Moenie bateties wees nie

Liewe vriende
Verstrooide gedagtes op 'n Vrydagoggend: Ja, dit was Vrydag toe ek hierdie sit en skryf. Daar is 'n yl wind wat waai. Hoë golwe kan skeepvaart bemoeilik. Verseker (die maatskappy) waarsku teen 'n haelstorm in my omgewing. Jemina Chabeli laat weet dit snoei in Rosendal. Paaie het verspoel en mense is haweloos. Die Swartbergpas is gesluit.
Die Hanta-virus verskrik wêreldwyd: 'n Hand vol gruis uit die Hantam. My Hantamwind, my optelkind. Ek kan nie die beeldmateriaal in die TV-nuus hanteer nie, daarom kyk ek maar soggens op Facebook na Izak du Plessis se plegtige gesig terwyl hy die nuus lees. Dit voel soos 1980 met Nic Swanepoel agter die mikrofoon. Elders mooiweer en warm.

Daar is 'n woord, "batos". Of liewer, daar is 'n woord in Engels, "bathos". Bathos versus pathos. Bathos is a literary term for a sudden, often humorous descent from a serious, elevated, or emotional subject to a trivial, ordinary, or absurd one (anticlimax). Coined by Alexander Pope, it refers to a "sinking" in style or tone, often unintended, which results in unintentional comedy or melodrama. Synonyms include anticlimax, comedown, flatness, triteness, and sentimentality.
Ek lees dikwels batos raak in mense se kommentare op sosiale media. Wat gemeen en kwetsend moes wees, word dikwels so simpel uitgedruk dat dit snaaks is. 'n Voorbeeld uit die ware lewe:
Mense. Julle klomp tewe kom met 'n LBTQ kak aanslag. Jy wou seker 'n stingel gehad het nu sit en pipi jy.
Wat bedoel was om instemmende reaksie uit te lok, beleef 'n insinking tot belaglikheid. My stingel bewe – van die lag. Soos Jeanne Goosen gesê het: Dit laat nie my beenhare tril nie.

Op 'n straathoek naby ons sit 'n man dag in en dag uit met 'n handgeskrewe plakkaat: CAN YOU HELP ME. I HAVE A STROKE.
Die dinge wat ek raaklees: "Katotterknop" beteken, teleurstellend, "kniekop". Ek lees in 'n roman deur 'n swart outeur dat wit mense nooit seep gebruik wanneer hulle stort nie. Hulle staan slegs onder die water. Dit weet sy uit rolprente. Hmmm? Natuurlik is 'n insepery minder filmies en sexy as toe-oog terugstaan en baai in die streling van warm waterdruppels.
Ek het op my selfoon 'n spul ou notas wat ek gemaak het om my te herinner aan dinge wat my opgeval het. Hulle herinner my aan niks. Buite konteks maak hulle min sin en lees soos 'n dadaïstiese gedig:
Sonntag on language
Fizzers freezers freezes
Strangled by freshly unburied memories
Penis-fencing flatworm
Hoe om gedagtes hok te slaan
Vlad. Huise. Skrywers. Lewe
Is dit jy? Swyg
Loitering with intent
Ek het nie 'n hand nie
Groenvlerkduif my ma is dood my pa is dood ek is alleen
Kiewiet jirrrrrre maar dis koud
Laat my langs die heidene wandel
Djinn-oë my ma
nombrilisme = naval gazing
wie het my morele kompas gesteel?
The life you wanted
It's the hope that kills you
Voëlgriep in melkkoeie
Chaos binne my oordonder
Everybody is a murderer you just have to meet the right person
Gaste in pajamas vlug voor vlamme
Hialuroon anti-plooi duo
Ook beskikbaar in 'n smaaklike stroop vir kinders
Wydverspreide ryp
Plaas van passie
Kwantumhare. Weg is nie meer wat dit was nie
Blou sterre skyn helderder as rooies
No face detected
Fuckshow, fluitjieblaser, gewete
Liefde vir armes, tango en sokker
Hoe weeg jy 'n lewe? Voëls red
Hoekom sing niemand in die bad nie?
Engele wil morsig verlief raak
Moenie jou ore uitleen aan sprokies nie
Lustlessness
Wat maak jou bang?
Nou gaan ek hulle uitwis, soos die spul foto's in my galery.
As jy, soos ek, 'n logofiel is – iemand wat woorde liefhet – lees En nog WAT, 'n keur uit woordeboekmaker Jana Luther se rubrieke oor taal. Dis suiwer vreugde:
"Van 'n mens wat prikkelbaar, fyngevoelig, skrikkerig is, sê die Vrystaters: Sy/haar murf is dun. As jou murf dun is, is jy iewerig. Iemand wat kenta is, is jaloers. As jy jou eiendom, soos skoene of klere, verniel, is jy 'n rinnewiet."
Die batetiese stingel-pipi-kommentaar wil my Kolossense 4:6 laat aanhaal: Laat julle woorde altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.
Of soos ons nuwe ambassadeur in die VSA, 'n man wat die wêreld plat reis om te bemiddel en vrede te bewerkstellig, verduidelik: "As jy van 'n mens of 'n groep mense praat, moet jy dit só doen dat dit hulle nie sou kwets of seermaak as hulle teenwoordig was nie." Moenie 'n rinnewiet wees nie, mense se murwe is dun.

Laat jou woorde sag wees en besprinkel met sout, want straks moet jy hulle eet.
En moet nooit kommentare op sosiale media lees nie, dis rioolwater wat om 'n drein sirkel, dit tregter jou in en versmoor jou siel.
Liefde
Deborah

