Hoed op, die horison in

Liewe vriende
In The Unbearable Lightness of Being skryf Milan Kundera oor een van die karakters dat sy haar lewe leef asof voor ’n groot gehoor. Ja, daar is oomblikke waar dit voel asof jy in ’n rolprent speel, met atmosferiese klankbaan en dralende nabyskote. En daar is mense wat hulle lewe op Instagram leef – hoogs geredigeer, natuurlik. Maar dikwels is ek dankbaar vir die gebrek aan rekord of toeskouers. Laat hierdie oomblik by my verbygaan, vergeet word. Sny! prewel ek soms.
Ek dink hieraan omdat ek ’n onnoembare hartseer storie gelees het: Die ware verhaal van Catherine Hogarth wat met Charles Dickens getroud was. Sy het tien kinders gebaar. Dickens sou haar later blameer vir al die kinders, wat hom in finansiële verknorsing gedompel het. Dit was glo haar skuld omdat sy self uit ’n groot gesin kom. Ja, vroue bevrug mos hulleself en kan nie wag om swanger te wees nie.
Sy het hom oorsee gevolg en bygestaan in armoede en roem. Tog het hy haar opsygestoot, verneder, beledig en versaak. Die egosentriese genie Dickens het haar beskryf as “vet, lui, jaloers, dom en vervelig.” Plaas daarnaas die volgende stukkie geskiedenis: “Dickens immediately took a liking to the 19-year-old Catherine and invited her to his 23rd birthday party. She was attractive, intelligent, kind and a gifted musician.”
Nadat hy haar opgebruik het en haar glans verdof het, het hy hulle vuil wasgoed in die openbaar gewas en briewe gepubliseer wat haar swartsmeer. Hy het simpatie gesoek.
Dickens, slagoffer in sy eie oë, het haar uiteindelik gelos vir ’n 18-jarige aktrise. Egskeiding was teen die wet, maar hy het ’n afskorting in hulle huis gebou waaragter sy moes woon. Hy het probeer om haar te laat sertifiseer en in ’n inrigting te laat opsluit.
Op ’n dag het Catherine haar hoed opgesit en by die deur uitgestap. Sy het nooit teruggegaan nie. Sy het haar kinders, haar huis en haar plek in die samelewing verloor.

Voor haar dood het sy een wens gehad: Dat die liefdesbriewe wat Dickens vir haar geskryf het toe sy jonk was, gepubliseer word sodat mense kan sien dat sy eens op ’n tyd bemin was. Dit het nie gebeur nie.
Sy was nie sommer 'n Nonnie Niemand nie. Sy het uit ’n letterkundige familie gekom: Haar pa was ’n gerespekteerde joernalis, musiekkritikus en prokureur. Deur sy werk is sy van jongs af blootgestel aan ’n lewendige intellektuele en kulturele omgewing, aan boeke, musiek, teater. Sy het later self gepubliseer. Sy was ’n befaamde kok en het 'n Victoriaanse kookboek geskryf onder die skuilnaam Lady Maria Clutterbuck, want in daardie patriargale dae wou ’n vrou tog net nie van haar beroemde man se donder steel nie.
Uit hierdie belowende begin het sy ’n deurmat geword vir die Groot Skrywer, ’n broeikas en huishen wat oplaas uitgekryt is as vervelig en dom. Reeds vóór die aktrise het Dickens verlief geraak op Catherine se jonger suster wat by hulle kom woon het. Sy is in sy arms dood en het ’n karakter in vele van sy boeke geword.
Nie almal het hulle by Dickens geskaar teen sy vrou nie. Elizabeth Barret Browning het sy behandeling van Catherine as krimineel beskryf en sommige mense het hulle vriendskap met hom verbreek daaroor. Catherine het haar waardig gedra en nooit ’n skewe woord oor haar man geuiter nie.

Die gety het gedraai, Catherine. Die geskiedenis is nou vriendeliker teenoor jou. Jy was 'n begaafde mens in eie reg en jy wou nie graag onthou word as die versaakte lappop op die ashoop nie. Ons sien jou; jy wás geliefd.
“Look at me!” het ’n vaal biblioteekassistent in haar kop gegil in ’n gelyknamige roman van Anita Brookner. “Ek wil van geweet wees,” het Tiemie in Siener in die Suburbs gesê. Dis ’n universeel menslike begeerte, of dan ten minste die begeerte om nie negatief van geweet te wees nie. Om nie in die annale opgeteken te wees as booswig of pateet nie. Hoewel daar mense is wat selfs tevrede is met berugtheid, solank hulle bestaan net nie ongesiens verbygaan nie.
Nou, in die laaste kwart van my lewe, wonder ek of ek bereik het wat ek moes. Wat begeer ek nog? Wat begeer ons almal? Om geliefd te wees.
Dit alles herinner my aan Raymond Carver se “Late Fragment”:
And did you get what
you wanted from this life, even so?
I did.
And what did you want?
To call myself beloved, to feel myself
beloved on the earth.
Dickens was ’n dinges. Ek gebruik nie graag daardie woord wat papierboks beteken nie.
Catherine Hogarth Dickens, jy was ’n ster. Jy is geliefd op die aarde.
Liefde
Deborah

