Bloedboek en toksiese tieners

Read the article in English here.
Nou en dan slaan jy 'n boek oop wat heeltemal anders is as enigiets wat jy nog gelees het. Blood Book is so. Dis uit Duits vertaal en die oorspronklike titel is Blutbuch. Dit het die Duitse en Switserse pryse gewen, hoewel lesers op Amazon dit glo net een ster gegee het. Kim de L'Horizon, het ek gaan nalees, is die pennaam van Dominik Holzer, 'n Switserse teaterpraktisyn en skrywer.
Dit pak jou beet soos 'n manie, hierdie outobiografiese gerammel van 'n skaduagtige non-binêre verteller. Aan die begin noem die verteller hulself "dit" - in Duits is "kind" nie manlik of vroulik nie, maar neutraal: "Das Kind." Die kind groei op in die skadu van hulle ouma, Grossmeer. Grossmeer is grotesk, amper soos Baboesja in Gerda Taljaard se roman Die grafdigter. Sy is venynig en dominerend. Sy praat sonder ophou. Haar tong verskroei die kind.
Wat 'n mens aangryp, is die rouheid en terselfdertyd die skoonheid van die prosa. Kom ek wys jou:
Childhood feels like a dead hare beside a dirt road that's slowly being decomposed by ants, flies, bacteria and fungi. The feeling of things disappearing, although it isn't disappearing at all, but a transformation, a translation of body to another body, of hare to worms, to flies, to world, of present to ever-present past, of stories into silence, of Grossmeer to me.
Die roman, as jy dit so kan noem, is saamgeflans uit stiltes, skerwe, splinters en negatiewe ruimtes. Hierdie vraag boei my: Hoe pak jy 'n outobiografie aan? Dit raak maklik vervelig, 'n vertelling. Hierdie een is onmiddellik, in jou gesig, skokkend en hipnoties:
I don't know how else to word it. I don't know a language for my body. I move neither in the Meer language nor in the Peer language. I exist in a foreign language. Perhaps that's one reason for this writing, for this carved-up, crumbling writing. For the fact that my hands produce only shards, their edges so splintered I can't build from them a beautiful, smooth, compelling, polished story. Perhaps writing is the search for a foreign language in the words we have available to us.
Die leser ervaar tussen die reëls die stiltes in families, selfs families wat sonder ophou praat, die geheime van alles wat ongesê bly. Oorgeërfde trauma. 'n Non-binêre kind se gespartel om 'n greep te kry op hulle lyf en identiteit, 'n vastrapplek in die wêreld. Die verteller het slegs 'n lyf as hulle dit weggee; as iemand dit volstop. "My primary need is to feel cocks inside me, I need to feel myself, the pulsating cloak around the cocks." Hulle het min herinneringe aan hulself, al hulle herinneringe sentreer om die reusefiguur van Grossmeer.
Die roman is 'n gebreekte spieël. Dit sny en reflekteer gebroke lig en bloed, soos die titel suggereer. Dis heeltemal asembenemend, soos om in 'n vrieskoue bergpoel te spring. Dit laat die leser anders kyk.
De L'Horizon het tien jaar aan hierdie verstommende boek geskryf, lees ek op Wikipedia:
I'm searching for paths into myself, into my body memory. I've started this manuscript a gazillion times already, I've constructed plots ad nauseum. But it doesn't work, this plotting business, these already-trodden paths in the sand. The path has to emerge along the way.
Hierdie buitengewone skrywer vermy die uitgetrapte paaie en dans vir hom 'n voetpad oop tussen vlymskerp skerwe deur. Ek beveel dit hoog aan, as hierdie soort maniese memoires jou hart vinniger laat klop. Le Monde noem dit "wildly inventive". Ek stem saam met Süddeutsche Zeiting se uitspraak: "Taal word so vloeibaar soos lywe en identiteit; die stroom sleur jou mee."
Blood Book deur Kim De L'Horizon is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R635 by Exclusive Books.

What Happened to Lucy Vale deur Lauren Oliver wil meer wees as 'n krimi. Dis 'n individuasieroman, polsend met die angs en onsekerheid van adolessensie. Dit word ten dele vertel deur 'n hele groep tieners wat op 'n forum hulle menings onder skuilname deel:
We were athletes and anarchists, band geeks and gamers, virgins and sluts. But mostly virgins. We were dyslexic, we were desperate for someone to notice us. We came from a constellation of small towns in the lower left corner of southwest Indiana, all tipped into the gravitational pull of the Woodward Central School District ... We were the roughly thirty-six members of the private Discord server WoodwardSchoolBored.
Hulle is meestal nie die cool kids nie. Hulle passie is die skool se swemspan, die Sharks. Kampioenswemmers beweeg soos gode tussen hulle deur en word absoluut alles vergewe.
Die groepie is in oproer omdat 'n nuwe meisie, Lucy Vale, en haar ma hulle intrek neem in 'n berugte spookhuis - die huis waaruit Veronica Faraday dekades gelede verdwyn het en waar haar ma selfmoord gepleeg het. Rachel Vale, Lucy se ma, het 'n agenda: Sy het Veronica skrams geken en sy is 'n bekroonde skrywer. Sy wil 'n boek skryf oor die gebeure in die verlede.
Lucy het kwessies. Toe sy op laerskool was, het 'n hoërskoolseun aanlyn haar vertroue gewen en haar oortuig om vir hom naakfoto's van haar te stuur, wat hy wyd en syd versprei het. Sy het haar hare begin uittrek en anoreksies geword. Hierdie is 'n nuwe begin vir haar.
Lucy ontluik inderdaad en word een van die cool kids. Sy vang die oog van die seun wat almal aanbid: Die swemmer Noah Landry. Hulle begin uitgaan, maar Rachel wonder of die verhouding gesond is. Lucy ontwikkel 'n obsessie om Noah te plesier en te gehoorsaam.
Myns insiens gaan die gesprekke tussen die kinders op WoodwardSchoolBored soms 'n aks te lank aan. Dis nogal liries, maar ek verkies die hoofstukke wat vanuit Rachel se perspektief vertel word. Die leser beleef weer die mynveld van tienerjare en ook die magteloosheid van 'n ouer wat toekyk hoe 'n kind haar identiteit vind.
Dis baie leesbaar, maar moenie wag dat al die raaisels opgelos word nie. Heelwat word gesuggereer en aan die leser se verbeelding oorgelaat, maar wat duidelik is, is dat verwende tienerseuns toksies manlik en hoogs gevaarlik is. So ook die skare wat hulle van ver af bewonder en so bitter graag deel van die binnekring wil wees. Jaloesie vier hoogty en hormone galop.
What Happened to Lucy Vale deur Lauren Oliver is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R425 by Exclusive Books.


Vuursalamander
die vuursalamander is water en asem
hy soek ʼn gaatjie in verrotte hout
kielie die grond met sy aspersielyf
hy trek die swaelreuk in sy lawalonge in
eiers van reuse-pouoogmotte bot
in die kompos kraak dooie duisendpote
gooi jy die stomp op die vuur verskyn
hy soos ʼn verdwaasde lampgees
die klein draak skarrel na die skadu
sluk sy stert in voetjie vir voetjie
Fourie Botha
Uit: Donkerkamer