Daar kom pêre

Liewe vriende
In die week sif ek deur my kop op soek na iets om te deel op 'n Saterdag. Dié week was dit 'n karakter in die reeks Bodkin se opmerking:
"You should never trust a horse. Once I saw a horse running seven times around a field. Then he turned into a woman. She was the most beautiful woman I ever saw. Horses. They'll only break your heart."
Perde. Daar is nie meer 'n perd in my lewe nie, maar daar was 'n hele paar, in my jeug. Met soetklinkende name: Klinker, Sieraad, Vriendskap, Tellstar, Venus. Wanneer ek die name in my kop liefkoos, ruik ek gras, lusern, perdepille en staande water.
Toe ek klein was, het ons in Villieria gewoon en ek het elke perdeboek uit die biblioteek verslind, soos die Groen Heuwels-reeks.

Ek was een naweek saam met 'n nefie van Piet Retief op 'n perdekamp. Almal het in slaapsakke in 'n skuur geslaap en my stoute nefie het die volgende dag vir my gefluister: "Twee grootmense het mekaar gesteek." Doodonskuldig wou ek weet: "Met messe?" Daar is iets lyfliks aan perde: spoegbolle, sweet en salpeter. In die drama (en fliek) Equus het die sensualiteit van perde 'n sensitiewe seun versteur.

Toe ek tien is, trek ons na 'n plot buite Pretoria-Noord. Ons bure het met Amerikaanse saalperde geteel. Lieflike diere. Maar dit was die ander buurman se perd, Venus, wat my hart verower het. Venus met die romantiese naam was 'n reun – 'n hings wat verkeerdgemaak is. Hy was al ouer, 'n appelblou skimmel met dromerige oë. Hy was my terapiedier. Ek het graag lank in sy oë gestaar: Daar woon wêrelde. Ek het in sy neusvleuels – sag soos fluweel – geblaas en die geur van sy nek ingeasem. Hy het na my hand gekom en ek kon hom bloots, sonder saal of toom ry. Ons het 'n verstandhouding gehad: Hy was rustig en besadig en hy kon doen wat hy wou.
Shellie, my maatjie van die saalperdboerdery, is geleer om te alle tye haar wil op die reusediere af te dwing. Ek is vroeg-vroeg ingebreek deur 'n leeutemmer van 'n ma en het nie juis 'n wil oorgehad nie. Ek wou net op 'n perd sit en droom.
Venus was doodgoed, maar nie goed dood nie. Wanneer 'n paar kinders saam perdgery het, het hy klokslag uit die groep losgebreek en oop en toe gemaak huis se kant toe. Ander perde het begin meeding. Venus was 'n witblits. Daai was gevaarlike, onskuldige dae. Ons het soms langs die teerpad gehol waar ek in tonnelvisie 'n blur van karre en bome uit die hoeke van my oë gesien en besef het: Ek moet net bo bly. Ek het.
My sussie was die perdekind. Sy was van kleins af perdemal. Dit was asof sy, jonger as ek, eerste die passie toegeëien het, soos wat sy later seunsmal was. Laasgenoemde het my dronkgeslaan, maar die liefde vir perde kon ek verstaan. Dit en boeke. My sussie het 'n fier, lieflike perd gehad: Vriendskap.
My pa het vir my ook 'n perd gekoop, op afslag. 'n Perd op die spektrum. Sy vaar en moer was skousterre in die Amerikaanse saalperdstoet, maar hy het 'n skroef los gehad. As Tellstar 'n kar was, sou jy sê hy het 'n klop in die enjin gehad. Hy was onopleibaar buierig. Sekere dae, wanneer jy met die toom naderkom, het hy soos 'n mal ding in die kamp op en af gallop terwyl hy beurtelings op sy voor- en agterpote gaan staan en soos 'n masjiengeweer gepoep het. Dan het jy geweet: Vandag word daar nie 'n saal op hom gesit nie. Soms het hy, terwyl ek op sy rug was, vorentoe en agtertoe gebokspring. Ek het 'n cowboy-saal gehad en het geleer klou soos 'n neet. Eenkeer het hy 'n soort toeval gekry terwyl ek op sy rug was, en neergeslaan, met my en die saal half onder hom. Sy oë het omgedop en ek het lank gesukkel – nadat ek onder hom uitgekruip en die saal losgemaak en onder hom uitgewikkel het – om hom by te bring. Ek het hom toe maar huis toe gelei. Ons was al twee mankerig, ek boonop met die sware saal oor die arm.

'n Mens leer soveel van 'n onvoorspelbare perd. Ek glo ek is 'n beter motorbestuurder, met vinniger reflekse, as gevolg van Tellstar. 'n Mens leer dat liefde kan seermaak. Dat jy moet bemin wat jy het. Eintlik leer 'n mens heeltemal te veel begrip en geduld. Daar was later 'n paar mans in my lewe op wie die mallerige perd my voorberei het en by wie ek langer gebly het as wat ek moes.
Shellie, wat groot saalperdhingse na haar pype laat dans het, is vandag 'n hoogs suksesvolle sakemagnaat. Ek wat net wou sit en droom in die saal, doen in my sestigs steeds vryskutwerk teen minimumloon.
Daar is baie perde in die Bybel, en op klassieke skilderye. Toe ek en my broers klein was, het ons altyd gehuil wanneer perde doodgaan in flieks – nie cowboys of soldate nie.
Het jy al ooit gewonder wat was Wolraad Woltemade se perd se naam, hy wat net soveel van 'n held was en ook omgekom het? Ek het êrens gelees sy naam was Vonk, en elders dat hy nie Woltemade se perd was nie, maar 'n perd sonder naam wat hy by die Rietvlei-stalle geleen het.
Miskien was die ou in Bodkin reg dat perde jou hart sal breek. Hulle persoonlikhede is ontsettend sterk. Hulle behoort aan hulself, soos katte. Moenie die slaafse toewyding van 'n hond verwag nie. Jy moet hard werk. Behalwe Venus, wat 'n liefsak was.

Noudat dit lyk asof al die perde van Openbaring op die aardbol losgelaat word, is diere my redding en hoop. In die nanag droom ek oor al die vierbeniges wat my pad gekruis en my persoonlikheid help vorm het. Ek droom dat die hemel soos die plaas Groen Heuwels is, waar al die diere wat ek ooit liefgehad het, wei en waar ek saam met hulle in die kweek kan rondrol.
Liefde
Deborah

Job 49: 22 - 25, King James Version
19 Hast thou given the horse strength? hast thou clothed his neck with thunder?
20 Canst thou make him afraid as a grasshopper? the glory of his nostrils is terrible.
21 He paweth in the valley, and rejoiceth in his strength: he goeth on to meet the armed men.
22 He mocketh at fear, and is not affrighted; neither turneth he back from the sword.
23 The quiver rattleth against him, the glittering spear and the shield.
24 He swalloweth the ground with fierceness and rage: neither believeth he that it is the sound of the trumpet.
25 He saith among the trumpets, Ha, ha; and he smelleth the battle afar off, the thunder of the captains, and the shouting.
Job 49: 22 - 25