Afrikaanse uitskieters gevier

Afrikaanse uitskieters gevier
ANGELA TUCK

W.H. Auden het by die dood van Yeats geskryf:

"Earth, receive an honoured guest:
          William Yeats is laid to rest."

Ek is immer nuuskierig oor die kwinte, geite, gewoontes en sêgoed van besonderse mense. Sê nou jy kan 'n kykie kry in die hart van meer as 200 plaaslike presteerders, ganse van jou dam, of eerder swane?

Vandag blaai ons deur 'n beduidende boek, 'n liefdestaak. Nataniël het 'n idee gekry, en almal weet elke idee van die koning van rokke en stories is betowerend. "Net 'n mooi boek, ons vier Afrikaanssprekendes wat baanbrekerswerk gedoen het en steeds doen; iets positiefs. En luuks."

Luuks is sy voorwaar, hierdie publikasie. Bloei + blom is 'n groot koffietafelboek met dik glanspapier en volbladfoto's wat boei. Maar wat uitstaan, is die standaard van die skryfwerk. Afrikaans het 'n skare briljante joernaliste, van wie die meeste nou werkloos is. Om betaal te word om te skryf oor iemand wat jou na aan die hart lê, is louter plesier.

Reeds op bladsy ses slaan 'n panoramiese landskap deur Anton Kannemeyer, "Swartbergpas II" die asem weg, langs 'n aanhaling uit Adam Small se "Kô, laat ons sing." Sien bo.

Baie van die bydraers is joernaliste of skrywers, maar 'n mens word omgeknikker deur die skrywes van byvoorbeeld 'n supersjef soos Kobus van der Merwe van Wolfgat, van wie jy nie geweet het dat hy so helder kan verwoord nie. Sy profiel van Louis Leipoldt is onweerstaanbaar. Kobus dra Leipoldt se Kos vir die kenner saam met hom en slaan dit lukraak oop vir inspirasie, soos 'n Bybel of 'n manifes:

Skrywers wat geëer word is daardie boeiende bende - die Sestigers, Adam Small, Nerina Ferreira, N.P. van Wyk Louw, Rykie van Reenen, Elsa Joubert, C.J. Langenhoven, Karel Schoeman, Dalene Matthee, Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jeanne Goosen en Deon Meyer.

Francois Smith se stuk oor Antjie is uitstaande. Sy wat skryf omdat sy de moer in is. Smith, self woordsmid van formaat, vang onvergeetlike waarhede vas soos: "Maar skunnigheid en die bandeloosheid van erotiek is hoeka ook 'n bolwerk teen die dood."

Anders as wat 'n mens van Nataniël sou verwag, kry heelwat sportmense ook op die podium plek. Natuurlik was daar twee briljante samestellers/redakteurs aan die stuur van sake: Ingeborg Pelser en Elmari Rautenbach.

Bun Booyens se portret van Dok Craven wemel van pittighede en interessante trivia, soos dat Craven links en regs byname uitgedeel het. Morne du Plessis was Bottelnek.

Hierdie indrukwekkende bundel bevat huldeblyke aan 200+ Afrikaanssprekendes. Ek het reeds 'n paar besware teen die boek aangehoor, soos dat daar soveel meer mans as vroue vereer word. Wie het gaan tel? Dit is wel waar dat heelparty mense se afwesigheid opval, maar dan is dit ook 'n onbegonne taak om elke Afrikaanse baanbreker te besing. Daarom wag ons gretig op Deel II en III.

Só skryf Hanlie Retief oor Pieter-Dirk Uys:

Wat maak die lewe die moeite werd? “Die son. As dit opkom ná ’n donker nag, dan is die minste wat ons kan doen, om op te staan en te glimlag. Wie dink ons ís ons nou eintlik?” Hy druk die voos lêer terug in sy sak. Ja, my naam is klaar deurgetrek, afspraak verby, en dan stap Pieter-Dirk Uys én Evita weg onder klaviernote, kabouter in ’n losserige swart sweetpakbroek op die Nellie se marmerteëls. By die draaideur kyk hy om, waai vlugtig, so nice to see you, lugsoen, en weg is hy.

Dis ure se genot en inspirasie wat 'n mens trots maak en aanspoor om iets moois na te laat. Dis 'n viering van Afrikaans, soos die subtitel belowe. Jy kan dit by Graffiti koop teen R799 - die prys van net twee misdaadromans wat jy vandag met groot vreugde lees en volgende week vergeet. Hierdie boek is 'n versamelstuk.

Bloei + Blom is deur Flyleaf uitgegee en kos R799 by Graffiti.


Kô, laat ons sing

Adam Small


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe