Bob Dylan en 'n skare bejaardes

Waarop dui al hierdie dinge? Woorde waai weg in die wind. Hoor jy ook flardes van gesprekke en wonder wat dit beteken? Nou die dag in die bank praat ’n vrou luid op haar selfoon – dis mos onwettig? Sy voer ’n lang gesprek en skielik hoor ek haar sê: “Ek dink die Bybel-ek maak vir hulle nonsens, ja, dis die Bybel-ek.” Wat op aarde? Of was dit dalk “die duiwel-ek?” Of die “Waybill Act”? Ek sal nooit weet nie. Wie loer of afluister kry niks.

Die almanakblaaie fladder vinnig van herfs na winter en die boeke wat ek lees, laat my nadink oor verganklikheid. Soos Antjie Krog se Binnerym van bloed, ’n lang en liriese afskeidneem van haar ma, dikwels ook in haar ma se stem. Dot Serfontein was ’n formidabele vrou met ’n oog wat ’n barshou kyk (sy het haarself as student beskou as lelik “dik neus en modderogies”) maar het met die ouderdom die adellike grasie van ’n denker gekry. Sy het gevloek en ’n ding by die naam genoem, nie gehuiwer om te kritiseer of in te meng nie. Oplaas, in haar eie woonstel met ’n voltydse verpleegster, was haar woorde minder, het sy haar begin onttrek van alles en almal.

Dis dikwels ’n ongemaklike verhouding, die ma-dogter een. Die ideaal, wat in ou bloemlesings en vele mense se Facebook-plasings leef, is wonderskoon: onvoorwaardelike liefde en aanvaarding vir ewig. Maar almal van ons het dit nie so getref nie. Soms is dit iets om van te genees, soos ’n wond, om lewenslank van weg te beur net om later, wanneer die moeder se wêreld klein geword het, die enigste oorblyfeling te wees wat staande is om liefde en energie uit te deel.

My dogter kom kuier. Ek was nooit ’n bloemlesing-ma nie, maar ons energie stroom gemaklik heen en weer. Sy gaan besoek haar vervreemde pa, oud en terminaal siek. In die bank, waar sy hom help om sy sake in orde te kry, handhaaf hy, halfdoof, ’n luide gesprek met haar. In die Duitse aksent wat nooit gewyk het nie: “I have a girlfriend. Maria. She’s nothing like your mother. She doesn’t read or write. We are only friends, really, we don’t have SEX!” Ons dogter wil immer cool wees, maar gee maar boedel oor en skree terug, gesellig. Hy skree verder: “All I ever wanted was a woman who is thin and rich. That’s all I ask. But then, what do I really have to offer?” By die kassier skree hy vir haar: “What did she say?”

Moeg strompel sy gisteraand hier in en ons lê en musiek luister op die mat. Nuwe en stokou songs, ons kies om die beurt. Ek speel “Fame” en wil nog verduidelik dat ná “I wanna live forever” waar hulle skree “re-mem-BUH” hoor ek van altyd af … “crinkle cut, crinkle cut! Ek hoor dit ook!” roep sy. My kind. Ons en Skat, die vet swart kat, is in die geel lamplig verlief op Bob Dylan.

0:00
/0:23

Vandag gaan besoek ons my ma, oud en brandmaer soos my kind se pa, maar darem nie doof nie. Ons sit in die tehuis se tuin, in die yl sonnetjie tussen bejaardes met reguit grys hare in rystoele. Iemand het ’n papegaai nagelaat wat verwese kloek en krys in sy hok.

Ons het wegneemetes saamgebring: drie salmon poke bowls. “Poke” noem ek dit, soos in rondsteek, maar die kind help my beleefd reg: Pokee. Sy probeer om haar ouma terug op die internet te kry. Haar tablet is op flight mode: “Ouma, die vliegtuigie moenie daar wees nie.” Dan op die banktoepassing. Die app moet opgedateer word. Dit doen sy. “Wat is Ouma se wagwoord?” Sy weet nie meer nie en haar swart boekie verklap niks. “Sam moet my maar help. Hy is ’n boffin.” Ons laat dit daar.

Die winterson val blink op 'n hoekie van Hartbeespoortdam. Sy loop saam met ons tot by die motor, met die hulp van een kruk. Die hek het toegegaan. Sy sukkel aan tot by die tuinman op die sypaadjie. Ons staan en wag tot hy saam met haar terug hek toe stap: “Hy het ’n remote!” roep sy.

Ouma lyk beter as laas keer, maar haar vlammetjie brand laer, reken my kind.

Dis winter in Gauteng. Hoeveel jaar sal ons nog die rondte doen om bejaarde, vereensaamde ouers te besoek? ’n Mens voel opeens so jonk, so vry, wanneer jy wegry en die krom figuurtjie klein word in die truspieël. Antjie Krog skryf oor ’n besoek aan haar ma: “’n Mengsel van verdriet en teerheid, ’n gevoel van verlies en oneer, vul my. Ek raak haar saggies aan – die grondvester van my alfabet – geen 'Ruhe' meer vir ons in hierdie verweerde reste van witheid nie.”

When your rooster crows at the break of dawn
look out your window and I’ll be gone
You’re the reason I’m a travelling on.

Don’t think twice, it’s all right.


Mamma

mamma is nie meer 'n mens nie
net 'n 'n
sy trek aan
sy gaan na die haarkapper
sy loop op die strate
haar voete haak vas
sy spreek die psigiater
nes 'n gewone mens

en fluister woorde
mon cheri
dit het geen klank nie
dis die wit
gefluister van 'n spook
dit het g’n kleur nie
en dit hardloop
dit giggel uit hysbakke
dit loer deur brilglase
dit wonder agterbaks
dit is ontwapen
dit is naak soos 'n african
dit wil glo in die mens
wat nog te sê van 'n god

Ingrid Jonker

Uit: Kantelson


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe