Poedelnaak my siel

Vrye Weekblad het gegroet en ons luier vir twee weke by die see. Ons is in ’n stranddorp soos 'n skuldige herinnering aan die 1970’s. Besighede het Afrikaanse name soos Lekker Plekkie, Boepensie, Glinsterland. Daar is ’n straat met die naam Vegkop, wat die Waze-vrou uitspreek as Veggie Kopp. Benewens die oseaan is daar veel wat ’n mens se gees kalmeer. In ’n strandhuis, waar tyd stilstaan, gesels ’n mens boekdele, kopstukke. Daar is ’n knetterende kaggelvuur, diep rusbanke en goeie rooiwyn. So praat ons oor dinge waaroor ’n mens jou vir ewig bly skaam, die soort ding wat jou in die middel van die nag wakker jaag sodat jy regop sit en jou kop in ontkenning skud. Dit was nie ek nie, dit was nie my skuld nie, nee, nee, vee dit uit.

My skoonseun vertel hy het eenkeer gelees van iemand wat so ’n noemenswaardig onwelriekende deposito in ’n vliegtuigtoilet gelos het dat die vliegtuig moes omdraai. Dit klink ongeloofwaardig, en ons begin google. Sowaar, hier is dit, uit 2016, die mees geleesde plasing wat daardie blogger ooit gemaak het: Looking back at the poop so toxic it grounded a plane.

Dis ’n koue nael langs die ruggraat af. Dit raak aan almal van ons se vrese om openbare geriewe te gebruik. Om uitgevang te word, uit te staan as die sondebok, soos Jona wat van die boot afgegooi is voor die vis hom ingesluk het. Om gebrandmerk te word, om vir ’n groot skare mense ongerief te veroorsaak en grootskaals planne in die wiele te ry. Ek krimp ineen.

Ons woon in ’n besige wêreld, ’n globale dorp wat nooit gaan slaap nie. Alles is verbind en die lug knetter en blits van kommunikasie. So is daar deesdae heelwat dinge wat ’n mens in die nag laat wakkerskrik. In dieselfde strandhuis lui ’n vriendin se foon in die middel van die nag. Sy word uit ’n diep slaap wakker en mis die eerste twee oproepe. Met die derde lui antwoord sy, en dis ’n video-oproep. Sy het nie haar bril op nie en sien vaagweg ’n man op ’n bed wat besig is om ’n klein hondjie te verwurg. Dieremishandeling! Jy kan jou voorstel wat sy sien toe sy haar bril opsit. ’n Man uit Soedan wat hand aan eie staf slaan. Stok en hoed, pas hom goed, hy is vol van moed.

Ja, die mure van ons slaapkamers het poreus geword, deursigtig. Van oral in die wêreld kan ons dopgehou en ons privaat ruimte binnegedring word. Sit die foon op silent, sê jy, maar sê nou een van die kinders of bejaardes in jou lewe is in die moeilikheid, of jou katoppasser?

Gepraat van ontbloting: Vriende vertel van ’n flasher – wat is dit in Afrikaans; jakobregop, waterwyser? – wat naby ’n kampus rondgehang het. Dit was in die ou dae. ’n Damestudent is te voet op pad terug koshuis toe. Sy gewaar hom, maar sy is uiters bysiende en kan nie sien waaroor die man so rukkend onsteld is nie. Die liewe siel staan sowaar nader en vra: “Kan ek help?”

Ek onthou ook ’n spotprent waar die vrou doodluiters haar hand ophou vir die man wat sy jas oopruk, en sê: “No thanks, I’m trying to quit.”

Die geheim is: almal soek ’n reaksie. Ons wil nie in die lugleegte skree en slegs eggo’s hoor terugskree nie. Van skommelaar tot politikus behoef ’n klankbord – die uitdrukking op iemand se gesig, ’n antwoord, ’n kommentaar, ’n wederwoord. Ek sien Demokratiese senator Cory Booker het ’n toespraak van 25 uur gehou. Hoe op dees aarde het die gehoor wakkergebly?

Dis waarom ek skryf: om aan jou te raak, om jou te raak. My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan. Ek wil kommunikeer, daar is dinge wat ek dringend wil oordra. Skrywers hoop altyd op kommentaar onderaan die artikel. Sonder om soos ’n begripstoets te klink: Wat neem jy daaruit weg?

Is ons almal ontbloters? Los elkeen sy deposito in die vliegtuigbadkamer en hoop vir die beste? Loop ons met ’n hol rug weg en hoop niemand weet ons was die verantwoordelike een nie?

Ek wil jou laat glimlag en ’n betowerende geur agterlaat, soos fynbos en jasmyn. Basieliekruid en kruisement. Die wêreldwye web moet ook goedheid en guns versprei. Ons is immers net ’n asemteug weg van mekaar.

As ek ’n prediker was, het ek afgesluit met Kolossense 4:6: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel.”

Nou sluit ek maar af met: Sekere dinge is ’n nie toeskouersport nie, soos om man-alleen handgemeen te raak, soos Malusi Gigaba. Spaar ons dit.

En: Laat my woorde aangenaam wees, met sout besprinkel, want binnekort moet ek hulle dalk sluk.


die baaier
na Cézanne

lig as iets wat afgewas moet word
materie tussen rondings
’n landskap amper so kaal soos jonger bolyf
onbeholpe, maar ’n fatsoen, in stand
kuit en berg
wat weeg swaarder op die skouers: lig of landskap?
’n ken, ’n wang se ingekeerde hoek
bepeinsing bestaan ook in drie dimensies
onder ’n buitelug arsering, strekkinkies kleur
soos vatmerke aan iets kosbaars
blou het die ontrouste tint
tussen witter genade en stowwerige groen
’n geheim in ’n voet so halfpad opgelig:
bestemming, dwaling, of sit dit in hande
wat ouer lyk as lyf?
jou oog loop regs en af
vatterige sig, wat tog ook bo-oor skoonheid lees
en wat weet daar is altyd
oorgenoeg holtes vir skaduwees

Loftus Marais

"Die baaier" - Paul Cezanne

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe