Hoesê? Kom weer? Ekskuus?

Liewe vriende

Ek lees dat bonobo-ape, wat verwant is aan sjimpansees, sintaksis inspan, iets wat voorheen geglo is slegs die mens se domein is. Die ape kombineer hulle krete op so ’n komplekse wyse dat dit duidelike frases vorm. Hierdie ape gebruik ook graag seks vir konflikresolusie, maar dis ’n turksvy vir ’n ander dag.

Dis woorde wat my fassineer – die klanke wat ons saamvoeg om betekenis oor te dra. Woorde kry betekenis uit die konteks waarin hulle gebruik word. ’n Mens raak pynlik bewus hiervan wanneer jy hardhorend word. Verloor jy ’n woord of ’n lettergreep hier en daar, word die landskap van die sin verwarrend en betekenisloos. Of, soos dikwels gebeur, jou brein probeer blitsig sin maak daarvan en kry die kat heeltemal aan die stert beet.

’n Vriendin gaan vir ’n borsondersoek. Die dokter is uit Afrika en het dus ’n aksent. Ook dra hy ’n masker, sodat sy nie kan liplees nie. Terwyl hy ’n rollertjie oor haar borste laat gaan, hoor sy hom vra: “Did you have bread for lunch?” Sy sit verbaas regop en sê: “Yes, I had a toasted cheese and tomato sandwich. How did you know this?” Onbegrip op sy gesig. Haar brein prosesseer sy vraag weer en besef dit was: “Did you have breast implants?”

Dieselfde vriendin laat bloed trek. Terwyl sy ’n aar soek, vra die suster: “Did you fast?” Wat vriendin egter hoor, is “Did you fart?” Verontwaardig reageer sy: “Why on earth would I do that here?” Sy sit nou maar meer gereeld haar oortjies in.

’n Vrou herken my oom op die gholfbaan en sê: “Oh, you have a B & B!” Waarop hy antwoord: “No, I have a Isuzu bakkie.

Die probleem is nie altyd hardhorendheid nie. Soms verstaan iemand ’n sin heeltemal verkeerd omdat hulle nie vertroud is met die idioom nie, of naïef, soos my vriendin wat ’n onderwyser was. Eendag is ’n matriekmeisie afwesig. Iemand bel die skool en sê hulle het ’n dogter in daardie skool se drag saam met ’n man by die dam gesien. Waarop ’n ander onderwyser droog opmerk: “Teen die tyd is sy seker al voos gesteek.” En wat sê my vriendin? “Maar bel die ambulans!”

Dit was ook sy wat een oggend vir ’n seun vra wat fout is. Hy lyk uiters beswaard. Hy antwoord: “Juffrou, my sussie is weg en my ma is op ’n stasie.” Sy gryp haar sleutels en sê: “Maar laat ons dadelik ry! Weet jy watter stasie?”

Daar is al baie geskryf oor mondegreen; hoe mense die lirieke van liedjies verkeerd hoor en hoedat dit altyd sin maak. ’n Amerikaanse skrywer, Sylvia Wright, het ’n reël in ’n liedjie, “The Bonny Earl o’ Moray” verkeerd gehoor: Sy het gehoor And Lady Mondegreen. Die reël is eintlik: “And laid him on the green.”

My gunsteling is uit Bad moon rising van Creedence Clearwater Revival. Die reël: “There’s a bad moon on the rise” – word dikwels gehoor as: “There’s a bathroom on the right” – onthou, dis die Amerikaans “bath” met die “a” wat blêr. Soete woorde as die nood druk. En natuurlik, die plaaslike weergawe: “Hasie a bad moon rising."

Creedence Clearwater Revival

Daar is ’n reël in die ou okkerneut “Lucille” wat klink na: “Four hundred children and the crops in the field.” Jimi Hendrix se “Excuse me while I kiss the sky” maak meer sin as “Excuse me while I kiss this guy.” Vleis speel ook 'n rol: “We built this city on sausage rolls.” Van die Beatles: “I wanna hold your ham.” Van Celine Dion: “I believe that the hotdogs go on.”

In “You’re the one that I want” uit Grease word “I got chills, they’re multiplying” dikwels gehoor as: “I got heels, they’re made of plywood.” Selena Gomez se “I’m 14 carats” word dikwels gehoor as: “I’m farting carrots.” Daar is Johnny Cash se: “I can see clearly now Lorraine is gone.” En van Bob Dylan: “These ants are my friends, they’re blowin’ in the wind.” Party mense hoor Elton John sing: “Hold me closer, Tony Danza.” En natuurlik ABBA se treffer: “Take your teeth out, tell me what’s wrong.”

In Afrikaans het ons Coenie de Villiers se “ruik jy katkos en klam brood.” Iemand het in Laurika Rauch se “Op Blouberg se strand” gehoor: witgekakte huise. Joshua na die reën se “Kom hardloop deur my woude” klink baie soos “Kom hardloop deur my boude.” Dan is daar geestelike liedjies soos “Albertus met sandale.” En op troues: “Lank sal hul lewe in Pretoria."

Het jy al gehoor van ’n eggcorn? Dit is wanneer ’n frase verkeerd gebruik word en steeds op ’n manier sin maak, byvoorbeeld "old wise tale” in plaas van “old wives’ tale” of “doggy dog world”. In Afrikaans “nuuskierige apies”.

Wenk: As jy regtig nie kan hoor wat iemand sê nadat hulle dit twee maal herhaal het nie, kan jy altyd jou kop meewarig skud en antwoord: “Ja-nee, wat kan ’n mens sê?”

Hardhorend die uwe
Deborah


The animals in that country

In that country the animals
have the faces of people:

the ceremonial
cats possessing the streets

the fox run
politely to earth, the huntsmen
standing around him, fixed
in their tapestry of manners

the bull, embroidered
with blood and given
an elegant death, trumpets, his name
stamped on him, heraldic brand
because

(when he rolled
on the sand, sword in his heart, the teeth
in his blue mouth were human)
he is really a man

even the wolves, holding resonant
conversations in their
forests thickened with legend.

            In this country the animals
            have the faces of
            animals.

            Their eyes
            flash once in car headlights
            and are gone.

            Their deaths are not elegant.

            They have the faces of
            no-one

Margaret Atwood, uit: Selected Poems 1965-1975.


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe