Anagram

Ek lees meestal nie meer net vir myself nie, maar dié week skryf ek oor een boek wat ek, net vir die lekker, tussendeur gelees het. Die roman het reeds in 1986 verskyn, en ek het dit toe gelees, in my twintigs. In daardie stadium was die verteller ouer as wat ek was. Ek het die boek nooit vergeet nie en kon nog gedeeltes aanhaal. Nou het my vriend Louis dit in 'n tweedehandseboekwinkel raakgeloop vir my. Ons twee het al baie daaroor gesels – Anagrams deur Lorrie Moore.
Dis een van die boeke wat die manier waarop ek wil skryf, gevorm het. Ek het al voorheen gewonder: Kan 'n mens dieselfde boek meer as een maal lees? Ek glo nie. Met elke lees is dit 'n ander boek, omdat jy intussen soveel ervaar het en jou innerlike landskap verander het. Soos jy nie twee keer in dieselfde rivier kan swem nie. Toe ek jonk was, het ek die boeke wat my getref het, aangegee, ek wou bitter graag hê vriende moet dit lees, sodat ons daaroor kon praat. Dikwels het ek die boek en soms die vriend verloor. Nou hou ek die boeke wat ek weer sou wou lees, vir eendag, wanneer my geheue nie meer so goed is nie.
Anagrams is die fragmentariese verhaal van 'n verhouding – eintlik 'n vriendskap – wat meer intiem as 'n liefdesverhouding is. Dis soos 'n droom waarin die karakters opeens verander, oplos soos in water en 'n nuwe identiteit aanneem. Of eintlik bly hulle dieselfde, maar hulle omstandighede verander. Aan die begin van die boek is Benna, 'n vrou in haar dertigs, 'n nagklubsangeres, begeerlik en misterieus. Haar buurman en vriend Gerard gee aërobiese oefeninge vir kleuters. Hulle kom dikwels in haar kombuis byeen om te praat oor hulle lewens. Benna glo alles wat in haar lewe skeefgeloop het is te wyte aan die feit dat sy nie in 'n gesinshuis nie, maar in 'n karavaan grootgeword het. Gerard glo sy knou het gekom toe sy pa, die plaaslike dramaturg, vir hom die rol gegee het van iemand wat met 'n verstandelike gestremdheid leef. Dis die 80's en die karakters is nie woke nie, hulle praat van "retard". Dis eintlik al wat gedateer het, as jy my vra. Natuurlik is daar nie selfone of WhatsApp in sig nie. Gerard gaan kyk na Benna se optredes en hunker na haar, maar wil nie hulle vriendskap in gevaar stel nie.
En dan, eensklaps, is Gerard 'n komponis en Benna gee by 'n gemeenskapskollege aërobiese klasse vir senior burgers. Nou is hulle saam, maar Benna is bekommerd dat Gerard 'n verhouding het met 'n sangeres in sy opera. Sy voel 'n knop in haar bors.
Sommige van die ander karakters in die roman is denkbeeldige speelmaats van Benna, maar ek gaan nie verklap wie speel-speel werklik en wie verbeel is nie. Benna en haar vriendin Eleanor sit graag in koffiewinkels en filosofeer oor die lewe en hulle liefdeslewens. Hulle vind anagramme deur letters te skommel tot dit nuwe woorde vorm: lovesick word evil sock. Bedroom word boredom. Hulle is besonder pittig en deel goed soos: "Our sex life is disappearing ... Gerard goes to the bathroom and I call it 'Shaking Hands with the Unemployed'. Men hit thirty, I swear, and they want to make love twice a year, like seals."
Eleanor filosofeer só oor digkuns: "You know what poetry is about? The impossibility of sexual love. Poets finally don't even want genitals, their own or anyone else's. A poet wants metaphors, patterns, some ersatz physics of love. For a poet, to love is to have no lover."
Benna en Gerard se verhouding hou nie. Dan, eensklaps, is hy 'n sanger in restaurante en sy doseer digkuns by 'n kollege. In hierdie beroepe bly hulle regdeur die res van die roman. Gerard hunker weer na haar, maar Benna is besig om te probeer sin maak van haar lewe en van ouer word. By 'n yard sale waar hulle allerlei snuisterye verkwansel, daag 'n beeldskone vrou in haar vroeë twintigs op. Daardie gedeelte het my veertig jaar gelede hardop laat lag, en nou weer. Soveel het dus nie verander nie:
The problem with a beautiful woman is that she makes everyone around her feel hopelessly masculine, which if you're already male to begin with poses no particular problem. But if you're anyone else, your whole sexual identity gets dragged into the principal's office: 'So what's this I hear about your prancing around, masquerading as a woman?
Benna is gefrustreerd met haar werk. Die studente het nie 'n benul van poësie nie en skryf versreëls soos: Winter begotteth autumn. Sy voel later sy het self nie 'n benul wat digkuns is nie. En hoe leer jy iemand skryf? Gerard hoop om deur 'n talentjagter raakgesien te word terwyl mense luid opskep en eet wanneer hy sing.
Benna het 'n denkbeeldige dogtertjie, Georgianna, en hulle is ongelooflik oulik saam. Benna laat my soms aan myself dink. Sy raak verstrooid en verloor fokus. Toe sy gaan stap, hardloop 'n eekhorinkie teen 'n boomstam op en sy roep afgetrokke: "Here, kitty, kitty!"
Die herlees van hierdie boek herinner my daaraan hoe dit was om in my dertigs te wees. Onseker jare van eindelose getob, met die gevoel dat jy aan die oud word is en dat die lewe by jou verbygaan, 'n eensame dekade.
Die twee karakters is soos sommige van ons, bestem om nooit in pas met mekaar te wees nie. A time for us, somehow there'll never be. Skepe in die nag. Wees gewaarsku, dit raak droef, kloppend met verlies, maar darem deurspek met galgehumor.
Ek het deur die jare ander boeke van Lorrie Moore ook gelees, soos I am Homeless if this is Not my Home. Haar romans is fragmentaries, droomagtig, met eksentrieke karakters, slim woordspelings en aweregse humor. Haar kortverhale is ook onvergeetlik, soos Who will Run the Frog Hospital?
Ek gaan Anagrams nooit weer uitleen nie en dit weer lees in my tagtigs.
Anagrams is deur Vintage uitgegee en kos R233.24 by Amazon.


Do Not Love Too Long
Sweetheart, do not love too long:
I loved long and long,
And grew to be out of fashion
Like an old song.
All through the years of our youth
Neither could have known
Their own thought from the other's,
We were so much at one.
But O, in a minute she changed —
O do not love too long,
Or you will grow out of fashion
Like an old song.
W.B. Yeats