Antjie in die oggend: 'n videobeeld
Ek wil jou gou vertel van 'n betowerende oggend in die middel van die week. Woensdagoggend, Pretoria. Skielik is dit winter. Ons trek jasse aan en gaan luister na Antjie Krog, ons almal se gunstelingdigter. Sy wat, in haar eie woorde, die langslewende en langsdigtende digter in Suid-Afrika is na Breyten se dood.
Ons vier haar jongste boek, Die binnerym van bloed - 'n outobiografiese roman. "Waarom is dit fiksie?" was een van die vrae deur Jacomien van Niekerk. Omdat name en plekname verander is, seg Antjie, en die foto's onduidelik is en moeilik om te plaas. Dis 'n lieflike, liriese verkenning van die ma-dogter-verhouding, immer kompleks, en van die Afrikaner, van grond en ja, kak. Hulle is 'n skatologiese familie, het Dot Serfontein gereken en Antjie vertel as jy dit waaroor niemand wil dink of praat nie, ontlasting, kan assimileer, maak jy vrede met verganklikheid en dood. Ek het vir LitNet daaroor geskryf.

Om haar oor haar ma te hoor gesels, en oor hulle verhouding, is roerend. Sy gebruik haar hande en haar verstommende woordeskat. Sy lees 'n hele paar gedeeltes voor soos net sy kan, en die gehoor is in die holte van haar hand. Dikwels is Dot aan die woord in hierdie dokument, soos in hierdie voorlesing van Antjie. En, soos Antjie in Binnerym uitroep: Fok, sy is goed!
Daar is heelwat humor, een van die dinge wat Dot en Antjie gedeel het. 'n Aweregse oog en 'n segswyse wat jou laat regop sit. Dot het haar dogter altyd gemaan om nie te dink sy is spesiaal nie: "Jy is 'n gewone kind, 'n gewone mens. Skryf loop maar in ons familie soos drank in ander mense s'n loop."
Nog 'n tema in die boek is post-traumatiese stres. Die stres van die Anglo-Boereoorlog, glo Antjie, het aanleiding gegee tot apartheid: Nooit weer gaan iemand ons so onderdruk nie. Ons sit wette in plek om dit te verseker. Maar nou word jy die monster, die onderdrukker. Dieselfde is waar van Israel.
'n Toneel wat my bybly, is toe ma en dogter in Antjie se motor sit en luister na twee kassette van Verwoerd se begrafnis:
Daar was dinge wat ma en dogter saamgebind het, soos hulle liefde vir woorde en digkuns, hulle vreemdheid, "hulle hopelose bewussyne, hulle desperate eensaamhede, hulle magtelose smagting na 'n soort skoonheid om in te vergaan":
'n Gehoorlid vra ten slotte vir haar om 'n gedig voor te lees en dit is absoluut hoendervelwekkend:
Antjie is sekerlik ons hofdigter as daar nog so iets sou bestaan. Sy reken sy kon op 18 ophou skryf het, want "Ma" is haar bekendste gedig. Die gedig wat oral aangehaal word en wat haar ma een moerse belediging genoem het. En al glo sy sy gaan nooit weer skryf nie, is ons so ryk aan haar woorde, deur dekades.
Die binnerym van bloed is deur Penguin uitgegee en kos R324 by Graffiti.

