Daar's 'n gat in die lap

Daar's 'n gat in die lap
Deel van 'n foto deur Le Tia / Unsplash
Ontwerp: ANGELA TUCK

Liewe vriende

Daar is mense wat gelukkig genoeg is om saam met iemand te leef wat edel, suiwer en bykans selfloos is. Ek is een van hulle – een van die mense wat met ’n engel saamleef, bedoel ek. So ’n deurskynende heiligheid sou moontlik ondraaglik pedanties word as dit nie gepaard gegaan het met 'n goddelooslike humorsin nie. Skoonheid daarby is ’n absolute bonus.

Vir die afgelope paar jaar, sedert haar aftrede, wy my persoon haar daaraan om haar beleërde oudste suster se lewe makliker te maak. Geen moeite of geld is ontsien nie. En tyd, wat gelyk is aan liefde. Ek wou-wou soms afgeskeep voel, maar besef dan: Ek woon saam met die mooiste mens. Wanneer sy haar sussie bel, word haar stem sag, vol deernis en ontferming: “Hallo, my sústertjie …”

Nou is haar sustertjie dood; haar projek, haar liefdestaak, haar hart se punt. Die suster wat met haar mooi, weerlose hart deel van die lap van ons dag geword het. Nou swem my mens vir al wat sy werd is om haar neus bo water te hou. En waar is ek? Ek is ’n spons, ’n spieël, ’n stemvurk wat elke traan en vibrasie optel en na haar terugkaats. Nutteloos.

Ek lees soms op Facebook dat iemand hulleself 'n empaat noem. Dan dink ek: empaat, smartvraat. Net die feit dat jy huil oor iemand se hond wat dood is, maak haar verlies nie minder nie.

Dit is weer soos toe my dogters norserige tieners was en ek hulle nie meer op my skoot kon tel en vasdruk nie – nie dat ek ooit dáármee goed was nie. My liefdestaal is kos. Die kinders noem my ’n feeder. Ek het destyds in die nag wakker gelê en gedink: so lief, so liéf het ek hulle. Môre gaan ek dit mooier wys, môre gaan ek fokus en intense aandag verleen. Môre breek aan en wat doen ek? Ek werk, kom huis toe en haal my neus net uit ’n boek om hulle gunsteling-tunakasserol of broccoli-hoender te bak en ’n ingewikkelde slaai te meng. Ewenwel, so is dit nou weer.

Kliniese depressie, dink ek, is wanneer jy sonder rede depressief is. Die mengeldrankie in jou bloed en die ensieme in jou brein is problematies. Daaraan ly ons nie. Ons verstekmodus is geluk, dankbaarheid, verwondering. Maar soms skop die lewe jou in die tande en klap die glimlag van jou gesig af.

’n Mens ontwikkel ’n sagte plek vir die alledaagse. En dan, eensklaps, word dit voor jou neus weggeruk. Jy laat val 'n steek en die gat in die breiwerk gaap al groter. Jy leef vir weke in ’n staat van afgryse en adrenalien. Dan gebeur die ergste en jou lewe moet eenvoudig voortgaan. Die adrenalien wyk uit jou lyf en jou bed word ’n magneet.

Hoe oorkom 'n mens ooit enigiets, in die een lewe wat jy het? Ek is nog nie oor die dood van my broers nie en weet nie of ek ooit sal wees nie. Hulle besoek my gereeld in drome snags. Hulle is hoopvol en vol verlange. Springlewendig. You don't forget the past, you don't forget a thing, you live with it, that's all. Ons hink blymoedig voort.

Is daar geen balsem in Gilead nie? In een van Anne Tyler se romans was die gesin se kinders siek en toe hulle koors breek, smag hulle, verswak, na palmharte om te eet. Iets waarvan hulle nog net gehoor het.

Geblikte en gebottelde troosdoepa.

Wat my laat opstaan en aangaan, ek wat eintlik die rots en troos behoort te wees, is klein glimpse van die alledaagse, van aweregse humor. Soos my persoon wat, met blou handskoene wat te knap is omdat die seksistiese vervaardigers skoonmaakhandskoene uitsluitlik vir vroue maak en jy amper nooit ’n “large” paar teëkom nie, voor my staan en sê: “Moenie weer geel Toilet Duck koop nie. Dit lyk soos óú urine.”

Steeds in die badkamer: Om my hare te was, het ’n haas onoorkombare hindernis geword. Dis koud en ek is te bedremmeld vir lang, nat slierte teen my nek. Ek dra nou daardie krimpelienbuisserpe wat jy onderstebo oor jou gesig sit en dan terugvou om al jou hare te verskans.

My selfoon het een stappie verder gegaan as “face does not match”. Nou staan daar dikwels: “No face detected.” Eina.

Wanneer ’n mens lekker saam met iemand woon, verskoon jy hulle geite soos hulle joune ignoreer. Daarin lê genade. My mens los gewoonlik die mikrogolf oop sodat die liggie vergeefs bly skyn. Ek wys dit nie meer uit nie, ek maak dit net toe. Toe haar broer tydens ons donkerste winter onlangs vir ’n maand by ons bly, merk ek hy doen dieselfde. Dalk is dit geneties. En toe lees ek iets interessants in ’n roman, The Emperor of Gladness deur Ocean Vuyong. Die hoofkarakter merk uit die bloute op: die mooiste lig op aarde, ooit, is vir hom die lig van ’n mikrogolf wat oopstaan in ’n donker kamer:

I can’t explain it. But it’s the kind of light that makes you think about people. You feel both lost but also at peace with everything, and it makes you want to call somebody on the phone for no reason.

Daar het jy dit. Ek bel niemand ooit sonder rede nie, maar in die beseringstyd van hierdie winter het ons baie liggies nodig. Die Japannese staanlamp van bamboes en lap skyn dag en nag en die Turkse lamp van gietyster gooi permanent sy dowwe oranje lig. En die amber soutlamp. Dan het ons ook kerse nodig.

Nog iets verstommends uit bogenoemde roman handel oor die manier waarop mense rondom mekaar groei, deel word van mekaar se bloudruk en spiergeheue. Die mense waarna verwys word is werkers in 'n kitskos-franchise:

These people, bound by nothing but toil in a tiny kitchen that was never truly a kitchen, paid just above minimum wage, their presence known to each other mostly through muscle memory, the shape of their bodies ingrained in the psyche from hours of periphery maneuvering through the narrow counters and back rooms of a fast-food joint designed by a corporate architect, so that they would come to know the sound of each other's coughs and exhales better than those of their kin and loved ones.

Ek en my mens beweeg in tandem in ons klein kombuis, soos gesinchroniseerde swemmers, soos spieëlbeelde wat net amper-amper aanraak. Vanaand gaan ek vir haar Jamie Oliver se Spice Island-viskerrie maak wat baie kerf- en kapwerk verg, met vars rissies, knoffel, groenbone, uie, borrie, tamaryn en wat nog alles. En balsem en palmharte.

En ek los die mikrogolf oop.

Liefde
Deborah


Sonnet 29

When, in disgrace with fortune and men’s eyes,
I all alone beweep my outcast state,
And trouble deaf heaven with my bootless cries,
And look upon myself and curse my fate,
Wishing me like to one more rich in hope,
Featured like him, like him with friends possessed,
Desiring this man’s art and that man’s scope,
With what I most enjoy contented least;
Yet in these thoughts myself almost despising,
Haply I think on thee, and then my state,
(Like to the lark at break of day arising
From sullen earth) sings hymns at heaven’s gate;
For thy sweet love remembered such wealth brings
That then I scorn to change my state with kings.

William Shakespeare

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe