Winterkoninkie, o winterkoninkie

The Wren, the Wren deur Anne Enright
Enright is een van my gunstelingskrywers. Sy is Iers en veelbekroond. The Gathering het die Man Booker-prys gewen. Daar is iets ongetem en musikaal omtrent Ierse skrywers; dis asof hulle Gaeliese onderklere deurskyn. Die verteller se oupa, 'n Ierse digter genaamd Phil McDaragh, reken Gaelies is die oseaan waarop Ierse digkuns dobber.
Die eerstepersoonverteller Nell is 22 en klaar gestudeer. Op universiteit (Trinity College) was sy regdeur bekommerd oor die lot van die Ierse naguil (nightjar) wat aan die uitsterf is en sy wou graag 'n woordeboek van voëlgeluide saamstel:
So, this is me. I look at a video clip of a talking raven while my friend Lily worries about fascism, and while my friends are breaking the back of the partriarchy I start to cry about the unbearable fate of the bees. Later, when we are very stoned, I play clips of snail sex with the sound turned up really high.
Sy raak vir die eerste keer verlief, op Felim, wat op 'n plaas woon. Hy is lank, aantreklik en afsydig. Hy kom en gaan soos hy wil, en bel of teks net nou en dan. Dis die soort destruktiewe verhouding waarin die meeste van ons al was. Maar kan ons dit soos Anne Enright verwoord?
I remember all the times he gave me the look. The sad-boy crystalline. How it made his eye-colour more intense and his black pupils shine.
Save me. Love me. Fuck me. Only you.
The soul-piercer.
Nell se ma, Carmel, die dogter van die digter, is ook 'n belangrike fokalisator. Haar pa was 'n romantiese, poëtiese dronklap en het hulle vir 'n ander vrou verlaat toe haar ma terminaal siek word. Carmen het egter prakties uitgedraai en duld geen nonsies nie. Sy is 'n beroepsvrou en enkelma van net een kind. Nell se pa was nooit in die prentjie nie.
Die digter, Phil, kom kortliks aan die woord, in die eerste persoon. Hy het brandarm grootgeword in 'n eenvertrekhuis waar almal in een bed geslaap het en sy stem is liries:
On the midsummer eve when I was nine, I claimed a turn on the edge of the bed and, when all were asleep, swung free of the blanket, hefted my clothes and sprung the latch on the front door. Outside, I stepped into my trousers in air that held, as yet, some murky light. I prepared the trews (broek) by pulling them inside-out, as a protection against the Foidin Mara. This is the strange, lost feeling that can come upon a man in a familiar place, a sign that he has entered the fairy side of things, and the cure is to turn your clothes the wrong way – back to front will also do.
Dis 'n individuasieroman met soveel gravitas. Dit handel oor 'n ma-dogter-verhouding wat gekompliseerd is omdat hulle so na aan mekaar is. Nell dra swaar aan haar erfenis. Sy het haar oupa se oog vir verbande en klanke. 'n Selfoon-app vertel haar wanneer sy gaan begin menstrueer en wanner sy ovuleer. Sy is 'n blogger wat vir 'n influencer kopie skryf, maar dié vind haar uiteindelik te niche en alternatief.
Tussendeur kan jy van haar oupa se gedigte lees, sommige wat hy uit Gaelies vertaal het:
Lay your dark head upon my breast,
your honey mouth with scent of thyme
what man could not love you - so blest
and sweet, oh love, sweet love of mine.
Dis 'n digte, digterlike boek wat resoneer en bly eggo:
One sunny Sunday in my mother's garden, the bird looked at me and I saw the bird and I wanted to undo language and let him be. The bird just was. Long before any of us were here, and long after we are gone, he did and will exist. When our lipsticks, our servants, our bleached and plundered coral are all dead or buried in landfills, he will perch on top op the lot of it and sing. At least I hope so. If we are very lucky, the bird will always be the bird.
The Wren, the Wren deur Anne Enright is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R225 by Takealot.

Day One deur Abigail Dean
Ava Ward was 'n laerskoolonderwyser wie se werk haar roeping was. Sy het generasies van kinders in 'n klein dorpie in Engeland, Stonesmere, op die lewe voorberei, met liefde en toewyding.
By 'n skoolkonsert daag 'n skieter op en maai elf mense af, meestal kinders. Ava sterf ook, nadat sy 'n kind met haar lyf beskut en gered het. Dit was Day One. Nou moet die naasbestaandes die nadraai van die tragedie hanteer.
Ava se dogter Marty was 'n uitblinker op skool, veral in sport. Sy was gewild en hoofdogter van haar hoërskool. Tydens haar eindeksamen raak sy verlief op 'n problematiese ouer man, en haar punte is nie goed genoeg om universiteit toe te gaan nie. Nou hang sy in haar ouerhuis en op haar tuisdorp rond, die terrein van haar vroeëre glorie. Sy rig sport af by die laerskool waar haar ma skoolhou. Sy belowe om die skoolkonsert by te woon, maar word opgehou.
Toe sy daar aankom, het pandemonium alreeds losgebars. Sy reageer soos 'n robot op die vrae van 'n TV-joernalis wat reeds op die toneel was, en beaam dat sy in die saal was toe dit gebeur het, soos Marty wens sy was. Dit veroorsaak later probleme.
Haar pa se manier van rou is om besig te bly en sosiaal te wees. Marty se selfbeeld disintegreer stadig. Nog 'n belangrike karakter is Trent, wie se pa in die Golfoorlog dood is. Sy ma trou met 'n man wat vir Trent gedurig verkleineer. Trent is intens en hiper-gefokus van geaardheid en sy jongste obsessie is die skoolskietery. Hy word ingesuig deur komplotteoretici, die sogenaamde Truthers, wat beweer die skietery het nooit plaasgevind nie en die betrokkenes, soos Ava, is akteurs wat deelneem aan 'n ingewikkelde bedrogspul.
Stadigaan word dit vir die leser duidelik wat gebeur het en wie aandadig was. Maar amper belangriker is die sielkundige impak op die karakters en wat dit beteken om 'n oorlewende te wees.
Dis 'n riller wat jou aangryp en bybly. Ek beveel dit aan.
Day One deur Abigail Dean is deur HarperCollins uitgegee en kos R319 by Takealot.


in die begin
jy het my na jou geneem
waar die sipresse
van my voorvaders
hemelwaarts tier
teen koper plooiings van gras
so blond soos die dooie seun se hare
oggendrooi was 'n stukkende papawer
my heupe 'n lamp van geplooide sy
in die huwelik van ons asem
jou hande marmer duiwe
Dominique Botha
Uit: Donkerberg