Die nag is te klein vir jou gedagtes

Gisteraand was ’n liewe vriend se verjaarsdagete. Hy stuur later ’n foto aan, met die kommentaar: ’n Lieflike blur. ’n Vriendin antwoord: Soos die lewe.

Julle, dit ís ’n blur. As jy terugdink aan ’n aand se gemoedelike gesels met wyn wat vloei, voel dit soos jou lewe: ’n oomblik in die wind. Hier en daar behou jy ’n reep van ’n moment, die eggo van ’n stem. Wat jy wegneem is welwillendheid.

Die langste blur was jou kinderjare. Jy het soveel tyd tot jou beskikking gehad, soveel ledige ure om te verwyl. Jy kon nie wag vir jou beurt om ’n mens te wees nie, om ’n motor te bestuur en ’n handsak te hê nie met geld, lekkergoed en sigarette in.

Toe beland jy op die mallemeule. Die aarde begin al vinniger draai. En toe jy jou oë uitvee, word jy gedwing om af te tree. Nie dat jy gaan ophou werk nie. Jy sal nog op jou laaste kussings bly dokumenteer.

Maar opeens het die nag en die heelal te klein geword vir jou gedagtes. Jou kop wil ontplof. Slaap sidder en kies die hasepad. Woorde stamp mekaar uit die pad. Later staan jy maar op en gaan sit voor die rekenaar nadat jy in die kombuis vir die kat nat kossies ingeskep het. Jy is in die verbygaan dankbaar dat jy ’n vet, gelukkige kat het.

Gedagtes vorm en bou in die nag soos kumuluswolke en verstrooi weer in die niet. Jy kan hulle nooit as te nimmer hokslaan nie. Jy gryp na ’n paar: Hoekom sing mense in die stort? Dis nie ideaal nie, met water en seep wat in jou mond beland. Sou dit nie meer sin maak om in die bad te sing nie, of léés ’n mens net in die bad? Jy onthou ’n skattige foto wat jy gesien het van ’n otter:

Tussendeur, alewig, in vele slapelose nagte, weerklink jou kop se agtergrondmusiek; ’n refrein uit Ingrid Jonker se gedig aan André Brink: So sal jy afsterf van my, soos jou vergeefse saad, nakend soos water, brandblink soos laat April, mooi soos sterflikheid, soos ’n laaste woord, treurig soos bloed.

Jy steier. Daar is te veel wat jy saamdra. Geliefdes wat gesterf het namens wie jy moet lewe. By Andrea Bocelli se konsert gaan ’n violis van Moldawië, Rusanda Panfili soos ’n lieflike besetene te kere en jy dink: Hoor jy, Pappa? Dis ook vir hom dat jy nou gereeld “ja, dankie” sê vir roomys, sy gunstelingkos.

Jy is ’n otter. Jy glo in alles. Jy glo in Jesus en Zen, en ja, die voorvaders wat jy moet paai en gelukkig hou. Jy weet jou totemdier is ’n wildehond, jy het al dikwels helder gedroom oor daardie dier, met ’n gevoel van herkenning. Jy glo daar is mense wat jy reeds verskeie leeftye ken. Jy glo in die diereriem. Sterrewiggelary, het jou ouma dit genoem. Moenie ’n tafel dek vir die geluksgodin nie, het sy gesê. Die honde en towenaars sal buite bly.

Jou kop is vol prente. Flardes. Jy het op Facebook gelees voëls is soms te verleë om na mekaar te kyk nadat hulle gepaar het. Iemand het geplaas: Ek is op soek na ’n tweede handse honde hol. Jy lees dat die Japannese woord kuchisabichii beteken wanneer jy nie honger is nie, maar eet omdat jou mond eensaam is. Jy lees ook die Japannese woord oubaitori raak: Die idee dat mense, soos blomme, op hulle eie, unieke wyse bloei, elk op sy bepaalde uur.

Jy wonder of hierdie jou uur is, of het jou fleur miskien reeds gekom en gegaan? Muriel Spark se karakter, Miss Jean Brodie, het al aangestap in jare toe sy sê sy wil graag haar prime herken wanneer dit aanbreek.

Jy lees ’n boek, Hollywood on the veld, oor die ontstaanjare van die rolprentwese in Suid-Afrika. In 1913 het die Empire Palace ’n hele straatblok in Johannesburg beslaan: “the handsomest theatre on the subcontinent.” Dis gekoop deur ’n Amerikaner wat sonder ’n sent hier aangeland het, skatryk geword het uit versekering en eiendomme, en Hollywood hier wou dupliseer: Isidore William Schlesinger. Hy het ook die Carlton-hotel gekoop en Killarney begin. Van hom is daar gesê: “Schlesinger came in like a blunderbuss … he fairly made things hum.” Hy het teaters opgekoop en films gemaak. Mense het tougestaan. Dit was die goue eeu van die silwerskerm.

Jou kop sing. Jy hum soos Isidore Schlesinger.

Die Empire Palace staan nie meer nie. Die Carlton-hotel het ook toegemaak. Hollywood hink voort. Mense, giere, trends, modes. Soos gras is hulle dae. Alles het sy uur. Video killed the radio star. Streaming strangled the bioscope. Al wat oorleef, is boeke. Sal jy ooit genoeg tyd hê om te lees?

Daar is altyd die nag.

Oubaitori. Ons bloei.

Mag al jou nagte
diep en wiereloos wees
jou drome aangaande my
klinies en versigtig
soos maanlandings
mag daar 280 engele wees
om in skofte te sing vir jou
altyd twee by jou lippe wag
om jou glimlag moeiteloos te maak
mag daar altyd een
in die kuiltjie van jou neus vertoef
mag jy soos 'n Rolls-Royce dus
verbysterend asemrowend
deur jou jare klief

Jan de Bruyn
Uit: Te bruin vir groen


https://deborahwoorde.ghost.io/#/portal/signup

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe