Post-apokaliptiese poskaart

Post-apokaliptiese poskaart
Foto deur Hes Mundt / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

My boeties het op laerskool my dagboek gelees en gelag oor my diepste geheime. Ek was nog nooit weer 'n diaris nie. Bokse vol skryfsels en gedigte het in vele verhuisings verwaai, verstrooi en verlore geraak. Dokumente op floppies en stiffies het korrup geraak, motherboards het gefrommel.

Ná veertig het ek gereeld gepubliseer: in tydskrifte, koerante en op die internet. Ook daardie argiewe het tot niet gegaan. 'n Mens skryf soos op seesand en die hooggety kom en was dit alles weg. Dis vlugtig. Vingeroefeninge.

Soms kom ek op ou rekenaars en geheuestokkies af op 'n gestoorde dokument, soos 'n poskaart van my jonger self. Ek deel nou iets wat ek sestien jaar gelede geskryf het, nadat my pa dood is en ek vir 'n jaar terug plaas toe is, met 'n teësinnige tiener onder die arm, om by my ma te gaan bly. Ek het na Kaapstad terugverlang en verlore gevoel. Dit was voordat ek my persoon ontmoet en rigting gekry het. Ek dink dit het op LitNet verskyn:

Sommige mense het korttermyn-, intermediêre en langtermyndoelwitte. Vyf- en tienjaarplanne. Ek sukkel selfs met ’n dagnotule. Want wie weet watter bloed vloei in die groen are van die setlaarsnageslag in Afrika? Ek vermoed die bloed van sigeuners, nomade, trekboere, wandelende jode, versamelaars en jagter-bymekaarmakers, om maar ’n paar te noem. Die bloed van kulkunstenaars en eierdansers wat dit opmaak soos hulle aangaan. En ja, ek het baie begrip vir die regering se planlose gefuif asof daar nie ’n dag van môre is nie. Eet, drink en reis terwyl die slaggate in die paaie al op satellietfoto's sigbaar is soos maankraters.

Van jongs af kry ek, wanneer ek op ’n goeie plek in my lewe is, nagmerries dat ek opeens sonder verduideliking terug gelanseer word in vorige, minder ideale omstandighede. Voel die lewe vir my soos ’n Monopoly-bord waar jy eensklaps beveel word om tronk toe te gaan; nee, nie in ’n voorwaartse beweging sodat jy by Begin kan verbyskuif en R200 insamel nie, maar terug op jou spoor.

Ek het nege jaar in Kaapstad gewoon. Dit was die plek waar ek altyd wou wees, soos die drie susters in Tsjechof se drama wat jaar ná jaar, met die wisseling van seisoene, bly hunker na Moskou. Dit was goeie jare, jare waarin ek selfs in my gelukkigste oomblikke, soos aande in Kubo's Little Japan in Riebeeckstraat, bewus was van die kortstondigheid van alle dinge. Ek het geweet dit kan nie hou nie. My vriend die lakoniese viskunstenaar Satoshi Kubokawa het terug Tokio toe gevlug van sy Medi-Clinic-skuld en daar het sy spoor doodgeloop. Daar was aardskuddings en 'n tsoenami. Sayonara en arigato. En ek is terug Gauteng toe.

Liezl & Jomarie Dick en ek.
Kubo, Sonja du Plessis en ek.

In Kaapstad was ek amper elke aand in die teater, soos in die drome van my jeug. Soos in die nagmerries van my jeug, bevind ek my oornag terug in die Noorde. Terug op my ou spore, op die plaas waar ek vandaan kom. As ’n mens nie gebore in staat is om die korporatiewe leer in vyfjaarsporte te klim nie, as ’n mens die bus na die Eerste Wêreld verpas, moet jy aanpas. Terugklim in die vel wat jy voorverlede jaar afgeskud het. Snags weer sit en staar na die sterre van jou jeug en jaar ná jaar met verbasing oplet dat dit skielik koud word in April. ’n Mens probeer, soos almal rondom jou, uit die put klouter, lewenslank: een meter boontoe en weer twee meter terug. Maar soms gebeur daar iets wat jou vir ’n paar hartslae laat tou opgooi. As fokus nie jou sterk punt is nie, stort jou vyfjaarplan in vyf sekondes in duie. Lê jy op jou rug en gryp Planne B en C uit die lug.

Laat ek maar eerlik wees: ek het nog nooit doelwitte gehad nie, net ’n droom: ek wil skryf. Hoe nader ek daaraan beweeg, hoe moeiliker raak dit om op die alledaagse, die broodnoodsaaklike, te fokus. Dan moet ’n mens maar vanuit die put skryf. Daar is baie kompensasies: minder rekeninge, helderder sterre, die reuk van klam grond. Maar soms, in ’n oomblik van blinde paniek, wonder jy, soos die Drie Susters in die platteland, of die lewe by jou verbygaan. Voel dit asof jy iets belangrik en kosbaar verlê het. Onlangs stuur vriende my pa se slaprandhoed terug wat hy op sy laaste seevakansie in hulle huis vergeet het. My keel trek toe en ek wil gil: Dis te laat, ons het hóm ook êrens verlê. In die aarde het ons hom geplant, op sy plaas, en uit my slaapkamervenster kan ek sy laaste lêplek onder die bome sien.

En ons gaan maar aan, dag ná dag, seisoen ná seisoen. Ongeag of ons tyd liniêr of sirkulêr beleef, dit tuimel onstuitbaar voort na die einde van die siklus.

Terug in die hede nou. My lewe lyk heelwat beter, al het ek nooit ryk geword nie. Ná die verblyf op die plaas was ek Rosendal toe vir 'n jaar of twee, toe trek ek Pretoria toe na my persoon. Dit was veertien goeie jare waarin ek vir 'n uitgewer gewerk het, vir Vrye Weekblad gewerk het, bietjie geld gespaar en wonderlike vriende gemaak het. En nou is ek en my mens weer op pad Suide toe, see toe, om te woon. Moskou was nie net 'n droom nie, Olga, Masha en Irina Prozorova.

Vriende, soos Tinkerbell van Tonder moet jy vasklou aan jou drome. En as jy my jonger self op 'n straathoek raakloop, sê vir haar die lewe gaan beter word.

Liefde
Deborah

First Frost

A girl is freezing in a telephone booth,
huddled in her flimsy coat,
her face stained by tears
and smeared with lipstick.

She breathes on her thin little fingers.
Fingers like ice. Glass beads in her ears.

She has to beat her way back alone
down the icy street.

First frost. A beginning of losses.
The first frost of telephone phrases.

It is the start of winter glittering on her cheek,
the first frost of having been hurt.

Andrei Voznesensky, vertaal deur Stanley Kunitz


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe