Boekmallemeule

Boekmallemeule
Foto deur Rohit Choudhari / Unsplash

Hier is ons weer aan die begin van 'n nuwe leesjaar. Dit was vakansie en ek was bedrywig, maar tussendeur het ek boeke bly inneem asof deur osmose, want dis my gewoonte. Ek het niks neergeskryf oor wat ek gelees het nie en dis onrusbarend hoe min 'n mens onthou van elke boek. Hier 'n indruk, daar 'n oomblik. Ek blameer glad nie ouderdom of vergeetagtigheid nie - 'n mens se hardeskyf is bloot vol. Ek gaan jou vertel wat ek onthou van elke boek; ek het ten minste die titels neergeskryf.

The Widow deur John Grisham

Dis, soos 'n mens sou verwag, 'n hofdrama. Oor 'n prokureur wie se lewe chaoties verloop. Dan daag 'n skatryk kliënt op, 'n bejaarde vrou wat, volgens haar, die erfgenaam van 'n fortuin is waarvan niemand weet nie. Is dit die kans waarop hy gewag het? Skynbaar nie. Alles is nie pluis met haar storie nie. Dan word hy van moord aangekla. Natuurlik moet hy die regte moordenaar vind om homself te red.

The Widow deur John Grisham is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R383 by Graffiti.


The Wake deur Yrsa Sigurdardottir

Dis nie 'n piekniek nie. Dis skemerig en Skandinawies. Dit speel op 'n afgeleë eiland af waar 'n groepie universiteitsvriende herenig vir die begrafnis van 'n vriendin. Dis nie die eerste lid van hulle vriendekring wat oorlede is nie. Dit word duidelik dat een van hulle 'n moordenaar is. Dis onherbergsaam en spookagtig.

The Wake deur Yrsa Sigurdardottir is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R440 by Exclusive Books.


The Surrogate Mother deur Freida McFadden

Dis 'n naelbytriller, soos al hierdie skrywer se boeke. Dis soos Single White Female op steroïedes. 'n Gelukkig getroude paartjie besluit na jare van vrugbaarheidsbehandeling om 'n surrogaatma te betrek. Abby, dinamiese sakevrou, se assistent (wat toevallig sterk op haar trek) bied aan om die rol te vervul. Gou word dit duidelik dat sy haar kloue in Abby se aantreklike man en idilliese lewe wil slaan. Dat sy nie is wie sy voorgegee het om te wees nie; eerder geslepe en gewetenloos. Chaos.

The Surrogate Mother deur Freida McFadden is deur Poisoned Pen Press uitgegee en kos R375 by Graffiti.


The Proving Ground deur Michael Connely

Dis ook haas onneersitbaar. Die hoofkarakter is Mickey Haller, die Lincoln Lawyer van die TV-reeks en vorige boeke. Mickey het van rigting verander. Hy bring 'n hofsaak teen 'n KI-maatskappy wie se chatbot 'n tienerseun aangemoedig het om sy meisie, wat hom gelos het, dood te maak. Hy verteenwoordig die familie van moordenaar én van die slagoffer. Dit word duidelik dat die maatskappy nie genoegsaam gereguleer is nie. Dis onrusbarend en spannend.

The Proving Ground deur Michael Connely is deur Little Brown and Company uitgegee en kos R404 by Graffiti.


The Killing Floor deur Lee Child

Dis die eerste in die reeks boeke oor Jack Reacher. Hoe het hierdie eensame vigilante geword wie hy is? Hierdie eks-militêre polisieman beland op 'n klein dorpie wat tot in sy kern verrot is en deur 'n sindikaat bedryf word. Hy word van moord aangekla en moet homself uit hierdie verknorsing kry. Hy vind ook, vervlietend, liefde. Ek dink die Reacher-romans het 'n bietjie moeg geword en aan die tak verlep, maar hierdie een is nog vars en vol adrenalien.

The Killing Floor deur Lee Child is deur Penguin Putnam Inc uitgegee en kos R231 by Exclusive Books.

Remain deur Nicholas Sparks en M. Night Shyamalan

Dis 'n sielkundige riller en bonatuurlike liefdesverhaal oor 'n argitek wat op 'n eiland herstel van depressie na die dood van sy suster. Sy kon met afgestorwenes kommunikeer en hy het skynbaar dieselfde gawe, hoewel hy daarteen skop. Hy raak verlief op iemand wat duidelik nie tot sy era behoort nie. Kan liefde die grense van tyd en dimensie oorsteek? Dit was nogal fassinerend.

Remain deur Nicholas Sparks en M. Night Shyamalan is deur Little, Brown Book Group uitgegee en kos R420 by Exclusive Books.


She Didn't See It Coming deur Shari Lapena

Dis 'n lywige boek wat 'n mens nie vinnig genoeg kan omblaai nie. 'n Jong vrou met die ideale lewe verdwyn spoorloos uit haar woning. Sy het nie haar dogtertjie by die kleuterskool gaan haal nie, haar laptop is nog oop en haar handsak, sleutels, selfoon en beursie is onaangeraak. Dit lyk nie asof sy die gebou verlaat het nie. Haar man is die eerste verdagte, veral wannneer dit duidelik word dat hulle huwelik nie so idillies was nie. Daar is allerlei kinkels en haarnaalddraaie. Huishoudelike noir op sy beste.

She Didn't See It Coming deur Shari Lapena is deur Transworld Publishers Ltd uitgegee en kos R395 by Exclusive Books.


The Phoenix Pencil Company deur Alison King

'n Jong vrou van Oosterse afkoms skryf 'n rekenaarprogram om mense met verlore vriende en familie te herenig. Sy is baie geheg aan haar grootouers wat haar grootgemaak het en probeer haar ouma se niggie in Shangai opspoor. Hulle het saam 'n potloodfabriek bestuur en beskik oor 'n bonatuurlike gawe. Die protagonis skynbaar ook. Dit handel oor herinneringe, liefde en geskiedenis. Uiters leesbaar.

The Phoenix Pencil Company deur Alison King is deur HarperCollins uitgegee en kos R425 by Exclusive Books.


River of Stars deur Georgina Moore

Dit speel ook op 'n eiland af - 'n eiland in die Teemsrivier. 'n Lekker eksentrieke kunstenaar word gekonfronteer met haar jeugliefde, aan wie die eiland nou behoort. Hy kom terug om sy erfdeel reg te ruk. Vonke spat en die slaperige eilandritme word versteur. Kan daar 'n tweede kans vir hulle wees, te midde van ou familievetes en griewe? Romanties en leesbaar.

River of Stars deur Georgina Moore is deur HarperCollins uitgegee en kos R425 by Exclusive Books.


The Wish deur Heather Morris

Tranetrekker. Dit was effe te soet na my smaak. Dis op die trant van The Fault In Our Stars. 'n Sterwende tiener se laaste wens, 'n eensame bleeksiel, besorgde familie en inspirerende liefde. Ek weet dit sal groot byval vind.

The Wish deur Heather Morris is deur Zaffre uitgegee en kos R395 by Graffiti.


Havoc deur Christopher Bollen

Dis een van daardie boeke oor 'n bejaarde mens wat haar beste lewe leef en haar deur niemand laat voorskryf nie. Natuurlik is sy welgesteld. Sy woon in 'n luukse hotel in Egipte en haar stokperdjie is om in te meng in gaste se lewens. Sy luister mense af en gryp in wanneer hulle skynbaar ongelukkig getroud is, ten einde hulle te bevry. Dit veroorsaak natuurlik allerlei probleme, soos die titel suggereer. Humoristies en ook aangrypend.

Havoc deur Christopher Bollen is deur HarperCollins uitgegee en kos R536 by Exclusive Books.

Ek het intussen nog 'n paar boeke gelees waarvan ek volgende week vertel. Hou aan blaai.


Die prokureur syn hond

 “Goei morre Prokureur—geef my tog bitjie raad?
Myn is ’n ding gebeur, hier buite op die straat.
Daar kom ’n slegte hond, net vlak hier voor jou deur,
En byt myn in dei been; myn broek is glad verskeur. 

Dit was ’n nuwe broek, en ek wil jou nou vrâ
Of dit nie môolik is soo’n kerel an te klâ,
Wat sulke slegte goed laat los-loop op die straat,
Om myn somar te byt, as ik hier langes gaat.” 

“Welseker myn ou vrind— dit staat jou altyd vry
Om van die hont syn Baas, die skade weer te kry.”
“Wat denk meneer daarvan—zal dit te baing wees,
Om 10 sielings te vra, ver skade van die bees?” 

“Wel al te seker niet—die ei-enaar moet beskou
Dat 10 sielings is min, als hy so’n hond wil hou.” 

“Wel, baas, dan raak jy ook nou net 10 sielings kwyt,
Dit was jou ei’e hond, die het myn so gebyt.” 

“Myn hond! myn Pollo dan, het hy jou so gekry;
Mar as jy seker is dan sal ik ook niet stry.
Dé, vat dan mar jou geld—wat reg is moet bestaan,
Al sou die wereld ook daaronder moet vergaan.” 

Die Boer die moet toen skater van die lach;
Hy vat die geld heel vrolik, wat hy dag
’n prokureur mag glad wees met syn bek,
Tog kyk ’n domme Boer hom in die nek. 

So stap hy weg, mar kom net by die duer,
“Stop vrind, wag, stop,” seg toen die Prokureur,
“Dis alles goed en wel, die skade van mijn hond;
“Mar ik moet jou vertel, myn raat die kos een pond,
“Soo geef myn hier mar gauw myn 10 sielings nou weer,
“Dan skuld jy myn voor raat nog net een halfpond meer,
“Want dit is tog mar waar—wat reg is moet bestaan,
“Al sou die wereld ook daaronder moet vergaan.”

Anoniem

Uit: Versindaba


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe