Saterdag met Deborah

Oor 'n winkbrou wat vraend wip

Liewe vriend

Welkom hier, waar ek skryf vir die aandag van jou oë, nie jou beursie nie.

Ons is uitgerafel, ons ly aan verontwaardigingsuitputting. Te midde van oorloë, vloede, aardbewings, klimaatsverandering, hongersnood en bendegeweld skakel ons oor na ’n betaalkanaal vir verteerbare vermaak.

Ons het na Tuiskoms op Netflix begin kyk, vir die tweede keer. Met die eerste probeerslag het ons van kanaal verander toe die sjef se skaamhaar in ’n restaurantganger se nagereg beland en die eienaar dit opraap en in haar mond stop, om van die getuienis ontslae te raak. Sien, ons het fiemies oor kos.

Vriende het ons aangeraai om weer te probeer. Die stel is lieflik – Wildernis aan die see. Maar o aarde, al weer Armand? In Boekklub kon ek hom geniet, want ek besef jongetjies nou se dae is nie meer ongepoets (letterlik) en verwaarloos nie – straight of gay dra hulle pêrels en krale, stileer, bloudraai, bevog en bestoom, pluk wenkbroue, wend onderlaag en oogpotlood aan. Kyk hoeveel oogomlyner dra J.D. Prance. Armand is ’n mooi seun met ’n latlyf en as die Keurboslaan-reeks ooit verfilm word, moet hy asseblief Doktor Serfontein speel. Hy met die wenkbrou wat so vraend lig. Die doktor was vir my hoeka altyd baie geraffineerd, ja, selfs camp in syjapon en pantoffels, met ’n sardoniese skerp tong.

Iemand wat in elke rol oortuig, as jy my vra, en wie se seksuele oriëntasie nooit by ’n mens opkom nie, is Dawid Minnaar, Meneer Gravitas. En dis bittersoet om Michelle Botes vir oulaas op aarde te sien, waar sy selfs leer om branderplank en ’n katelknaap te ry.

Die smeulende blommeboer. Foto: Netflix.

Maar moet Armand die rol van elke romantiese held vertolk? Ek weet dis toneelspel en enigiemand mag enigiemand speel. ’n Vrou mag selfs ’n man speel en andersom. Wit mense mag net nie swart mense speel nie, maar dit is weens ’n oormag van vrot geskiedenis.

Die probleem is, ons poel is so klein dat almal oorblootgestel is, veral wanneer hulle boonop kaalgat kook. Ons veg verbete om die gewillige opheffing van twyfel te handhaaf en te glo in die elektriese lading van liefdestonele. In die storie is jy smeulend, selfingenome en sarkasties soos ’n tief, maar straight. Geheimsinnig, met weerbarstige krul en perfekte tande. Ek het maar net hardop gewonder.

Ons het ook op Netflix Adolescence gekyk, die minireeks waaroor almal praat. Vier episodes wat met die deur in die huis val, met ’n polisietaakmag wat ’n voordeur met geweld uit die kosyn breek. ’n Mens kan nie wegkyk nie. Dis ’n intense nagmerrie. Ek gaan nie die storielyn verklap nie, maar dit laat ’n mens besef dat toksiese manlikheid nie beperk is tot buffelagtige grotmanne nie. ’n Tingerige, fyn 13-jarige kan ’n wêreld se verbittering en aggressie huisves. Dis ook ’n waarskuwing aan tienermeisies: dis nie nodig om leedvermakerig, gemeen en spottend te reageer as iemand wat jy as benede jou liga ag, by jou aanlê nie. My ma het altyd gesê ’n kat mag vir ’n koning kyk.

Dit het my ook diep dankbaar gemaak dat my dogters puberteit oorleef het. Ek wil nie nou ’n kind op skool hê nie. Veral nie in Brittanje nie. Ek het ook geskrik toe ek besef ek stuur, soos menige ouer mens, links en regs gekleurde hartjies vir mense. Ek was salig onbewus daarvan dat ek moontlik daarmee sê: ‘ek stel asseblief belang in seks’. Vergewe en verontagsaam tog my toondowe emoji’s, dis te laat om te leer.

Die laaste episode was myns insiens hopeloos te lank uitgerek, ’n geween en gesnuif wat dialoog onverstaanbaar vermuffel. Ek sou dit kondenseer tot vyf minute. Maar die reeks tref en bly my by.

Adolescence. Foto: Netflix.

Die jongste Harlan Coben op Netflix, Just One Look, was flou verby. Pole het nie die paal gehaal nie, dis saamgeflans en vergeetbaar.

Ons is ook teleurgesteld in die derde seisoen van White Lotus. Dis op ShowMax. Die eerste twee was so skouspelagtig, so slim en snaaks. Ek mis die selfbejammerende ryk vrou wat soos ’n ouer Anneline Kriel gelyk het. Hierdie seisoen speel by ’n oord in Thailand af. Dit voel drukkend, soos ’n immergroen hel. Altyd weer dieselfde apie wat in ’n boom sit en loer. Voëls wat gil. Nog ’n disfunksionele gesinnetjie waarvan nie een lid op my groei nie. Drie leegkop-vriendinne wat smag na losbandige plesier, wat drink en snuif asof dit uit die mode gaan. Waar is die hart?

White Lotus Seisoen 3.

Ek sien uit na Niggies wat Dinsdag op kykNET begin.

Verder lees ek maar, want ek hou daarvan om my eie beelde te vorm. Ek wil oorrompel word deur ’n besef van die hartverskeurende fragiliteit van oomblikke en die heelal vervlietend in ’n seepbel sien verbydryf. Is dit te veel gevra?

Mooi bly
Deborah


Vrae

En was ek 'n boek, verslete
& my rug swak,
sal jy nog soms ingedagte
blaai deur die strofes
van my bestaan,
verbrokkelende beelde herroep,
vergete verwysings na jouself
tussen die vergeelde blaaie soek
of 'n vers dalk weer lees
omdat dit sin gemaak het toe?
Sal jy hoor hoe ek vertroud
ritsel onder die liefkosings
van jou hande?

Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.

Johann de Lange - 1959 - 2025

Uit: Akwarelle van die dors


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe