DeBoeke #1

Skrywers is ewig op soek na vars, buitengewone maniere om die dood op te dis. Knus, gesellige moordverhale skuur skouer met komiese moordverhale op die rak. Lesers se morele kompas word beproef: dikwels gebeur dit dat ons party trek vir die moordenaar, veral as hulle, soos Orphan X en Dexter, slegs bose mense doodmaak. A Serial Killer’s Guide to Marriage is ’n voorbeeld hiervan. Hazel en Fox is ’n egpaar met ’n skattige dogtertjie. Hulle is mooi, suksesvol en gelukkig. Die wêreld is hulle speelplek en hulle kerjakker in eksotiese bestemmings. Maar hulle geheime stokperdjie is om booswigte van die aardbodem te laat verdwyn. Hulle is jurie, regter en laksman. Dis hoe hulle ontmoet het: op ’n moordtoneel waar Alex haar vlymskerp mes ingelê het.
Noudat hulle ouers geword het, wil Fox hê dat hulle hul moorddadige aktiwiteite stopsit. Daar is nou te veel op die spel. Hy woon selfs in die geheim AA-vergaderings by om sy moordlus in toom te hou. Maar vir Hazel het die vonk uit hulle huwelik verdwyn noudat hulle gewone voorstedelike mense is. Sy smag na die adrenalien, die saam planne beraam en gevare trotseer. Sy vermoor sommer gou ’n sekspes wat haar in die park lastig val en sê nie vir Fox hiervan nie.

Wat gaan dit verg om die huppel in hulle huwelik terug te sit? Jy kan seker raai. Die storielyn klink miskien ligsinnig, maar dis in werklikheid ’n diepsinnige besinning oor die lewe en verhoudings. Die karakters is koddig, komies en skerpgeteken. Alex besin oor langtermynverhoudings:
Where were the great love stories of a long-term relationship? Maybe those were too complicated, too boring. Easier to end with a simple ‘Happily ever after’, a flossy summary of a lifetime together with no insight into how they coped after THE END. We never get to read about Elizabeth Bennet berating Darcy for always leaving his pants on the bathroom floor. We never watched Cinderella and her prince on the carriage ride home from dinner, having a drunken row about him being a little too Charming with a slutty fairy from the other side of the valley. Only Romeo and Juliet went out on a high, still in love, each thinking the other was perfect … because they’d only had like, five minutes together. Was that the secret? Die before it fades?
Die roman met die uitklopreël “A couple that kills together, stays together” is hoogs vermaaklik en spannend.
A Serial Killer’s Guide to Marriage deur Asia Mackay is deur Headline Publishing Group uitgegee en kos R347 by Graffiti.
All the Other Mothers Hate Me is ook hoogs vermaaklik. Die heldin, Florence, is ’n tou-opgooier, ’n mooi vrou in haar dertigs wat nog nooit in haar lewe iets klaargemaak het nie. Sy is Amerikaans, maar woon in Londen. Sy was deel van ’n girl band en sy en die bestuurder het ’n kind gehad, hoewel hy eintlik op ’n ander band member verlief was. Sy is geskei en min of meer werkloos. Haar eksman is suksesvol en hulle seun is in ’n peperduur privaatskool wat drup van eeue se tradisie. Dylan is ’n koddige kind wat nêrens inpas nie. Hy word geboelie. Al waaroor hy omgee, is die omgewing en sy skilpad, Greta. Sy enigste vriend is hulle bejaarde buurman, ook 'n omgewingsaktivis.

Dan raak ’n seun, Alfie, vermis op hulle velduitstappie. Hy en Dylan was saam ingedeel. Alfie se rugsak is onder Dylan se bed en Florence vermoed die ergste, want Alfie het Dylan genadeloos geboelie. Sy begin flink die reg verydel, plant vals leidrade en wis getuienis uit. Dylan is al wat sy het, behalwe betekenislose one night stands. Sy het ook nie vriende nie. Sy en ’n Koreaanse ma raak wel soort van bevriend tydens Florence se frenetiese speurtog.
Dit wil begin lyk asof die sameswering veel groter is as Dylan. ’n Mens begin wens iets wil net een maal uitwerk vir Florence. Dis snaaks, roerend en spannend. Ek beveel dit aan.
All the Other Mothers Hate Me deur Sarah Harman is deur 4th Estate uitgegee en kos R369 by Graffiti.
Ek het die lekkerste vir laaste gehou. Confessions is ’n onweerstaanbare debuut. Aan die kern van hierdie digterlike roman is 9/11 2001, daardie voorval wat Amerika se hart uitgeruk het. Cora Brady se ma het selfdood begaan en haar pa maak haar in New York groot. Tot hy in die Twin Towers sterf op daardie noodlottige dag. Nou is sy ankerloos. Sy ontvang ’n brief van haar ma se vervreemde suster wat nog in Ierland woon, waar haar ouers opgegroei het. Sy gaan bly by die tante en gaandeweg vou haar ouers se jeug voor haar oop en begin soveel dinge sin maak.
Dan word die leser teruggeneem na 1974 en beskou gebeure deur die oë van Roisin Dooley, Cora se tante. Roisin en haar suster Maire, Cora se ma, was na aan mekaar. Cora was ’n talentvolle storieverteller en Maire ’n grafiese kunstenaar. Hulle was al twee verlief op ’n seun in die buurt, Michael (Cora se pa). Uiteindelik kies hy Maire, omdat hy voel dat sy hom nodig het. Maire was altyd wêreldvreemd, maar iets wat op kunsskool gebeur het, het haar permanent van balans gegooi.
Dan verskuif die toneel na New York in 1979, waar Maire kuns gaan studeer.
Die volgende perspektief is weer Roisin s’n, in Ierland in 1981. Sy en Michael is nou in ’n verhouding.

Daarna verskuif dit na Lyca Brady, Cora se dogter, in Ierland, in 2018. Roisin is soos ’n ouma vir haar.
Gebeure spring weer terug na Michael Brady, Cora se pa, in New York in 1992. Sy vrou Maire is toenemend depressief en hy begin aan Roisin skryf, lang briewe wat sy in ’n koekblik bewaar.
Die roman eindig met Lyca Brady, in New York en Ierland, in die hede. Soos ’n legkaart bou sy die storie van haar herkoms stuk vir stuk uit ou foto’s en die briewe in die koekblik.
Dis dus die verhaal van drie generasies vroue en die wyse waarop hulle die lewe navigeer. Tussen hoofstukke of eras is daar aanwysings vir ’n rekenaarspeletjie wat deur Roisin en Maire ontwerp is. Aan die hart van die roman is ’n ou Victoriaanse huis vol spoke. Dis aangrypend en onneersitbaar. Die leser se oë beweeg flink deur die lywige boek. Hier is ’n storieverteller om dop te hou.
Confessions deur Catherine Airey is deur Penguin Viking uitgegee en kos R320 by Graffiti.

Liberty Life
Voo ek in my kooi klim
sal ek my laaste moed bymekaaskgap,
innie noode gan hal en
alles saamvou innie syde
die way Muslims iet, en bid
om in my slaap dood te gan.
Sag en sone pyn, van natural causes.
Soedat ie polis ytbetaal en my tanie
narie funegal mette smile bank toe kan stap.
Vi al my anties en uncles,
allie winkels ennie bank
kan tgugbetaal.
Lekke kan liewe,
innie black.
Met bgoes en sustes
op wie se skoue sy kan hyl
wanne sy oppe dag haa laitie mis.
Ashwin Arendse