Booker en bos

Booker en bos
Foto deur Mike Cox / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the article in English here.

'n Buiteperd, David Szalay, het die 2025 Booker-prys losgeslaan met sy roman Flesh. Hy is Kanadees-Hongaars. 'n Tydjie gelede het my vriendin Mercia S. Burger die roman vir ons hier bespreek op haar kenmerkende droë manier. Dit klink nie juis na 'n blitsblaaier nie.

Mercia het die volgende gesê oor Szalay se hoofkarakter: "István word as plat karakter geskryf, eendimensioneel soos ’n skaduwee, tot op die punt van banaliteit. Hierdie karakter pas ideaal in by Szalay se minimalistiese skryfstyl en herinner aan ’n ander reëlbreker en tydgenoot, Rachel Cusk, se naamlose, passiewe karakters wat eerder luister as praat."

Haar slotsom was: "Die leser sal so ’n bietjie ongemak moet verduur en vasbyt, maar hierdie ou is ’n leë blik met ’n speld daarin. As jy hard genoeg skud, hoor jy tog iets."

Sy het voorspel dat dit op die Booker-kortlys sou wees. Lees haar bespreking hier. Volg ons vir verdere wenke en kristalballe.


Ons is vir 'n week met vakansie in Hazyview. So lyk my uitsig op hierdie oombik:

Vir heelparty mense beteken vakansie tyd om te lees. Vir my, wat elke dag lees vir al wat ek werd is, bied vakansie tyd om te dink, te gesels, te slaap en in die vuur te staar. Tot dusver, dag 4, het ek een legkaart van 1000 stukke voltooi en een boek gelees.

Die roman wat ek wel, tussen stap, swem en kuier gelees gekry het, is Martin Steyn se Donker spoor. Dis 'n heruitgawe van sy bekroonde debuutroman wat in 2015 die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur verwerf het. Ek het dit om die een of ander rede gemis en was bly oor die heruitgawe.

Ek het onlangs oor Steyn se Donker water geskryf, wat geensins 'n konvensionele misdaadroman is nie. Donker spoor is eenvoudig hipnoties boeiend. Dit het my laat wonder of skrywers van spanningslektuur soms vuisvoos of uitgeskryf raak. Ek praat nie van Steyn nie, maar van ander, soos Deon Meyer. Ek het vir ons enigste Afrikaanse Sondagkoerant 'n resensie oor sy jongste roman, Skorpio, geskryf. Dis verlede Sondag geplaas. Natuurlik was ek uiters positief, want ek is 'n lojale aanhanger in wie se lewe elke nuwe Meyer 'n vreugdevolle gebeurtenis is. En ek het lief geword vir sy karakters, soos vir vriende. Tog wonder ek of iets ooit weer so spannend sal wees soos 13 uur. Bennie Griessel het so mak en domesticated geraak. Nugter en gelukkig getroud. Natuurlik is ons bly dat hy die bottel weerstaan en gun ons hom 'n vreedsame huislike lewe, maar daar is nou soveel minder spanning rondom sy karakter. My heel gunsteling Deon Meyer was Koors, wat in 'n ander klas is.

Terug na Martin Steyn: Sy karakterisering is eweneens uitmuntend. En hy kan storielyne opdroom! In Donker spoor hou die leser haar hart vas vir die hoofkarakter, Jan Magson, wie se vrou oorlede is. Hy slaag nie daarin om weer lewensvreugde te vind nie, ook omdat daar 'n skuldgevoel is wat hom ry. Hy is eensaam en eet by die kombuiswasbak brood en konfyt. Sy seun woon in Engeland en is kwaad vir hom. Hy en sy kollega Menck het 'n amikale verhouding, maar is nie hegte vriende nie.

Hulle word gekonfronteer met die dood van kinders, iets wat selfs geharde polisiemanne omvergooi. Daar is 'n reeksmoordenaar aan die afmaai onder skoolmeisies. Hulle is sestien of sewentien, meestal met lang bruin hare. Hulle word langs die pad opgelaai of in 'n motor gedwing. Onnoembare dinge gebeur met hulle en ten slotte word hulle opgehang. Mags en Menck moet die tyding aan die ouers oordra.

Anders as sommige misdaadromans waar die speurders eindeloos rondploeter met min leidrade of vermoedens, skop Mags en Menck kort-kort 'n bynes oop. Die leser besef dit kan nog nie die moordenaar wees nie, want daar is nog te veel van die roman oor. Maar 'n mens besef hoeveel walglike, perverse mans die aarde bewandel. Jammer.

Hulle volg 'n hele paar leidrade voor die boosdoener uiteindelik gestuit word. Dis uiters spannend, maar soos altyd is dit die karakters wat my amuseer. Ons het wêreldklas krimi-skrywers in Afrikaans en Steyn is een van hulle.

Nou het ek die nuwe John Grisham opgeneem, The Widow, wat perfekte vakansieleesstof is. Prokureurs wat nie bo verdenking is nie, chaotiese hofsale en yellow legal pads. Ek vertel jou later daarvan.

Donker spoor deur Martin Steyn is deur Lapa uitgegee en kos R315 by Graffiti.

vallers

ons
is grasieuse
tuimelaars,
vallers
met styl –
die truuk is
om nie die aarde
heeltemal
te mis nie

om
met genoeg
spoed
hoogte te kry,
met spanning
en gepunte tone
te kurkdraai,
en dan te land
asof niks gebeur het nie

Jo Prins


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe