Na waters waar onrus is

Na waters waar onrus is
Uit 'n foto deur Emma Swoboda / Unsplash

Read the article in English here.

Ek het drie boeke met S’e in die titels gelees: A Mouth Full of Salt, The Surf House en Secrets of the Starlit Sea. In al drie is groot liggame water aanwesig. Die eerste is die meer letterkundige boek, die ander twee onverdunde spanning.

A Mouth Full of Salt speel in Noord-Soedan af, op die walle van die Nyl, naby die dorpie Karima. Die mense is arm en leef van die hand na die mond. Die Nyl is hulle lewensaar en die Nyl eis hulle kinders: Aan die begin van die boek het ’n seuntjie, Mohammed Alseed, verdrink in die rivier en die hele gemeenskap is op die uitkyk vir en aan die uitduik van sy liggaam. Dis ’n ongenaakbare landskap: versengend warm en vroue se lewe eindig wanneer hulle trou, kinders kry en verslaaf word. Trou hulle nie, het hulle geen aansien in die gemeenskap nie, soos die jong Fatima wat van bakboord na stuurboord takies moet verrig.

Deel Twee begin in Karima, in 1943. Ons leer Hassan Alseed en sy vrou Nayamakeem ken. Hassan bring sy vrou en babaseun na die dorpie naby Karima om sy familie te ontmoet, maar hulle is hoogs ontstoke, want sy is ’n Suid-Soedanees en nie Arabies nie. Dit kan hulle nie duld nie en die egpaar en hulle baba word verdryf. Hulle gaan woon in Khartoem. Maar dan gaan Hasan se pa en oom dood en hy erf ’n redelike fortuin. Hasan los sy vrou en seun in Khartoem agter en besoek hulle van tyd tot tyd. Totdat hy ophou kom en geld stuur. Toe sy na hom gaan soek, vind sy uit hy het ’n tweede vrou in sy dorpie geneem, nog ’n seun gehad en hy is intussen dood.

Kheir, Hassan en Nayamakeem se seun gaan soek ook na sy pa toe hy groot is, met tragiese gevolge.

Die laaste deel speel weer in die hede af. Die seuntjie wat verdrink het, was verwant aan Hassan Alseed. Dis ’n verweefde verhaal wat oor dekades strek, eenvoudig vertel. Die onderdrukking en marginalisering van vroue word verken. Noodlot en die sonde van die vaders figureer. Die leser moet kophou met die name en die landskap is heeltemal vreemd, maar die menslike emosies en dryfvere bekend. Dit het die Island Prize gewen. Dit het wel my aandag behou.

A Mouth Full of Salt deur Reem Gaafar is deur Saqi Books uitgegee en kos R305 by Exclusive Books.


Secrets of the Starlit Sea is die tweede roman wat ek lees oor Pixie Tate. Sy is ’n eksentrieke speurder met psigiese vermoëns. Sy is ’n siener wat deur tyd kan reis. Haar sidekick is die dodelik aantreklik Ullyses. Hulle is Brits, maar sy word gekontak oor ’n woedende gees in ’n hotel in New York: die statige Aldershoff Hotel. Dit was eers ’n woonhuis en Alma Aldershoff-Blanchett-Carrington, in haar laat negentigs, het daar grootgeword. Sy raadpleeg ’n Ouija-bord in een van die sitkamers: Sy wil met haar pa se gees praat om te hoor waar die beroemde pienk diamant is wat hy êrens op die perseel versteek het – haar fortuin het intussen opgedroog. Sy maak kontak met ’n woedende gees genaamd Lester wat die kamer vandaliseer. Hy daag ook elders in die hotel op en maak moles. Die bestuurder laat Pixie kom om hom te kalmeer en oortuig om die oorgang te maak.

Pixie besef sy sal honderd jaar in die verlede terug moet reis om met die lewende Lester te praat en uit te vind waarom hy so woedend en boos geword het. Sy bevind haar op die Titanic, twee dae voordat dit sou sink. Nou het die skrywer my aandag: Die beskrywings van die weelderige skip, die fluweelgladde see, die sterre, wind en ysberge gryp my verbeelding aan. Pixie moet sin maak van haar identiteit: sy bevind haar in die lyf van ’n Amerikaanse vrou, die tante van die jong Lester. Hy is ook op die skip, sowel as ’n tydlose geliefde van Pixie wat sy al voorheen op tydreise raakgeloop het.

Dit is uiters spannend omdat die leser, soos Pixie, weet dat die sogenaamd onsinkbare skip binnekort gaan sink. Sy mag die verlede nie plooi nie, sy moet net agterkom wat gebeur het. Die karakterisering is uitmuntend en dis ’n heerlike reis. ’n Mens hef enige ongeloof baie gewilliglik op, want Montefiore is ’n wonderlike storieverteller. En ek was reg oor waar die diamant weggesteek is.

Foto: ChildrenInRead

Secrets of the Starlit Sea is deur Orion Publishing Co uitgegee en kos R440 by Exclusive Books.


Ek het langtand begin lees aan The Surf House: Hippies en surfers wat in Morokko ’n toevlug skep vir niksdoen en branderplankry. Maar dis uiters spannend, hoor. Van die eerste bladsy af.

Bea is ’n model wat eendag wegstap van ’n shoot in Marrakesh. Sy het genoeg gehad van die onsekerheid, hongerly, moordende fotosessies en ontbering. In ’n stegie keer twee mans haar vas. Een gryp haar rugsak met haar paspoort en alles wat sy het daarin en die ander is op die punt om haar te verkrag toe ’n woedende jong vrou op hulle afstorm met ’n mes. Die een met Bea se rugsak laat spaander. Die ander een klap die mes uit die vrou se hand en begin haar teen ’n muur verwurg. Bea tel die mes op en sink dit in die man se nek. Daar is baie bloed. Die vrou, Marnie, tel die mes in haar serp op en sê hulle moet laat spaander. Niemand wil in ’n tronk in Morokko beland nie. Marnie en haar vriend Ped het ’n gastehuis vir surfers begin en sy neem Bea daarheen. Bea word ’n kombuiswerker. Sy ontdek die vreugde van eet en leer branderplankry.

Natuurlik word hulle in 'n padblokkade vasgetrek met die moordwapen in die motor. Nou begin ’n polisieman hulle afdreig – geld in ruil vir sy stilte.

Beskrywings van golwe en die volmaakte oomblik wanneer ’n mens regop spring en die golf enduit ry het my aangegryp. Marnie se boyfriend Ped is ’n donker karakter met ’n lelike humeur. Die gastehuis kry swaar. Daar is nog ’n gastehuis naby, dié van Marnie en Ped se voormalige vriend, Aiden. Tussen Aiden en Bea is daar 'n vonk, maar hy is ’n geheimsinnige, teruggetrokke karakter.

Nog iemand daag by die gastehuis op: Seth, die broer van ’n meisie wat ’n jaar gelede daar gebly het; Savannah. Sy het verdwyn en hy win Bea se hulp in om na haar te soek.

Daar is ook terugflitse na die rebelse trustfondskind Savannah en haar interaksie met Marnie, Ped en Aiken. Opeens lyk die idilliese surferbestaan onheilspellend en onherbergsaam. Iets verskrikliks het daar gebeur.

Dis hoogs spannend en die einde sal bykans niemand sien kom nie. Ek het nie, hoewel ek sekere vermoedens gehad het, oor mindere intriges, wat bewaarheid is. Dis perfekte vakansievermaak in ’n droë September.

The Surf House deur Lucy Clarke is deur HarperCollins uitgegee en kos R410 by Amazon SA.

Nuusflits:

Mercia S. Burger was reg: Flesh van David Szalay het die Booker-kortprys gehaal!


Ken jy die see

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Dié vrede, kalmer as ’n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ’n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.
En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.
Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.
En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.
Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas.
En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Was jy al van jou bootjie soos ’n veer gevee
deur ’n grys golf hoog soos ’n tronk se muur.
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur?
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ’n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos die hellevuur!
Dan sê jy nog, Meneer, dis vis is duur.
Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,
wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap al drie agter die kerkhofmuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur ...

Uys Krige


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe