir checkers se goedkoopste sigarette?
ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis
staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla
dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel
nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky
op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap
eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.
ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag
is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys
intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou
solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank
tom dreyer